Gewapende rowers slaan tweede keer op tehuis toe Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 27 February 2014 23:19
Untitled Document

Die Paul Jungnickelhuis vir gestremdes in Zwavelpoort is op Donderdag 13 Februarie deur vier gewapende mans beroof. Dit was die tweede rooftog wat binne ‘n maand (vermoedelik deur dieselfde vier rowers) uitgevoer is.

Die rowers het dié Donderdag, ondanks verskerpte veiligheidsmaatreëls, by die tehuis ingebars. Hulle het kantoorpersoneel met ‘n vuurwapen aangehou en beveel om by ‘n vertrek in te gaan en daar te bly.

Die boewe het duidelik presies geweet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Hulle het Joan Viljoen, jarelange administratiewe beampte van die tehuis, hardhandig rondgeruk en haar beveel om die sleutels van die kluis te kry en die kluis oop te sluit.

Intussen het ‘n ander personeellid die polisie gebel. Thea de Bruyn, direkteur van die Kungwini Welsynorganisasie waarvan die tehuis deel vorm, het Mike Strange van MZT Gemeenskap-plotwag gebel.


Inwoners van die Paul Jungnickelhuis vir gestremdes voor die gebou

Mike was by die krieket in Centurion toe hy die oproep kry. Hy het MZT se kommunikasiebestuurder gebel en die opdrag gegee dat ‘n radio-noodroep na lede van die plotwag gestuur moes word.

MZT se mense en die Polisie was gou op die toneel, maar die rowers het toe reeds ontvlug.

Die rowers het met ‘n wit BMW gery. Dit blyk, volgens die registrasienommer van die BMW, dat die voertuig se eienaar in Silver Lakes woon. Die motor is egter vermoedelik gesteel, of die registrasienommer is vervals.

Dit is nie bekend hoeveel geld uit die kluis geroof is nie. Volgens ‘n personeellid kan dit nie ‘n ‘reuse bedrag’ wees nie.

Dit word vermoed dat die rowers hulle inligting by ‘n ‘nuwe’ personeellid van die tehuis gekry het. Dit was opvallend dat hy nie met een van die twee rooftogte op sy pos was nie.

Teen druktyd was niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger