Het jy gehoor? / Have you heard? - Jan2014 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 27 January 2014 20:07
Untitled Document

Het jy gehoor dat Bashewa en die aangrensende Rietfontein ná die munisipale verkiesing saam met Bapsfontein en Nestpark onder Ekurhuleni Munisipaliteit gaan val?

xxx

Buffel, die Jack Russeltjie van Mooiplaats wat in Mei verlede jaar die wêreld op hol gehad het toe hy die pad gevat het en deur Juanita Jamneck langs die Boschkop-pad opgetel is, het die nuwe jaar afgeskop deur weer die wandelpad te vat. Verlede jaar is die brakkie se eienaars met die hulp van die Bronnie opgespoor, maar Buffel het sy vel dik gehou oor die drama wat hy veroorsaak het en was op 3 Januarie vanjaar weer soek. Dit ten spyte van ekstra voorsorgmaatreëls wat sy eienaar, Elzabé Kok, getref het om die outjie se rondloopgier te troef. Die Bronnie is weer genader om dié buffeltjie te help opspoor. Gelukkig het iemand hom weer opgetel en dié keer by ‘n nabygeleë hondehotel gaan aflaai, waar Elzabé hom die volgende dag gekry het.

xxx

‘n Ou stadslegende loop deesdae weer dik in die Bronberg-gebied. Volgens dié bogstorie deel skurke sleutelhouers by vulstasies uit. In die sleutelhouers is glo ‘n opsporingstoestel, wat die boewe dan in staat stel om jou na jou huis te volg en jou te beroof of iets ergers aan te doen. Dié verdigsel het sy kop die eerste keer in 2008 al uitgesteek. Die Bronnie het dit selfs as ‘n ‘nuuswenk’ van ‘n welmenende leser ontvang.

xxx

Skokkende nuus vir markgangers is dat Klip Klap Antiek- en Kunsmark ná vyf en ‘n half jaar tot ‘n einde gekom het. Chris Stander sê dat die organiseerders, weens ander werksdruk en sake rondom die beskikbaarheid van die Olympus-plot waarop die mark gehou is, besluit het om nie in 2014 met die mark voort te gaan nie. Hulle laaste mark was die jaareindmark waaraan meer as 80 uitstallers deelgeneem het.

xxx

‘n Nuwe vlooimark word by die CasaLee in Donkerhoek beplan. Uitstallers wat belangstel kan Taryn by 082-799-2314 bel.

xxx

‘Rising Stars’ is the name of the art exhibition which celebrates the work of recent Fine Arts graduates from the art departments of the University of Pretoria, Tshwane University of Technology and Unisa. Anli Recker, Liberty Battson, Annique Bezuidenhout, Marinda Thomas and Bongani Dlamini are some of the artists who are fast establishing themselves as professionals. The exhibition is on until 22 February at Fried Contemporary in Brooklyn. For more information phone 012-346-0158 or send an e-mail to This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

xxx

Cullinan Bewarea bied op Saterdag 25 Januarie ‘n praatjie oor slange aan. Die spreker is Hencke Marais, bekende herpetoloog van Tshwane Natuurbewaring. Hencke neem ‘n verskeidenheid lewendige slange saam vir sy demonstrasie. Hy gaan ook vertel hoe om slangbyte en slanggif in die oë te behandel. Die praatjie begin om 9 vm by CasaLee Manor op die plaas Rietfontein in die Donkerhoek-omgewing. Ontbyt word bedien en die dag kos R100 per volwassene en R25 vir kinders. Bespreek teen 23 Januarie by Joan du Toit: 082-681-5122.

xxx

Vier Valentynsdag met ‘n romantiese rit op ’n dubbeldekker partytjiebus na die Bronberg-gebied oos van Pretoria. Die pret skop om 6 nm op 14 Februarie in Moreletapark af. Ná ‘n drankie en versnaperings vertrek die musiekbus uit met Garstfonteinweg-verlenging en mik vir ‘n Tierpoortse kuierplek waar lewendige dansmusiek en ‘n ete gevolg word deur staaltjies om die vuur wat deur ’n lekkerlag storieverteller ingelei gaan word. Die aand kos R200 per persoon en daar is kontantkroeë op die partytjiebus en by die kuierplekke. Gaste word versoek om in rooi aan te trek. Bespreek teen 7 Februarie by Johann Broodryk: 083-432-9052.

xxx

‘n Voertuig het op 9 Januarie telefoonpale langs die pad tussen die Ou Bronkhorstspruitpad en Rayton uit die aarde uit gery en veroorsaak dat die twee dorpies vir ‘n groot deel van die dag sonder landlyn- en rekenaarverbinding moes klaarkom.

xxx

Hoërskool Garsfontein is aangewys as die skool wie se matrieks verlede jaar die beste in Gauteng presteer het. Die top drie skole in Gauteng is almal in Pretoria – Hoërskole Garsfontein, Waterkloof en Menlopark. Dit is die 24ste jaar in ‘n ry dat Hoërskool Garsfontein ‘n 100% matriekslaagsyfer het. Uit hulle 376 matrikulante is daar 700 onderskeidings behaal.

xxx

Die Boskombuis naby Rayton vier hulle 16de verjaarsdag op 1 Februarie. Almal is welkom om hulle bielie van ‘n verjaarsdagpartytjie by te woon. Die dansmusiek word deur Christo H Bear gemaak en toegang is R30 per persoon. Bel vir Reneé by 083-485-2529.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online