‘n Uitsonderlike Sondag op ‘'n mooi aarbeiplaas PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 October 2013 21:57
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vlak langs die Boschkop-grondpad wat Lynnwoodweg-verlenging en die Boschkop-teerpad verbind, net ná die enkelspoorbruggie oor die Pienaarsrivier, daar waar die lang slaplinkse draai net mooi reguitgetrek het – net daar het ons onlangs een van die uitsonderlikste en aangenaamste Sondagkuiers denkbaar ervaar.

Uitsonderlik rustig en uitsonderlik mooi is dit by die waterryke aarbeiplaas wat hulle Lakelands noem. En uitsonderlik en verfrissend anders is die aanslag en die aard van die kok wat hulle Frank noem.


Frank het die gesin se drinkgoed vir hulle dam toe gedra

Die onderdak-stoepplek bied ‘n uitsig oor die groen, beboomde tuine van Lakelands, die mooi dammetjie met sy oewerwilges en die Boschkoppe in die agtergrond. Jy kan ook in die knussige binne-eetkamer loop sit. Later sou ons agterkom dat jy eintlik kan stap en sit net waar jy wil op dié mooi aarbeiplaas.

Ons neem plaas op die stoep. Van hier af kan jy ook die binnewerke van die ruim kombuis sien. Ek hou daarvan: Niks om weg te steek nie, sê ek vir Metgesel. In die kombuis sien ek ‘n groot man met ‘n blou voorskoot waar hy heen en weer beweeg, hier vat en daar los, en ‘n opdrag of twee aan sy helpers uitdeel. Dan kom die groot voorskootman by die deur uit: “Ons is nou by julle,” sê hy.


Lakelands se ganse dra tot ‘n lekker landelike gevoel by

‘Ons’ kom in die vorm van Frank se fyn vroutjie, Sonia, aan. Sonia is die bestuurder van die plek, hoor ons later. Na ‘n rukkie bring sy die koffie nader. Lekker koffie.

Die twee paartjies by die tafel neffens ons, maak beurte met ontbyt-eet en babas oppas. Die mans lê weg aan ‘n baie groot ‘plaasontbyt’ terwyl die vrouens elk met ‘n baba op die heup gaan stap vir ‘n rustige ‘walk’. Onder by die dam probeer Frank en Sonia se seun, Louis, en ‘n maatjie vrugteloos om die monsterbaber met tuisgemaakte rietspiese aan te keer. Dié baber maai glo onder die klein gansies.


Frank se mooi slaaibord

En dan meld Frank hom by ons tafel aan. Hy maak hom tuis en stel hom voor. Die kokery is ‘n stokperdjie. Hy het ‘regte werk’ ook. Ons kan ‘n sleepwa-rit na die waterval toe vat as ons wil. Nee, hy doen nie die spyskaartding nie, sê hy. Waarvoor het ons lus, wil hy weet. Metgesel noem dit dat sy nie soogdiere eet nie. Frank stel ‘n ‘vissie’ voor. Metgesel meld dat ek eintlik meer partydig is vir vis as sy.

Wat van ‘n lekker doradotjie met ‘n sousie wat hy spesiaal al van vanoggend vroeg af net vir my aanmekaarslaan, vra Frank. Met bruinrys en groente? En met ‘n garnaaltjie of wat daarby? Klink vir my reg en ek bestel.

Frank verduidelik ‘n langsaamgedoende hoenderborsfillet aan Metgesel. Dit klink vir haar mooi en sy bestel. Ons gesels soos vriende wat mekaar lank ken. Dan steek Frank ‘n wysvinger lugwaarts. “Hoor julle dit,” vra hy. Ons hoor die mini-koptertjie wat van Kitty Hawk af opgestyg het, verbyvlieg. “Nou wel nie ‘n Boeing nie, maar dit doen dieselfde jop,” sê Frank. “Wat wil julle drink?” Ons bestel van daai soort wat jy gebruik as die Boeing verby is.


‘n Heerlike dorado op ‘n bruinrysbed
.

Botterbroodjie, room en aarbeikonfyt – alles tuisgemaak

Frank bring ‘n voorgereggie van botterbroodjies met room en aarbeie en aarbeikonfyt (wat anders) aan. Die koeie het net droë gras gevreet en die room sal nie vet maak nie, sê hy. Later kom hy met ‘n mooi slaaibord aan. “Eet solank. Dis nog vroeg en die kos gaan nog ‘n wyle vat.”

‘n Gesin het hulle onder op die dam-oewer tuisgemaak. Pa en seuntjie met visstokke. Ma en dogter luilekker op ‘n Lakelands-kombers in die koelte. Later stap Frank af met ‘n skinkbord. Hy vat hulle drankies, knoop ‘n geselsie aan en werk saam met hulle uit wat hulle wil eet.

Ons het die dag, die geselskap en die kos baie geniet op Lakelands se aarbeiplaas. ‘n Ou moet jou storie met ‘n dorado ken as jy hom nie wurgdroog wil hê nie. Frank ken sy storie. Dit is ‘n billike stuk seevis, sappig met sy sousie en krakerige garnale op ‘n bed bruinrys met spinasie en ‘n wonderlike porsie pampoen wat saam met pruimedante fyngedoen is.


Die strelende uitsig van die stoep af

Metgesel se twee porse hoender ontlok ‘n rare ‘hmmmm, lekker’ by haar.  Die hoofgeregte kos R80 elk. Die botterbroodjie met voortreflike aarbeikonfyt en room kos R10 en die slaaibord R45. Die bottel Byerskloof Pinotage weeg in teen R85. Ek koop vir my ‘n botteltjie van die aarbeikonfyt en een van marmelade vir die huis.

Op 2 November hou Lakelands weer hulle bekende aarbeifees. As jy meer hieroor of oor dié uitsonderlike kuierplek wil weet, bel Sonia by 073-571-7442.  

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online