Geen verbykomkans op Ou Bronkie-pad Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 January 2014 22:11
Untitled Document

Motoriste kla dat daar bykans geen kans is om by swaar voertuie op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) verby te kom nie.

Die blydskap was groot toe dié pad verlede jaar oorgebou is en daar is gehoop dat die R104 maklike verkeersvloei tot gevolg sal hê. Ná die padstrepe aangebring is, het verkeersopeenhoping agter swaar voertuie ‘n groter probleem geword.

Volgens raadslid Danie Erasmus is seker nie meer as 500 meter beskikbaar waar verkeer verbygesteek mag word tussen Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu of die M8) en die vierrigtingstop by die Cullinan/Raytonpad (R515) nie.


Daar is geen voorsiening vir stadigbewegende voertuie teen die lang opdraande by
Donkerhoek gemaak nie
Foto: Danie Erasmus

Hy sê dat swaar voertuie wat na en van die Donkerhoekse myn beweeg, die groot struikelblok is wat verstikking veroorsaak. “Die padadministrasie weet van die swaar voertuie wat op dié pad beweeg maar daar is geen verdubbeling teen die opdraande vanaf die Mamelodi-aansluiting tot by die afdraai na die myn voorsien nie.”

“Hierdie gedrag laat ‘n mens dink die padingenieurs aanvaar seker dat die myn gaan toemaak,” sê Danie. “Ek kan nie dink hoe tot ‘n ander gevolgtrekking gekom kan word nie.”

Die geleentheid om verby te gaan word aan bande gelê deur twee soliede lyne en ‘n stippellyn. Nou vat motoriste kanse wat tot botsings en lewensverlies ly.


Die dubbele sperstreep op die ou Bronkhorstspruitpad maak dat daar geen
verbykomkans by swaar voertuie is nie
Foto: Danie Erasmus

“Dit is teleurstellend dat waar die pad deur die Donkerhoek-pas gaan, die opdraande kant nie verdubbel is nie. Dit is tot groot ergernis van motoriste. Die dubbel sperstreep is aangebring by gedeeltes teen ‘n afdraande en waar aankomende verkeer duidelik sigbaar is. Dit is uiters frustrerend en motoriste kan nie kwalik geneem word as hulle die sperstrepe ignoreer nie,” sê Danie.

Hy kla ook daaroor dat die brug oor die Pienaarsrivier nie verbreed is nie. Die teerlaag is onstabiel en die slaggat op die brug veroorsaak gebuigde nawe tot groot uitgawe van die motoris.

Ten minste is die pad verdubbel waar Hans Strijdomrylaan die R104 kruis en is dit voor die oorbou van die pad begin is, voltooi.

 

© 2020 Die/The Bronberger