Hy hou glo bose geeste weg Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 January 2014 22:14
Untitled Document

As jy hierdie boom se blare brand, sal bose geeste die hasepad kies. Dit is die bonatuurlike magte wat tradisioneel aan die witysterhout toegeskryf is. Die boom se verpoeierde wortels is ook vir griep en koliek gebruik.

Dié boom kry die ‘yster’ deel van sy naam van sy harde hout wat gebruik is om dakbalke, wawielspeke, handvatsels, meubels en ornamente te maak en draaiwerk te doen.

Die witysterhout is gewoonlik vyf meter hoog, maar kan tot 20 meter hoog word in ‘n woud
Foto: Klair
Die boom dra klein groenerige geel blommetjies
Foto: Alice Notten

.

Familie
Die witysterhout, Vepris lanceolata, is familie van die boegoe (Agathosma spesies) wat in die Kaap voorkom en as medikasie vir die urienestelsel en wonde gebruik word. Hulle word ook gebruik om boegoebrandewyn te maak. Die Hollanders het dit van die San of die Khoi leer ken en boegoe-middels was in die VOC se tyd al in Europa bekend, waar dit so duur was dat net ryk mense dit kon gebruik.

Die generiese naam ‘Vepris’ kom van die Latynse woord ‘vepres’ wat ‘braambos’ beteken. Die woord ‘lanceolata’ verwys na die vorm van die dun blare. Dié haarlose blare is helder groen en ritsel in die geringste briesie. Hulle ruik na suurlemoen as hulle gekneus word.


Die blare ruik na suurlemoen as hulle gekneus word
Foto: Klair

Hoog
Die witysterhout is gewoonlik vyf meter hoog, maar kan tot 20 meter hoog word in ‘n woud. Die klein stervormige blommetjies is ‘n groenerige geel kleur en die boom blom van Desember tot Maart. Manlike en vroulike blomme word aan verskillende bome gedra.

Die vrugte word van Mei tot Julie gedra en word swart as hulle ryp is. Dié vruggies het dieselfde suurlemoenagtige reuk as die blare. Die boom lok verskeie vrugtevretende voëls, bye, skoenlappers en ander insekte. Ystervarke vreet die boom se bas en as hulle reg rondom die stam vreet, sal die boom uiteindelik doodgaan.


Die vrugte word swart as hulle ryp word
Foto: Klair
Die witysterhout se bas
Foto: Klair

Groei
Die witysterhout is ideaal vir ‘n klein tuintjie omdat hy nie ‘n baie aggressiewe wortelstelsel het nie. Dit is maklik om hom van saad te groei en die jong boompies plant goed oor. Maak ‘n groot gat in goed gedreineerde grond en gebruik baie kompos. Gee gereeld water vir die eerste jaar of twee.

Dié boom groei relatief vinnig, kan in verskillende vorms gesnoei word, in potte geplant word en is heel gelukkig om onder ander bome se blaredak te groei. Hy kan ‘n sekere hoeveelheid ryp hanteer en kan droogte oorleef, alhoewel hy nie in droë gebiede floreer nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger