Perde verklap geheime oor mense se leierskapstyl PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 18 August 2008 04:52
Untitled Document

Die manier waarop ’n perd op jou reageer, kan kenners presies wys wie jy is. Perde is eerlik en dit maak hulle belangrike boodskappers. Terapeute sê dat jou interaksie met perde reflekteer hoe jy op spesifieke situasies in jou daaglikse lewe reageer.

Die Bronberg-gebied is perdewêreld. Uithouritte, plesierritte, spring-kompetisies en gymkhanas is alledaagse gebeurtenisse in ons kontrei. Bronbergers ken perde, maar besef dalk nie altyd wat ’n perd se reaksie alles oor die mens verklap nie.


Perde kan duidelik vertel hoe personeel in die werkplek gaan optree
Foto’s: Midwest Country Clinic

Sulke geheime word deesdae uitgelap deur ’n nuwe leermetode wat alles met perde te doen het, maar waarvoor geen ondervinding met perde nodig is nie. Daar is geen perdry betrokke nie en ’n mens hoef niks van perde af te weet om baat te vind by dié interaktiewe leermetode nie.

Leierskap
Bedryfsielkundiges en leierskapnavorsers gebruik perde om vir hulle te vertel hoe personeel in die werkplek gaan optree. Dié metode, bekend as perd-geassisteerde leermetode (equine assisted learning), word as ’n nuwe leierskapsveld beskou waarin eksperimentele aktiwiteite met perde gebruik word om deelnemers te leer hoe om hul gedrag, gevoelens en gewoontes te prosesseer.

Dié leermetode help mense om grense daar te stel en daarby te hou, om aggressie te hanteer, nieverbale kommunikasie te verbeter, probleem- en konflikoplossing te ontwikkel en leierskapsvaardighede te kweek.

Perde is uiters intuïtief en fyn ingestel op enige teenstrydighede in hul omgewing. Hulle sal enige teenstrydige gedrag, waarvan die mens dalk nie bewus is nie, gou terug weerspieël.

’n Mens kry ’n goeie idee van jouself deur met perde te werk. Jy kom agter hoe ander jou sien, wat jou motiveer, jou aanpasbaarheid en buigsaamheid in veranderende omstandighede en jou vermoë om te lei.

Bestuur
Dié leermetode word wêreldwyd gebruik om bykans enige probleem te benader wat voorheen slegs deur tradisionele terapie behandel is. In ons land word die metode nou deur tersiêre instansies soos die Bestuursontwikkelingsafdeling van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, ondersoek.

Hulle het in middel-Augustus ’n tweedaagse eksperimentele inisiatief aan middelvlakbestuurders, persone wat bestuurspotensiaal het, of aan persone wat hul bestuursvaardighede verder wil ontwikkel, aangebied.

Deelnemers se emosionele intelligensie word vooraf getoets en dan weer na afloop van die program om veranderinge uit te wys wat uit die interaksie met perde voortgevloei het.


S leer deelnemers meer oor hulself

Naboots
Willemien Law, bemarkingshoof van dié bestuurskool, sê dat ’n bestuurder deur die program kan vasstel hoe sy leierskapstyl deur ander ervaar word. Van die beste natuurlike maniere om leierskap te toets is om te kyk hoe ’n perd teenoor ’n persoon reageer.

Leierskap kan nagevors, geëvalueer en gekategoriseer word, maar dit is uiteindelik die realiteit van die lewe wat ’n persoon ’n doeltreffende leier maak. Kontak met perde kan dié realiteit baie goed naboots.

Willemien sê dat deelnemers gou leer dat die uitoefening van mag nie ’n opsie is wanneer ’n mens met perde werk nie en dat ’n titel niks beteken nie. Leierskap kom net na vore deur die verwerwing van outoriteit, die toon van betroubaarheid en die verkryging van vertroue.

 

© 2019 Die/The Bronberger