Die heerlikheid van Kerskaartjies PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 12 December 2013 22:13
Untitled Document

Die gebruik om jaarliks Kerskaartjies met ‘slakpos’ aan familie en vriende te stuur, is geleidelik besig om uit te sterf. Riana Lombaard van Silver Lakes onthou die heerlikheid wat dié mooi gewoonte vir haar as kind ingehou het. Sy het ook ‘n Kerskaartjie vir haar kinders en kleinkind geskets wat sy hier met die Bronnie se lesers deel.

Riana Lombaard

Wat my in verwondering gehad het, was met hoeveel toewyding en amper militêre presisie elke jaar se Kersfeeskaartjielys opgestel en beplan is.

Dit was ‘n deurlopende, jaarlikse proses en die hele jaar het ons mekaar daaraan herinner dat ons nie hierdie of daardie moet vergeet nie. Dit was dus ‘n skreiende skande om ‘n kaartjie te ontvang en daar is nie ook een gestuur nie!

Die uitsoek en uitskryf van kaartjies was tydrowend maar iets wat ons as huisgesin saam gedoen het. My Ma kon in mooi netjiese drukskrif skryf en ons het met trots elke kaartjie gekontroleer. Eerste indrukke is mos blywend. Wat ook van uiterste belang was, is dat dit nie ‘n sommerso kaartjie kon wees nie. Dit was immers ook ‘n weerspieëling van goeie smaak . . .

Met die aanbreek van Desember het Kersfees al begin. Kaartjies is gestuur en ontvang. Dit was lekker om die pos uit die posbus (wat toe nog by die huis was) te haal en te sien wie ook aan ons gedink het.
Saans na ete is dit bekyk . . . en voorgelees. Die boodskap van Kersfees en goeie wense is met elke kaartjie oorgedra. Wat ‘n heerlikheid was dit nie!

Tot en met die Nuwejaar is die kaartjies dan oral in die huis staan gemaak. Op die kaggel, op die buffet, selfs tot in die vertoonkas – toe ‘n meubelstuk, wat in ieder en elk se huis te vinde was.

Kersfees het die familie op die plaas byeengekom. Geskenke is uitgedeel en dan was dit die
Kersfees-ete. My ouma was kort (daai tyd gesê – vier voet tien) en enigeen kon sommer sien, sy is iemand wat weet van lekker kosmaak! Haar ‘lyftaal’ het dit beaam . . . en die ete . . . was ‘n fees.

Kersfees met die klem op die fees, was elke jaar ‘n belewenis. ‘n Tyd wat begin het met die uitstuur en ontvang van kaartjies, tot Nuwejaar wanneer dit sorgvuldig saam met die vorige jare se kaartjies veilig in bewaring gebêre is.

Hierdie is ‘n besondere en kosbare tyd van die jaar. Slegs deur die genade van Bo kan ek ook herinneringe skep saam met my kinders en kleinkinders. Kaartjies is steeds vir my belangrik en ‘n spesiale manier om die boodskap van Kersfees oor te dra.

Hier is my kaartjie en boodskap vir Kersfees hierdie jaar aan my kinders en kleinseun.

 

© 2019 Die/The Bronberger