Cullinan-pad sloer kwaai PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 January 2014 22:10
Untitled Document

Bouwerk aan die westelike toegangspad tot Cullinan is steeds nie klaar nie.

Padwerke aan die 2,5 km van Zambeziweg-verlenging (Sefako Makgatho-rylaan of die K14), vanaf die Chris Hani-woonstelle tot in Cullinan, het op 11 Februarie verlede jaar begin. Die beplande voltooiingsdatum was 11 Oktober. Dié sperdatum is nie gemaak nie. Phakamile Ngqumshe, die toesighoudende ingenieur van die konsulterende ingenieursfirma, Jeffares & Green, het verlede jaar gesê dat die pad voor die einde van 2013 voltooi sou wees.

Die bestaande pad word met 2,4 m wyer gemaak en nuwe padteer (asfalt) word oorgesit. Die nuwe pad wat na die K-roete standaard opgegradeer word, sal twee 3,7 m wye bane hê met 0,6 m bedekte padskouers en 2,4 m onbedekte padskouers.


Padwerk wat in Oktober verlede jaar moes klaar wees, is nog nie voltooi nie

Raadslid Danie Erasmus sê dat die nuwe pad ‘n groot verbetering gaan bring, maar daar is geen voorsiening vir ‘n tweede baan berguit gemaak nie. Busse en koekepantrokke sal steeds teen ‘n slakkepas voortbeur om die opdraande uit te kom tot groot frustrasie van die ander motoriste.

“Wat beteken ‘n splinternuwe pad maar geen verbeterde gebruik daarvan nie,” vra hy.

Hy sê ook dat die toestand van die tydelike pad wat motoriste sedert Februarie moes gebruik, haglik is. “Padadministrasie het nie drie jaar gelede met die bou van die pad ‘n les geleer om tydelike paaie van ‘n dikker laag teer te voorsien nie. Binne twee dae was die tydelike pad vol slaggate en die teerlaag is tot niet,” sê Danie.

 

© 2019 Die/The Bronberger