Die Kersgeskenk PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 12 December 2013 22:13
Untitled Document

Dié aandoenlike Kersverhaal wat deur ‘n leser, Peter Thomas, vir die Bronnie geskryf is, is gegrond op ‘n werklike gebeurtenis

Peter Thomas

Dis die dag voor Kersfees. Ek en my wederhelf is op pad na die plaaslike ouetehuis. Sedert my pa, wat ‘n inwoner daar was, presies drie jaar gelede oorlede is, neem ons elke jaar Kersgeskenkies vir die inwoners.

Ons hou voor die gebou stil en elkeen haal ‘n groot sak vol geskenke uit die kattebak. Binne gekom, stap my vrou na die vrouevleuel en ek loop die blinkgepoleerde gang af na die mansafdeling.

By elke kamer gaan ek in en gee ‘n geskenkie af. Die inwoners is uitgehonger vir geselskap en dis eers laatoggend toe ek by die laaste kamer instap. Oom Nathan se kamer.

Oom Nathan en my pa was vriende en ek kuier altyd lekker by hom. Sy oë blink toe ek sy pakkie oorhandig.

“Ek hoop dis tjoklits,” sê hy terwyl hy dit vinnig in die laai van sy bedkassie wegbêre. Die ander inwoners mag nie weet dat hy tjoklits het nie.

Ek sit nog ‘n rukkie by hom en gesels. Eers gesels ons oor my pa en dan is hy weer op sy gunsteling onderwerp, sy wedervaringe in die Tweede Wêreldoorlog toe hy in Noord-Afrika diens gedoen het. Dan vertel hy weereens van sy verloofde, Beth, wat hom vir ‘n ander man gelos het terwyl hy in Noord-Afrika was. Hulle het albei in Londen gewoon en het ‘n maand voor die oorlog uitgebreek het, verloof geraak. Sy was ‘n winkelassistent en hy ‘n soldaat in die Britse weermag.


Peter Thomas

Kort daarna is hy opgeroep vir diens. Soos alle verliefdes, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. In die begin was daar gereeld briewe, maar toe tref ‘n ramp hom. Sy tenk word deur ‘n mortier getref en hy is met ernstige beserings na ‘n veldhospitaal afgevoer, en daarna na ‘n plaaslike hospitaal waar hy vir meer as drie maande aangesterk het.

Namate sy gesondheid verbeter het, het hy begin navraag doen oor enige pos van Beth. Die antwoord was altyd dieselfde, geen pos nie. Briewe wat hy geskryf het, was nooit beantwoord nie. Hy het toe maar aanvaar dat sy liewe Beth moed opgegee het nadat sy vir so lank nie van hom gehoor het nie.

Hy is later ontslaan en in Londen aangekom, was hy geskok om te sien dat die buurt waar Beth gewoon het verpletter was deur die Duitsers se bomaanvalle. Ook die winkel waar sy gewerk het, is heeltemal vernietig. Na maande se vrugtelose gesoek het hy aanvaar dat Beth moes omgekom het in die aanvalle wat Londen nag na nag geteister het. Kort daarná het hy na Suid-Afrika verhuis om ‘n nuwe lewe te begin.

Ons kuier lekker vir nog ‘n uur of so toe my vrou saggies aan die deur klop en aandui dat ons moet aanstaltes maak. Op pad huis toe gaan die gesprek oor Tannie Liz en Oom Nathan. Ons stem saam dat dit so tragies is dat die oorlog soveel mooi verhoudings tot niet laat gaan het.

Ek vra uit oor Tannie Liz se omstandighede. My vrou vertel dat sy in Londen gewoon het en pas verloof geraak het toe die oorlog uitbreek en dat haar verloofde, Jonathan, weg is Noord-Afrika toe. Hulle het aanvanklik gereeld aan mekaar geskryf maar toe word haar briewe nie meer beantwoord nie. Haar familie is in die bomaanvalle op Londen oorlede en sy het toe maar besluit om Suid-Afrika toe te verhuis.

Ek voel hoe kry ek hoendervleis en gaan parkeer in die eerste en beste parkeerplek.

“En nou,” vra my vrou, “is daar iets verkeerd?”

“Ek weet nie, maar sê nou net . . .” prewel ek.

“Hoe bedoel jy nou,” vra sy so half opgewonde. Sy kan sien dat iets my geweldig pla.

“Tant Liz en Oom Nathan, kan jy dit nie sien nie? Dink jy dit kan moontlik wees?” Ek is nou heel opgewonde, oortuig dat ek iets hier beet het.

“Hoe bedoel jy nou?” Sy snap nog nie wat ek probeer sê nie.

“Dink net, Jonathan en Nathan, Beth en Liz, verloof, oorlog,” rammel ek af.

Sy staar my met groot oë aan, “Dis ongelooflik, maar ek dink jy kan reg wees. Draai om, ons moet gaan seker maak.”

By die ouetehuis aangekom is ek dadelik na Oom Nathan toe en my vrou na Tannie Liz se kamer. Ons plan is om soveel moontlik van die twee se verloofdes uit te vind en dan ons bevindinge te vergelyk. ‘n Halfuur later is ons in die sitkamer met ons ‘bewyse’.

“Ek dink ons is reg.” My vrou is nou heel opgewonde. “Tannie Liz het haar verloofde Jonathan genoem!”
“En Oom Nathan het sy verloofde Beth genoem!” Ek kan my opgewondenheid nie beteuel nie.

“En hier is die finale bewys,” kom dit triomfantelik van my vrou, “Liz het vir my ‘n foto van Jonathan gegee.”

Met bewende hande vat ek die foto by haar, die foto van ‘n jong soldaat, onmiskenbaar Oom Nathan.
Ons kyk mekaar aan. “Weet jy wat dit beteken?”

Ek voel skoon aangedaan en die trane loop by my vrou se wange af. Sonder om verder te praat drafstap ons in die gang af na Oom Nathan se kamer.

“My maggies, is jy alweer hier, ou seun?” glimlag hy ons toe.

“Ja, Oom, kom saam, ek wil Oom aan iemand gaan voorstel.”

Ek help hom uit sy gemakstoel uit. Stadig beweeg ons in die gang af na die aangrensende vleuel van die tehuis. Ons sien Tannie Liz in die sitkamer in die sonnetjie op ‘n rusbank sit. Daar heers ‘n Kersatmosfeer.

Die vertrek is versier met die allermooiste versiersels en daar is ‘n groot Kersboom met liggies wat flikker in die een hoek. ‘n Groep dames is besig om ‘n groot tafel te dek en ‘n paar van die mans hang versiersels aan die mure.

Ons stap na haar toe. Sy kyk vraend op van haar hekelwerk.

“Kan ek Tannie aan iemand voorstel?”

“Graag, my kind,” sê sy, “en wie is die meneer?” Sy kyk vir Oom Nathan vraend aan. Dan verstar sy.

Dit lyk of sy ‘n spook gesien het.

“Jonathan?” kom dit huiwerig van haar.

“Beth?” antwoord hy, die ongeloof duidelik in sy stem.

Huiwerig gaan sit hy langs haar. Met ‘n bewerige hand streel hy oor haar wang en neem haar dan in sy arms. Sy snik saggies.

My wederhelf pluk aan my mou en dui aan dat ons moet spore maak. Net toe ons omdraai sê Tannie Liz met ‘n betraande gesig, “Dankie julle, vir die beste Kersgeskenk ooit.”

Presies ‘n week later is ons eregaste op die grootste troue wat nog by die ouetehuis plaasgevind het.

 

© 2019 Die/The Bronberger