Dorings en distels PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 22 October 2013 21:17
Untitled Document

Vroegsomer is ‘n goeie tyd vir die uitdeel van ruikers en rose aan dié wat dit verdien en ook van distels en dorings aan dié wat dit toekom.

Die grootste doringkrans, gevleg van haak-en-steek- en wag-‘n-bietjie-lote, gaan dié maand aan die giftongbrigade van ons gebied. Hulle wat nydige en ongegronde gerugte oor die onlangse afsterwe van ‘n gewilde geneesheer van Cullinan versprei het. Julle weet wie julle is en die res van die gemeenskap weet ook.

So, sleep gerus vir jou ‘n troon vol duwweltjies nader, gaan sit rustig daarop en lees op bladsy sewe van die Bronnie presies hoe julle arseentonge die pot misgesit het. Probeer dan net ‘n bietjie skaam kry en bes moontlik verskoning vra aan die naasbestaandes en vriende wat deur julle twakpraatjies seergemaak is.

Ons tweede disteltoekenning gaan aan die gebied se metroraad vir die voortreflike wyse waarop hy hom afvee aan belastingbetalers se klagtes oor Lynnwoodweg-verlenging en Hans Strijdomweg se straatligte wat nou al tien maande lank dag-en-nag onnodiglik brand.

‘n Kleiner doringkransie word ook toegeken aan die betrokke raadslede wat deeglik bewus is hiervan, maar óf nie ‘n duit omgee oor hulle kiesers se besware nie, óf dalk net te lig in die broek is om iets daaraan te doen.

Na regte kan die raad dié maand in aanmerking kom vir ‘n hele klomp doringruikers:

  • Een vir die gebrou met Cullinan se duur biblioteekpark. Met groot trompetgeskal is die projek aangekondig en beloftes is gemaak dat dit reeds in Desember vanjaar voltooi sou wees. Wat ons het, is ‘n onooglike krater waar eens ‘n mooi rantjie was en dit lyk of dit al is wat ons teen volgende jaar nog gaan hê.
  • Die raad se media-skakelafdeling kry die pendoring vir agteruitboer. Vroeër was dit een van die min metroraad-afdelings waarop ‘n mens kon peil trek om hulle werk doeltreffend te doen. Deesdae sal ‘n mens sweer die hele afdeling het op raadskoste ‘n kursus in bas-afvee voltooi. Want dit is wat hulle uitmuntend doen met navrae van die media.
  • Om ‘n hele munisipale gebied se brandbestrydingstoerusting te ‘verloor’ vat gedoen te wees. Tog het ons metroraad dit moeiteloos vermag met die Nokeng-gebied s’n en verdien hiervoor minstens ‘n doringkrans of drie.

Ons wou werklik nog rose en ruikers uitdeel en ook ons beleërde metroraad verdien sekerlik op ander gebiede enkeles hiervan. Daarby is die Bronberg-gebied geseënd met wonderlike omgee-mense wat te min erkenning kry. Maar kom ons doen dit in ‘n volgende uitgawe as ons meer ruimte tot ons beskikking het.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online