Vergete ou weelde by klub herleef PDF Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 17 November 2013 19:14
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vir ‘n ou met ‘n hewige verkoue onder lede is dit nie altyd ‘n goeie idee om te loop ‘uiteet’ nie.
Gewoonlik is jou eetlus nie na wense nie en as jy iets eet, is dit baie moeilik om te proe wat dit is wat jy besig is om in te werk.

Maar met Metgesel se eet- en kuierlus skort niks op dié mooi Saterdag nie en ek is half nuuskierig om weer te loop draai by die nuwe kuierplek in die ou ‘Rec’ op Cullinan.

Die ‘Rec’ Klub se spore lê diep in die dorpie se geskiedenis getrap en al gaan jy net om die weelderige argitektuur en die besonderse muurskilderye en ou foto’s in die ou saal te ervaar, is ‘n gaan al die moeite werd. Die skilderye is deur kunstige Italiaanse krygsgevangenes uit die Tweede Wêreldoorlog gedoen. En as jy dit klaar ervaar het kan jy loop aansit in die baie ruim kuierplek wat deesdae die naam ‘Brillante la Mia’ dra.


Twee vegetariese schnitzels onder ‘n ryk kaassous

Die nuwe restauranteurs het ‘n vergete ou sysaaltjie in die kompleks ‘ontdek’, dit afgestof en weer in gebruik geneem. Iewers in ‘n stoorkamer is ou stoele opgediep, by tafeltjies maak staan en siedaar! Jy het ‘n eetsaaltjie wat belofte hou om die keurige uiteetervarings uit die deftiger dae van vervloë, weer te laat herleef.

Ek kan my voorstel dat dié saaltjie met sy hoë gedrukte metaalplafonne, swaarhoutkaggel en konkawe voorvenster diep in die verlede deur ou ‘jintelmanne’ van Britse herkoms gebruik is. Dit sou die vergaderplek van ‘management’ of die een of ander geslote ‘gentlemen’s club’ wees.

Hier het hulle, met die weglê snorre en knypbrilletjies, ná ‘n vyfgangmaal in hulle onderbaadjiepakke aan dik sigare en krom pype getrek en klein slukkies uit bolwang konjakglase geniet. Dae wat verby is, maar met ‘n klein bietjie verdere moeite, weer hier herleef sal kan word.

Soos dit is, vorm die saaltjie net ‘n klein deeltjie van die nuwe Brillante la Mia met sy baie groot kroegkamer en onderdakdekke en dit deel ‘n spyskaart met die res van die plek.

Die spyskaart gaan groot met biefstuk en burgers. Jy kan kies uit dertien verbuigings van gebraaide bees en twaalf soorte hamburgers. Behalwe vir een wat hulle ‘Jumbo Rump’ noem en ‘n ‘Giant T-Bone, elk van 500 g, weeg die ander keuses van beeshaas en kruisskyf (fillet en rump) almal in teen 300 g. Die pryse wissel tussen R85 en R130. Die hamburgers kos tussen R45 en R75. Verskeie hoenderdisse is beskikbaar.


‘n Plek wat skree vir die deftige eetgewoontes uit vergange se dae

Die viskos is calamari of stokvis, of calamari en stokvis. Jy kan ook ribbes en ‘n kombinasie van ribbes en nog wat bestel. ‘n Goeie verskeidenheid slaaie, voorgeregte en nageregte word aangebied.

Wat eet ‘n griepgeval met ‘n toe neus en ‘n afwesige eetlus? Ek kry die antwoord onder die voorgeregte: ‘Peri-peri strips’ is snysels van biefstuk of hoender toegemaak met ‘n romerige peri-peri sous in ‘n diep bakkie en saam met bruin brood bedien. Metgesel kies ‘n ‘Veggie Schnitzel’ met ‘n kaassous – een van twee vegetariese keuses.

Ek kon die ge-peri-periede beessnysels raakproe en ek het dit geniet. Die sous byt geniepsig maar nie om dood te byt nie. Dit is nie só sterk dat die vlamme by jou ore uitslaan as jy jou toe, verkoueneus probeer blaas nie. Dit kos R50.

Metgesel maak my belowe dat ek sal uitvind waar ‘n mens dié ‘Veggie Schnitzels’ vir tuisgebruik kan aankoop. Dit is die eerste keer dat sy dit op ‘n spyskaart sien en sy meen alle restaurante behoort dit aan te hou. Sy geniet dit saam met skyfies en slaai. Dit kos R79.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online