Huil hierdie boom regtig of
kry hy sy naam omdat hy
jou laat huil? Kan dit wees
dat die doepas wat van sy wortels,
bas en blare gemaak word, genoeg
skop het om trane in jou oë te
bring?
Daar’s mense wat sê hy word ’n
huilboom genoem omdat sy hout
so duursaam is dat gereedskaphandvatsels
wat daarvan gemaak
is, aanhou werk tot die byle huil.
Met die draai van die vorige eeu is
sy hout gebruik om riempiesbanke
en –stoele te maak wat vandag
nog hou.
Die huilboom word tot 15 meter hoog
Foto: Palmbob
Die ware rede agter dié boom se
naam het egter iets met insekte te
doen. Sekere tye van die jaar sit
hordes sapsuigende insekte, bekend
as skuimbesies, op die boom
se takke. Hulle skei ’n soort skuim
af wat lyk soos water wat aanhoudend
op die grond drup. Dit lyk
dan of die boom huil.
Daar kom ’n verskeidenheid insekte
op dié boom voor en skoenlappers,
soos die genera Charaxes en
Axioceres, broei in die huilboom.
As goeie bron van nektar is hy ’n
waardevolle boom vir byeboere.
Vee en wild vreet graag die jong
blare en peule.
Doepa
Tog is dit mense
wat tradisioneel
die beste nut uit
dié boom put.
Verpoeierde huilboom-
wortels
word op wonde gesmeer om genesing
aan te help. Die bas word
gekou om koliek te verlig en ’n
aftreksel word van die wortels
gemaak om maagongesteldhede
te behandel en ontslae
te raak van parasiete in die
binnegoed. ’n Afkooksel van
die bas en blare help blykbaar
ook daarvoor.
Die stoom van dié warm afkooksel
word gebruik om seer oë te behandel
en in ernstige gevalle as
oogdruppels.
’n Brousel gemaak van verpoeierde
stam- en wortelbas word geneem
vir diarree en disenterie. Brousels
van die wortel kan gedrink of mee
gegorrel word vir sere in die keel.
Peule
Die stoom van blare wat kook help
blykbaar vir tandpyn. Volgens tradisionele
resepte help die wortels
ook om hoes en tuberkulose te behandel.
Die wortels word in water
geweek en liggies verhit. ’n Koppievol
van die afkooksel moet elke
uur vir ’n dag lank gedrink word.
Blykbaar help die bas ook om
lewerprobleme te behandel. Die
bas word gekook en die afkooksel
gedrink. Dit veroorsaak braking
wat volgens orlewering die lewer
skoonmaak en pyn verlig.
Kweek
Die huilboom, Peltophorun africanum,
is ’n semi-bladwisselende
boom wat tot 15 meter hoog
word. In ouer bome is die boombas
gegroef en grys-bruin. Die bas
van jonger takke is glad en grys.
Die blare is silwer-grys en bedek
met fyn haartjies.
Die boom spog met helder geel
blomme van September tot April.
Die blomme word gevolg deur
trosse plat, dun peule van
Desember tot Mei.
Helder geel blomme en veeragtige blare
Foto: Top Tropicals
Om dié boom te kweek moet vars
sade oornag in warm water geweek
word. Saai in ’n 5:1 mengsel
riviersand en kompos. Die boom
groei die beste in goed gedreineerde
grond. Hy groei vinnig en is
droogte-bestand. Jong bome is
vir die eerste drie jaar sensitief vir
ryp. |