Willem Prinsloo se werf maak reg vir 'n plaasfees soos min PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 18 August 2008 03:46
Untitled Document

Dit is weer tyd vir groot feesvier en geesvang by Willem Prinsloo se geskiedkundige ou plaaswerf.
Elsabé Maré

Op Saterdag, 6 September trek die mense van vandag weer saam op die mense van gister en eergister se plaas tussen Rayton en Bronkhorstspruit. Dan word daar met oorgawe gedeel in tant Miertjie se erfenis as die Willem Prinsloo Landboumuseum sy jaarlikse Plaasfees opdis.


Die Stock-trekker is die oudste in die land en word spesiaal vir die Plaasfees uit die museum getrek om deel van die uitstalling te wees.

Die plaas is nagenoeg 20 km oos van Pretoria as jy met die N4-snelweg ry. Die ingang, waar ’n ou stoomtrekker wagstaan, is langs die ou Pretoria- Bronkhorstspruitpad. Hier wag die heerlikheid van die ou plaasopstal en -werf met sy masjienerie, plaasdiere en andertydse atmosfeer op die besoeker. Die Plaasfees wys jou nie net hoe daar destyds gelewe, geboer en makietie gehou is nie, dit laat jou meedoen in die lekkerte van toeka se plaaslewe.

Familie, vriende, kunstenaars, oud en jonk trek dan saam op die plaas van die destydse raakvat-boer, Willem (Wragtag) Prinsloo. Willem het in 1896 die noordelike deel van die plaas Elandsfontein van Roelof Minnaar teen £570 gekoop.


Die nuwe Massey Ferguson en die ou Vaaljapie ploeg saam-saam. Die museum het so pas die 200 000ste Vaaljapie wat gebou is van die Universiteit van Pretoria bekom, kompleet met sy ploeggies, nog met die oorspronklike verf.

Die agterkleinseuns van Roelof Minnaar, vertel hoe die plaas toentertyd opgemeet is. ’n Twee-uur-teperd- plaas was in daardie dae die norm. Die voornemende koper moes vooraf bepaal waar die vertrekpunt en middelpunt van die opmeting sou wees. Die koper en’n regeringsopmeter het dan die eerste baken by die vertrekpunt opgerig.

Te perd, vir een uur lank en teen ’n bestendige pas, het hulle in ’n oos-westelike rigting gery tot oor die voorafbepaalde middelpunt. Daar het hulle die tweede baken opgerig en dieselfde proses in die noord-suidelike rigting herhaal. En só het jou twee-uur-te-perd- plaas sy grense gekry.

Diamante
’n Entrepreneur met die naam van Thomas Major Cullinan het by Olifantsfontein ’n fortuin byeen gebring as ’n bouer wat sy eie stene vervaardig het. Cullinan se stokperdjie, om te prospekteer vir diamante, het hom na die noordwestelike deel van Elandsfontein gelok, ongeveer 40 km noordoos van Pretoria.

Willem Prinsloo het verseg om vir hom ’n opsie te gee om dié deel te koop of daarop te prospekteer. Willem het vroeër twee plase, een in Modderfontein, afgestaan nadat prospekteerders minerale daarop gekry het. Toe hy hom op Elandsfontein kom vestig was hy mooi keelvol vir trek en het hy verklaar:“As daar weer ’n prospekteerder naby my plaas kom, skiet ek vir hom “wragtag”. Vandaar sy bynaam, Willem Wragtag.


Thomas en Annie Cullinan en hulle kinders.
.
.

Fred Wells, die oppervlakbestuurder van die myn, wat die beroemde Cullinan Diamant van 3 601 karaat in 1905 nege meter af teen die klipperige kant van die oopgroefmyn ontdek het, staan by Willem Prinsloo op die plaas en nooi hom om na die Cullinan Diamant te kom kyk.

Tom Cullinan was egter nie ’n man wat maklik bes gegee het nie. Hy maak toe ’n plan en op ’n mooi dag vertel hy vir Willem dat een van sy trekosse na Willem se grond verdwaal het en dat die betrokke os die gevreesde en hoogs aansteeklike miltsiekte onder lede het.

’n Omgekrapte Willem vrees toe dat sy eie beeste sal aansteek en sê dat Tom die dier daar en dan moet doodskiet en begrawe. Onnodig om te sê dat die gat groot genoeg was vir ’n hele paar osse, en so het Tom toe onder die niksvermoedende neus van Willem Wragtag geprospekteer. Tom het reeds vermoed dat daar op ’n koppie’n ryk vulkaniese pyp kimberliet, die sogenaamde blou grond, vol diamante skuil.

