Moedswillige brand by sorgsentrum vernietig plase PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2013 23:30
Untitled Document

‘n Verwoestende brand wat blykbaar moedswillig begin is, het op Sondag 6 Oktober geweldige skade in die Cullinan-distrik aangerig.

Terwyl mense by die kerk was, is die gras by Erika, ‘n afdeling van die Dr Fabian and Florence Ribeiro rehabilitasie-sentrum, aan die brand gesteek. Binne minute het ‘n woeste brand gewoed en weens die veranderlike wind was dit gou buite beheer.

‘n Buurman van Magaliesoord, ‘n behandelingsentrum vir alkohol- en dwelm-afhanklikes in Zonderwaterweg, Danie Erasmus, moes dadelik sy beeste verwyder en na veiligheid neem.


Danie Erasmus sê die boere is nou keelvol vir die brande wat na bewering doelbewus gestig word

Verwoes
Teen 3 nm was Chris Botha se hele plaas bykans tot as verbrand en het die vlamme die Elandsrivier oorgesteek. Kort daarna was die vlamme in Hartbeesfontein se bloekomplantasie in. Die manne het dapper geveg en die brand beperk tot op die grens van Hartbeesfontein, teen die Zonkolol-plotte.

Dr Bredenkamp en sy span het tot in die vroeë oggendure geswoeg om die brand onder beheer te kry. Om 3.15 Maandagmiddag het die vlamme egter weer bokant die bloekombome van Hartbeesfontein getroon.

Danie het vroeër vanjaar, op 17 Julie, ook groot brandskade gekry toe sy skaapkamp, gesnyde oulandsgras, wat ongeveer 1 000 bale sou lewer, en drie ton mieliestamme in ‘n skuur tot as verbrand het. Met die brand op 6 Oktober is alles wat nog nie gebrand het nie, vernietig.

Vuurveg
Talle boere het opgedaag om die vuur te help beveg met toerusting wat hulle self in stand hou. Brandweermanne van so ver as Pretoria-Noord, het gaan help, maar geen brandbestrydingspan is van Zonderwater, wat staatsgrond is, gestuur nie.

Danie sê dat die ou Nokeng munisipaliteit se vuurvegters ná die oorname deur Tshwane op 1 Julie 2011, verdwyn het. Hy het vrae aan die burgemeester gerig oor die versiening en herontplooiing van munisipale brandbestrydingstoerusting wat deur die Nokeng munisipaliteit op strategiese plekke ontplooi was. Sy vrae is nooit beantwoord nie.


Sondag 6 Oktober se verwoestende brand
Foto: Danie Erasmus

Stig
Volgens Danie is dit die derde keer sedert die brandseisoen begin het, dat die gras by Magaliesoord glo moedswillig aangesteek word. Hy sê dat die department van Maatskaplike Ontwikkeling, wat die eienaar van Magaliesoord is, nie die munisipale brandweer-verordeninge nakom nie.

“Oor jare heen was daar orde en dissipline en was die plaas na behore bedryf en bestuur. Nou is dit ‘n vakansiebestemming vir verslaafdes,” sê Danie.

“Vreemdelinge loop deur die plaas sonder beheer of toestemming. ‘n Amptenaar het mense skriftelik toestemming gegee om hout te gaan haal. Toe ek weer sien het die mense my grond betree en wild en wakker aan my bome begin saag.”

Keelvol
“Ons boere is nou keelvol”, sê Danie. “Ek moet my diere met ‘n oortrokke rekening voer en die brandstigters kom skotvry. Ek gaan regsadvies inwin oor kompensasie. My fondse is uitgeput en versoeke vir skenkings het op dowe ore geval. Ek gaan ‘n saak van brandstigting by die SAPD Cullinan open,” het hy gesê.

 

© 2019 Die/The Bronberger