Vonke spat oor fietsryers op Boschkop-pad Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 17 November 2013 21:17
Untitled Document

Motoriste en fietsryers wat die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging in oggend-spitsverkeer deel, is woedend vir mekaar. Die groepe beskuldig mekaar van onbedagsaamheid en onverdraagsaamheid. In die proses word wraak gesweer en fietsryers en motoriste vrees dat ongelukke onvermydelik is.

Ontstoke motoriste het by die Boschkopse Polisiestasie om hulp gaan aanklop. Hulle kla dat fietsryers van die Velo Fietsryklub op Donderdagoggende ‘n hele baan oorneem deur in ‘n bondel te ry, en ongelukke gaan veroorsaak omdat hulle nie by stopstrate of verkeersligte stilhou nie.

Die fietsryers sê dat hulle volgens wet die reg het om saam met die verkeer op die teergedeelte van die pad te ry. Hulle sê dat motoriste bereid is om geduldig te wag om ‘n stadig bewegende voertuig verby te gaan, maar nie dieselfde geduld teenoor fietsryers het nie.


Fietsryers van die Velo-klub wat op die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging ry

Reëls
Volgens die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 mag fietsryers op enige pad, behalwe ‘n snelweg, ry. As ‘n openbare pad ‘n baan vir fietse het, moet hulle daarop ry.

Hulle moet in enkelgelid ry en mag nie aspris heen en weer swenk nie. Hulle moet altyd ‘n valhelm dra, mag nie aan ander voertuie vashou nie en mag nie ‘n persoon of ‘n objek vervoer wat hulle verhoed om te sien waarheen hulle gaan of wat hulle beheer oor die fiets sal laat verloor nie.

Fietsryers moet alle padreëls gehoorsaam, wat beteken dat hulle by rooi verkeersligte en stopstrate moet stilhou.

Spitstyd
Trix van den Berg, ‘n gereelde gebruiker van die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging, vra hoekom die Velo-klub in spitstyd op die paaie ry. “Almal wil by die werk of skole kom. Hulle ry party oggende sommer ses langs mekaar. Geen mens kan hulle verby vat nie. Dan praat ek nie eers oor die voertuig wat saam met hulle ry nie,” sê sy.

“Ek dink ons almal moet begin toet as ons by hulle verby ry. As almal dit doen gaan hulle dalk besluit om op 'n ander plek te gaan ry. Dit kan nie so aangaan nie, een van hulle gaan seerkry,” sê Trix.

Juanita Jamneck van Mooiplaats sê dat die voertuig wat agter die bondel fietsryers aanry veroorsaak dat ‘n mens glad nie kan verbygaan nie. “Probeer nou met 'n perdesleepwa by hulle verby kom.”

Polisie
Juanita Anderson Kruger vertel dat sy onlangs amper twee Velo-fietsryers raakgery het. “Nie omdat ek onverskillig was of aspris nie, maar omdat hulle oor die Boschkop-kruising gery het sonder om stil te hou,” sê sy.

Sy sê dat dié fietsryers lelik is met die motorbestuurders en vertel dat ‘n vriendin van haar, wat naby Boschkop Primary bly, gesien het hoe die fietsryers iemand wat vir hulle toeter geblaas het, behandel het. Hulle het by ‘n verkeerslig met hom opgevang, hom omsingel en het almal aan sy voertuig geklap.
“Hoekom voel hulle dat hulle reg van weg het, die wet mag oortree en ons dan ook nog probeer intimideer,” vra sy.

Juanita het met inspekteur Ras by die Boschkopse Polisiestasie gaan praat. Hy het gesê dat die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging 'n erkende fietsryroete is en dat die fietsryers nie gekeer kan word nie. Hulle mag egter nie die pad versper nie, en moet die verkeersreëls gehoorsaam.

Die polisie het redelik gereeld samesprekings met die Velo-kluborganiseerders en insp Ras het onderneem om die ongeruimdhede onder hulle aandag te bring. Juanita berig dat insp Ras ook genoem het dat hy met raadslid Andre van der Walt oor die paaie gepraat het, spesifiek die feit dat daar geen padskouers is nie.

Insp Ras se raad aan Juanita was dat fietsryers wat nie by verkeersreëls hou nie, individueel aangekla moet word. “Ek dink dis nonsens; hulle ry onder Velo se vaandel en hulle moet dus verantwoordelikheid vat vir hulle lede,” sê Juanita


Die gevaarlike aansluiting van die Boschkop-pad by Lynnwoodweg-verlenging

Velo
Velo-fietsryklublede vertrek 5.30 vm op Donderdagoggende vanaf die Engen Motorhawe op die hoek van Hans Strijdom-rylaan en Atterburyweg en maak die roete ongeveer 7.30 vm weer daar klaar.
Klublid Barend Burger sê motoriste raak ongelukkig omdat hulle voel die fietsryers maak hulle laat vir werk. “Ongelukkig is al die paaie onder druk in die gebied en ons is net mense wat ons sport beoefen. Ons begin al half ses in die oggende, en ja ons kom in spitsverkeer terug.”

“Mense in die gebied moet teen die tyd al weet watter tye ons ry en dat dit hulle dalk vyf minute langer mag vat, maar hulle besef nie dat as hulle verby ons jaag, hulle nog steeds in ‘n 3 km lange tou by Hans Strijdom se verkeerslig gaan wag nie. Terwyl hulle daar staan, kom ons al klaar weer verby gery,” sê Barend.

Raakgery
“Ek ry al 14 jaar op die paaie fiets en is al deur ‘n trok raakgery en deur ‘n metro polisiekar, so ek weet presies wat op die paaie aangaan. Ongelukkig is ons nie so bevoorreg soos die ryers in Johannesburg wat by die ‘cradle’ kan gaan ry met ‘n padskouer nie, en so verkies ons ook om ‘n kar agter ons te hê, want dit laat ons veiliger voel,” sê hy.

Fietsryer Martie Joubert vertel dat sy drie jaar gelede op die Boschkop-pad raakgery is toe sy alleen gaan oefen het. Dit is nou glad nie meer vir haar 'n opsie om alleen op die oop pad te gaan oefen nie.
Sy verduidelik dat hulle vir die SA padkampioenskappe, met afstande van tussen 80 km en 230 km, oefen. Baan-fietsry en pad-fietsry is twee verskillende sportsoorte.

Waar?
“Waar wil die mense hê moet ons fietsry,” vra klublid Ignus Oosthuizen.

Martie sê dat Velo-klublede al verskeie ander roetes ten ooste van Pretoria probeer het: Garstfonteinweg-verlenging na die Bapsfontein/Bronkhorstspruitpad (R25), Rigellaan in die rigting van Delmas, die Ou Bronkhorstspruitpad (R104), en Lynnwoodweg-verlenging na die Bapsfontein/Bronkhorstspruitpad (R25).

Volgens Martie is die Boschkop-pad die breedste en stilste van dié roetes en het die minste sperstrepe sodat voertuie makliker kan verbysteek.

Fietsryklublid Dawie Malan sê daar is nie paaie in die omgewing met ‘n behoorlike skouer nie en so ook nie bruikbare fietsbane nie. Hy sê dat fietsryers ook motorvoertuie het en belasting betaal soos al die ander mense in die omgewing, en dat dit behoort by te dra tot die infrastruktuur van die omgewing. Die Velo-klub bestaan uit eienaars van besighede, professionele mense, dominies en dokters.

Dawie sê dat die fietsryers wat aan die Velo-groep deelneem, elke dag met gebed begin en vra dat hulle bewaar word op die paaie. Motoriste steek fietsryers teen 120 km/h verby en vele fietsryers is al gekap met die motors se kantspieëls. Hy sê dat fietsryers nie ‘n voertuig kan hoor wat van agter aankom nie, en alhoewel motoriste onder die indruk is dat fietsryers hulle agter raaksien, is dit nie so nie.

Veilig
Velo-klublid, Hansie Joubert, beaam dat hulle in ‘n groep ry vir veiligheid. Fietsryers wat alleen ry of in groepies van twee of drie se kans om raakgery te word is baie groter. “Ons wil ook in veiligheid die paaie gebruik. Ons kan dit nie waag om alleen te ry of sonder die voertuig agter ons nie.”

“Die meeste van ons gebruik hierdie oefenpaaie al van die vroeë negentiger jare af. Opmerklik vir my was dat die verkeer op die paaie drasties toegeneem het vandat daar oral tolhekke opgerig word.”

“Wat die motoriste in gedagte moet hou is dat fietsryers op die Boschkop-pad deel van die lewe is. Ons het net soveel reg op die pad as enige ander landsburger. Ek glo as ‘n groep kan ons meer doen om die ryers meer bewus te maak van verkeer om hulle. Die groot oortreders, het ek al opgemerk, is nie gereelde fietsryers nie, maar iemand wat dink hy sit nog agter die stuur van sy motor,” sê Hansie.

"Ongelukkig is daar in fietsry, soos in die res van die gemeenskap, altyd iemand wat nie reëls respekteer nie,” sê Martie. “Ons onderneem om ons samewerking te gee en ons mede-fietsryers wat nie die reëls gehoorsaam nie, aan te spreek.”

“Ons versoek ook die Boschkop-padgebruikers om dieselfde te doen. Veral die dames in die wit Passat en blou Audi en ook die menere in die wit Mercedes, bruin Land Cruiser, wit Toyota Hilux bakkie, en veral die meneer in die Mercedes wat erken het dat hy sy bes sal doen om ons te probeer raakry.”

“Kom ons probeer mekaar verdra, respekteer en erkenning gee,” sê Martie.

Ernstig
Velo-klublid Jean Groenewaldt sê dit is belangrik om te strewe na harmonie met mede-padgebruikers, en dat hulle die motoriste se klagtes ernstig opneem. Hy stel voor dat Velo-klub pro-aktief optree en hulle klublede deurgaans maan om by die padreëls te hou en motoriste in ag te neem.

Sy oplossing is om die padreëls baie prominent op Velo se webtuiste te publiseer. Voor elke rit sal hulle lede herinner aan dié reëls en versoek dat sekere lede vir die rit as monitors optree. Dié monitors moet indiskresies hoflik aan ander klublede uitwys.

Jean was een van die stigterslede van die Verwoerdburg Fietsryklub en hy sê dat hulle soortgelyke probleme soos dié op die Boschkop-pad ondervind het, en dat die gebruik van monitors die probleme onder beheer gebring het.

 

© 2020 Die/The Bronberger