Cullinan gekies vir moeder van feeste PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2013 23:30
Untitled Document

Cullinan is gekies as die tuiste vir September 2014 se musiekfees om glo 20 jaar van ‘demokrasie te vier’.

’n Verslag oor die beplande Dinokeng-fees van R45 miljoen het die laaste week in September voor die Tshwane-raad gedien. Volgens die verslag het Sony Music en Rockstar4000, twee van die metroraad se vennote, Cullinan as die ideale tuiste vir die fees uitgeken.

Die fees word glo geskoei op die Glastonbury-musiekfees wat jaarliks naby Somerset in Brittanje gehou word.

Die metroraad gaan glo vir grootskaalse waterinfrastruktuur, rekenaar-verbinding en die oprig van heinings verantwoordelik wees. Dit kan ‘n verdere R25 miljoen kos.

Die verslag meld dat die fees bemarkingsblootstelling ter waarde van sowat R8 miljard kan beteken en inkomste van minstens R200 miljoen kan oplewer.

Mediaberigte het vroeg in Oktober aangedui dat die metroraad die popster Beyoncé vir die fees wil gebruik en dat haar fooi minstens R35 miljoen sal wees.

Metroraad burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, het later ontken dat Beyoncé by die fees sal sing. Hy het bevestig dat die raad R25 miljoen beskikbaar gaan stel vir die fees.

Volgens Rockstar4000 het die organiseerders ‘n hele aantal moontlike sangers en musikante geïdentifiseer, maar niemand van hulle is nog genader om op te tree nie.

Die organiseerders is wel op soek na hoë-profiel internasionale talent om groot skares te lok.

Kunstenaars van Afrika en Suid-Afrika sal egter meer as 90 persent van die program volmaak.

Die Tshwane metroraad en Rockstar4000 sal die amptelike aankondigings by die afskopgeleentheid wat vir Donderdag 7 November beplan is, bekend maak.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger