Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 18 August 2008 06:24
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hy geniet, of dalk nie geniet nie

’n Mens kry my mos nie maklik in ’n ‘mol’ nie. Maar gelukkig sit Ed’s Diner heel aan die buitekant van die een wat hulle Woodlands roep - glad nie nodig om die winkelsentrum binne te waag nie. Lankal, toe Ed’s Diner nog sy staanplek in Hatfield gehad het, was hy al bekend vir sy hamburgers. Party dinge verander ook nooit nie.

Dis ’n lekker sonnige Sondaglaatoggend toe ons plaasneem op Ed’s se buitedek. Van hier af kan jy lekker onder ’n sonsambreel sit en kyk na die “passing parade” wat by die mol se deure in en uit beweeg. Jy kan ook binne by die kroeg, net bier en wyn, die diner-restaurant of in die gemaklike sigaar-vertrek nes skop, sou jy wou.


Ed?s Diner is aan die buitekant van Woodlands Boulevard

Vroegoggend se koffie en beskuit het lankal sy loop geneem en ons is lekker honger. Net die tyd vir ’n lekker “brunch,” dink ek. En gemeet aan die spyskaart, net die plek ook. Ek oorweeg een van die hele rits ontbytkeuses of dalk ’n omelet.

’n Hele internasionale gedoente, dié spyskaart van Ed’s Diner. Jy kan Engelse, Amerikaanse, Franse of selfs Portugese ontbyte bestel. Daar is ’n keuse van pizzas en pastas, ligte etes, ‘wraps’, platters, waaronder ’n Boere-platter tel, ’n verskeidenheid ‘grills’ vir die vleislustiges, seekos en nog wat. Jy kan dit maar ’n uitgebreide spyskaart noem.

Maar Ed’s is bekend vir sy burgers en op die spyskaart brêg hy ook daarmee. Later sou ek uitvind, hy mag maar. ’n Hele 23 variasies van dié Amerikaanse stapelvoedsel om van te kies. Die standaard burger spog met ’n frikkadel (pattie) van 250 gram. Teen net R10 ekstra kan jy jou broodjie met 500 gram s’n laai. Of jy kan enige hoeveelheid klein burgertjies wat hulle Mob (mighty one bite) roep, bestel.

Ek besluit op een van 250 gram wat hulle ‘5 in 1’ noem. Dis een met eier, spek, sampioene en ’n kaassous by. Net reg vir ’n brunch. Metgesel dag sy sal iets ‘ligters’ eet en besluit op die hoender schnitzel. Later sou sy haar flater agterkom, want daardie schnitzel was alles behalwe lig.

Ons het lekker gelag vir die wyse mededeling op die spyskaart wat sê: “Waiter comes to those who wait.” Maar ons het nie gewag nie en die diens was deurgaans flink en vriendelik.


Die burger is ruim en smaaklik

By Ed’s kan jy die gaarheidsgraad van jou burgerfrikkadel kies. Vir my is dit ’n duidelike bewys dat hulle selfvertroue in hulle produk het, want niks smaak aardiger as ’n halfgaar of ampergaar winkelburger nie. Die halfgaar frikkadel is vlesig, geurig, nie met bindmiddels en aandiksels besoedel nie, en het ’n heerlike vlambraaismaak.

Ek was honger, soos ek gesê het, maar as die gereg nie so smaaklik was nie, sou ek hom sweerlik nie baasgeraak het nie. Die broodjie was vars en lekker, soos die slaai wat ek saam geniet het. Dit kos R75 en is die duurste van die 23 op die spyskaart. Metgesel se twee billike stukke schnitzel is onder ’n mozzarella en sampioensousie.

Sy het aartappel“wedges” daarmee saam geniet. Dis volgens haar onverbeterlik, maar selfs vir’n honger Metgesel, amper te veel. Dit kos R60. Ed’s Diner by Woodlands se mol, was ’n aangename verrassing.

 

© 2024 Die/The Bronberger