Straatligte nooit '?afgeteken'? nie PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 12 December 2013 22:23
Untitled Document

Lynnwoodweg-verlenging se ‘nuwe’ straatligte brand na bykans ‘n jaar steeds dag en nag.
Raadslid vir wyk 101, André van der Walt, sê sy interne ondersoek wys dat die straatlig-projek nooit afgeteken is en aan die Tshwane metroraad se kontrakteur oorhandig is nie.

Hy sê dat hy op 10 Julie, ná vrae van Die Bronberger, vir die metroraad gevra het wat aangaan. Hy is laat weet dat hulle “die volgende oggend” op die saak sal ingaan.

Vir vier maande was daar stilswye. Op 18 November het André ‘n antwoord van die metroraad gekry wat hom ‘n verwysingsnommer vir sy klagte gee en sê dat ‘n regstelling so gou as moontlik gedoen sou word.

Teen Die Bronberger se spertyd het dié straatligte en ander in Hans Strijdomrylaan steeds dag en nag gebrand. André wil van die metroraad weet wie die mens of departement is wat verantwoordelik was vir die oorhandiging van die projek en hoekom dié oorhandiging nou nog nie plaasgevind het nie.


Lynnwoodweg-verlenging se straatligte bly dag en nag brand

“Niemand voel dit is nodig om die krag wat gemors word aan te spreek nie, dit te midde van al hoe minder dienslewering. Ek wil graag uitvind wie verantwoordelik is vir die vermorsing en gaan dit tot by die bron opvolg,” sê André.

Die Bronberger het in Julie vir die eerste keer oor dié straatligte berig. In Augustus het ons berig dat die ‘nuwe’ straatligte langs Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) ook onophoudelik brand.

Alle navrae per telefoon en e-pos van Die Bronberger oor die afgelope maande het geen antwoorde opgelewer nie.

Die saak is ook deur Mike Strange van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging via die ‘Mobilitate’ webtuiste, aan die Metro-munisipaliteit gerapporteer. Mobilitate bring die saak al vir maande lank een maal ‘n week onder die raad se aandag, maar geen antwoord het nog op dié navrae verskyn nie.

Die kleinhandelprys vir 140 straatligte wat elke dag vir 12 ure onnodig brand, sou ‘n vermorsing van bykans R1 miljoen (R965 790) per jaar beteken.

 

© 2019 Die/The Bronberger