Vrouekrag is '‘n ding PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 27 February 2014 21:14
Untitled Document

Dinge om te doen: Dit is weer Februarie en tyd vir die Bronnie se heel gewildste en grootste uitgawe van die jaar.

In jou, gewaardeerde leser, se hand, is ‘n tydskrif wat bloedsweet kos vir die beperkte ‘mannekrag’ wat dit moet persklaar kry. En ons sit ‘mannekrag’ in aanhalingstekens, want hier het ons grootliks met ‘vrouekrag’ te doen.

Februarie was voor die jaar 2008 dié maand van die jaar wat Die Bronberger moeite ervaar het om haalbare advertensieruimte verkoop te kry.

In hierdie nájaarse ‘komkommertyd’ herstel mense tradisioneel nog van die oordadige uitgawes wat die feesseisoen met hom saambring. Dit is daarom te verstane dat advertensie-uitgawes besnoei sal word.

Dit het die versiendheid van ‘n vrou, die Bronnie se eie Angie Kleijn, geverg om die kleinste uitgawe van die jaar in die grootste een om te skakel.

Angie het besef dat die talryke navrae wat ons (met dankbaarheid) kry van lesers wat wil weet waar en hoe hulle die kosbare vryetyd in die Bronberg-gebied kan geniet, ‘n geleentheid blootstel wat tot voordeel van ons adverteerders en ons lesers kan werk. En die dinge-om-te-doen-uitgawe het gestalte gekry.

Die reaksie het ons spreekwoordelike stoutste verwagtinge oortref. Adverteerders met ‘n goeie bemarkingsin het die geleentheid aangegryp en lesers se reaksie was oorweldigend. Skielik was daar ‘n gids vir vryetydsbesteding in ons kontrei. ‘n Bêreboek is gebore wat oor ‘n lang tydperk geraadpleeg word en ook vir adverteerders wat nie van die tema deel vorm nie, waardevolle blootstelling gee.

Op die Bronnie se webwerf, wat onlangs die miljoen trefslae verbygesteek het en deesdae klokslag goed meer as ‘n duisend besoeke per dag kry, is dié tema-artikel by verre die gewildste onder lesers.

Soos met voriges sal hierdie uitgawe in lesershuise bewaar word en telkens geraadpleeg word as ‘n besluit geneem word oor wat daar in die gebied te doene is.

Om dié lywige Bronnie in die kortste maand van die jaar ‘gedoen’ te kry, verg vaardige vrouekrag en baie ekstra ure se toegewydheid van veral Angie. Sy verdien ‘n dankie, soos ook ons advertensiemens, Tania, uitlegmens, Jeanette en verteenwoordiger, Elsabe, dit verdien.

Hierdie is die ‘grootste’ Bronnie wat tot nog toe die lig gesien het. En dit is uiteindelik net moontlik gemaak deur die vertroue van ons lesers en adverteerders. Vir julle dan ook – baie dankie.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online