Bronnie bring lank verlore familie bymekaar Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 17 November 2013 21:08
Untitled Document

Dit is ‘n baie klein wêreld. Danie Erasmus van die Cullinan-distrik het verlede maand ‘n 1906 troufoto in Die Bronberger gesien en wou sê die bruidegom lyk vir hom bekend. Hy kry dié einste bruidegom toe as strooijonker op sy eie ouma en oupa se 1904 troufoto.

“Ek was verbaas om in die jongste uitgawe van Die Bronberger ’n foto te sien van ’n Roelof van Jaarsveld wat dieselfde persoon is wat my oupa se strooijonker was,” sê Danie. “Hy was my oupa se neef. Ek het min inligting oor die spesifieke van Jaarsveld-familie, en tot my verbasing kry ek uit die Bronnie inligting wat ek nooit gedink het, bestaan nie.”


Die foto wat ons verlede maand van Eugene Viljoen se ouma, Aletta Margaretha van den Berg, en oupa, Roelof Johannes Hendrik van Jaarsveld, se troue op 11 Augustus 1906 geplaas het

In ‘Onbekender deel familiefoto’s uit die Dorslandtrek’ het ons in Oktober Eugene Viljoen, ‘n afstammeling van die Dorslandtrekkers wat in Onbekend se wêreld grootgeword het, se foto’s gewys.
Eugene se ouma, Aletta Margaretha (Lettie) van den Berg, is op 11 Augustus 1906 met Roelof Johannes Hendrik van Jaarsveld getroud.

Danie se oupa, Barend Jacobus de Lange (Koos Onderwyser), is op 29 Julie 1904 met Helletjie Maria Erasmus getroud. Danie se ma, Martha Magdalena, was hulle vierde dogter. Die gesin het op Hartebeestspruit gewoon, waar Martha in 1914 gebore is.


Links is Aletta Catharina Magdalena Erasmus (Heslinga), Danie se oupa Barend Jacobus de Lange (Koos Onderwyser) en sy bruid Helletjie Maria Erasmus op hulle troudag, 29 Julie 1904. Agter staan Roelof Johannes Hendrik van Jaarsveld

Sy is met Jacobus (Koos) Johannes Erasmus van Kafferskraal buite Cullinan, getroud. Hy is in 1911 gebore en is in 1982 oorlede. Danie is hulle enigste kind en die laaste van dié Erasmus-erfgename wat nog ’n stukkie familiegrond het.

 

© 2024 Die/The Bronberger