Na die Tweede Vryheidsoorlog kon hy wel dié gedeelte van Elandspoort koop. Met sy bewyse dat die vulkaniese pyp bestaan, word die maatskappy as The Premier Syndicate Limited in November 1902 geregistreer. Kort daarna word dit The Premier (Transvaal) Diamond Mining Company Limited.

Vandag word die geskiedkundige plaaswerf, bekend as die Willem Prinsloo Landboumuseum, en die diamantmyn, bekend as Cullinan Diamond Mine (Pty) Limited, steeds bedryf, en as gerekende kultuurskatte deur menige entoesiastiese toeriste besoek.

Bewaar
Die landboumuseum het ontpop as opvoedkundige inrigting toe tant Miertjie, ’n kleindogter van Willem Prinsloo, die deel van die plaas waarop die ou opstal en buitegebou staan, vir die nageslag geskenk het.

Die gewilde opvoedkundige programme wat hier deur die museum vir skoliere aangebied word, lok skoolkinders wat weer hulle ouers en familie hiernatoe bring. Hier kan jy nog die bakkiespomp sien werk as die donkie, genaamd Marian, met groot humor vernoem na die kurator van die museum, haar langsame draaie maak. Jy kan ook die ganse en eende wat in die borrelende, skoon leivoor speel, voer, leer hoe om ’n regte riem te brei of hoe om die voorslag van ’n sweep met ’n knal te laat klap


Die leidam is so heerlik skoon dat die ngunibees sommer instap om water te drink.
.

Bekende kunstenaar van Rayton, Ernest Rood, het hier kom kamp en luister saans na die jakkals wat by die dam roep.

Op die plaasfees kan jy sien hoe ’n eertydse smidswinkel werk en hoe vetkerse gemaak word. Jy kan brood uit ’n buite-oond, of pap-enkaiings beproef. Sou jy wou, kan jy dit selfs met perskemampoer uit die plaas se eie stook-ketel afspoel.

By Tant Miertjie se Kombuis, die restaurant wat sewe dae per week oop is, kan jy tradisionele potjiekos bestel, of tuisgemaakte ‘konserf’ en gebak vir die spensrak aanskaf. Jy kan met ‘Friends of the Rail’ se stoomtrein van Capitalpark af na Raytonstasie toe en dan per bus tot by Willem Prinsloo se plaas ry.

En van vervoer gepraat, die museum spog met die grootste versameling perd- muil- donkie-, osen selfs bokgedrewe rytuie in die suidelike halfrond. Koetse en perdekarre van beroemdes en berugtes uit vervloë se dae word hier bewaar.


Piekniek onder die bome is baie gewild. Hier vier die familie en vriende van die tweejarige Sheldon Victor sy verjaarsdag.

Almal het ten doel om die kultuurskatte van die land in werking en behoue te laat bly. Daarom is die museum ook die standplaas van die Hoëveld Veteraan Trekker en Enjin-klub wat vanaf 1992 bestaan en lede van Ermelo, Warmbad, Standerton en selfs Malelane insluit.

Die span geesdriftige manne het met die sogenaamde ‘start-up’ dae daarin geslaag om van die museum se masjiene, enjins en trekkers weer aan die loop te kry. By geleenthede soos die plaas- en mampoerfees kan jy sien hoe die Farmall M trekker of die McLaren stoomtrekker, wat nou deur Friends of the Rail gerestoureer word, Jannie Smuts se dorsmasjien aandryf en deur die klublede gevoer word.

Ploeg
Eienaars en geesdriftiges bring hulle enjins, wat byvoorbeeld ’n waterpomp laat loop, hul ploeg-, plant- en oestoerusting en hou plegtig ’n ploegsessie. By so ’n ploegsessie het Morné Groenewald, wat in Pretoria bly, en sy trekker, ’n Massey Ferguson 35X wat op sy erf staan, hier kom leer hoe om daardie draai onder in die land te vat.

Kom kyk hoe Sagrys Celliers sy skape skeer - hy bring al die toerusting wat benodig word vir so ’n demonstrasie.

Op die Plaasfees kuier almal by die vlooistalletjies, wat alles en nog wat verkoop, of benut die heerlike piekniekgeriewe, maar jy kan ook met die trekker en sleepwa ry om by al die besienswaardighede uit te kom.

Almal wat wil deelneem, uitstal, demonstreer of goedere verkoop kan die museum skakel vir inligting. Bel vir Lettie by 012-736-2035/6, Petrus by 082-906-1972 of Peter by 072-404-1848. Toegang is R15 vir volwassenes en R5 vir kinders. Alle inkomste word gebruik om toerusting in stand te hou. Die fees is van 9 vm tot 5 nm.


Ou, onherstelbare trekkers is op die plaaswerf gelos vir die kinders om op te klouter.

Die kindertjies staar in verwondering as Joseph Mthimunye sy sweep klap vir hul plesier.
 

© 2019 Die/The Bronberger