’n Lankalse leemte gevul PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 27 January 2014 20:28
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Afsaalplekkie met die naam van ‘For the love of Food’ vul deesdae ‘n lankalse leemte by Olympus se Dischem-sentrum. Uiteindelik kan jy ruskans aan jou tamgestaande banktouvoete en lafenis aan jou droë inkopiekeel gee.

Jy kan by ‘n tafeltjie in die keurig uitgevatte binnewerke van die plek loop aansit of buite aan die punt van die sentrum se voetgangerpaadjie waar dit ampers die gevoel van ‘n straatkafee wil gee.


Die netjiese en vriendelike ontvangpunt by ‘For the love of Food’

Opvallend op die spyskaart is die verskeidenheid pasteie en die uiteenlopende en oorspronklike aard daarvan. Terloops, tensy jy geseënd is met super-visie, hou maar daai nommer een bril byderhand. Die skrif op die Ingelstalige spyskaart is piepklein.

Die plek se ontbytkeuse sien heel anders daaruit as dié van die meeste ander vroegaansitplekke in die omgewing. Jy kan eiers Benedict of eiers Florentine teen R43 bestel, of gerookte salm en roereiers op ‘n croissant, of ‘n croissant met vrugte, kouevleis en ‘Hollands Cheese’ teen R52.

‘For the Love of Food’ maak ook ‘n ontbyt ‘pastry’ met spek, kaas, sampioene en uie wat in balsamiese asyn en turksvystroop gekaramelliseer is. Saam met ‘n Griekse slaai kos dié ‘pastry’ R50.


n Billike beker heerlike koffie

Luister ‘n bietjie na die ander pasteikeuses: Hoender, groente (hulle noem dit Med Veg), eend en kersie, lam en gedroogde peer, tong en mosterd, peper biefstuk, biefstuk en niertjies, biefstuk en bier (ale), biefstuk en gerookte oesters, konyn (rabbit), vark en kersie. Die meeste kos saam met ‘n slaai R48. Jy kan ook jou pastei wegneem teen R23. Die bedeegde varknek (gerook) met brie, appelmoes, en die uie soos in die ontbytpastei, noem hulle ook ‘n ‘pastry’ en dit weeg in teen R57.

‘n Aantal interessante verbuigings van quiche en slaaie sorg vir die res van die spyskaart.

Ek is baie spyt ek het nie iets meer ‘buitengewoon’ gekies nie, maar ek is baie partydig vir ‘n lekker ‘steak-en-kidney-paai’ en dis toe wat ek bestel. Metgesel besluit op die eend met kersies en sy praat nou nog, ná amper ‘n maand, oor dié heerlike gedoente. Hulle gebruik swart kersies, glad nie soet nie, en sy sê sy sal elke dag só ‘n pasteitjie kan eet. Die pasteie is nie reusagtig groot nie, maar goed gevul in ‘n baie lekker degie en genoegsaam vir ‘n effe-honger mens.


‘n Amperse straatkafee-gevoel

Daar is seker mense wat ‘n kurkdroë, uitgemergelde ‘steak-en-kidney’ sou verkies, maar ek is nie een van hulle nie. Halfpad deur die gewurg het iemand ‘n sousie aangebring en het dit effe beter gegaan, maar vir my het die sous nie by die pastei gepas nie, en was die pastei ook nie regtig die sous werd nie. Ware biefstuk en niertjie behoort langsaam in sy sousigheid gaargedoen te word en met daai einste aangedikte sousie toegedeeg te word. Volgende keer is dit die tong en mosterd vir my.

Die mense van ‘For the love of Food’ is vriendelik, die diens is flink, die koffie voortreflik, die atmosfeer is ontspanne en duidelik is die sjef vindingryk.

Jy kan hulle bel by 012-991-3686.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online