Ons word ses jaar oud in September Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 18 August 2008 04:06
Untitled Document

Hier kom ’n ding. Skuif solank reg want Die Bronberger word ses jaar oud met ons September-uitgawe.

Om dié mylpaal te vier, beplan ons ’n baie spesiale verjaarsdag-uitgawe en ons nooi alle adverteerders en lesers om deel daarvan te wees. In die jare wat dié een voorafgegaan het, is ons verjaarsdag-uitgawes in September telkens goed ontvang en baie goed ondersteun.

Ons kan klaar sien dat hierdie geen uitsondering gaan wees nie. Inteendeel . . . ons het die afgelope jaar die grootste groei sedert ons ontstaan beleef en verwag om ’n reuse versamelaarsitem as verjaarsdag-uitgawe op die rakke te sit. Dit is die jaar waarin ons met tema-artikels begin het wat hiper- gewild geword het. Ons praat nou van 'Dinge om te doen in die Bronberg' in ons Februarie-uitgawe, 'Jou huis in die Bronberg' in ons Maart-uitgawe, 'Kom kuier in ons kontrei' in April en 'Bly só vuurwarm in die Bronberg' in Junie. Lesers gebruik dié artikels as verwysingsgidse en hul gewildheid kan gemeet word aan die hoeveelheid 'hits' wat hulle op ons nuwe webwerf kry.

Maar dit is die vyf vorige verjaardaguitgawes wat telkens die heel gewildste onder lesers en adverteerders was. En alles dui daarop dat vanjaar se September-tydskrif die spreekwoordelike koek gaan vat. ’n Uitgawe wat hoogtepunte uitlig, voorspellings oor die volgende jaar waag en lesers en adverteerders intrek as die kern waarom hulle eie gemeenskapspublikasie wentel.

Ons is trots daarop dat Die Bronberger, as onafhanklike publikasie, nou sy sesde bestaansjaar betree. Ons is trots en ons is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning van die gemeenskap wat ons dien, die eiesoortige mense van die Bronberg-gebied. Om ’n glanstydskrif binne ’n geslote gemeenskap, sonder die rugsteuning van enige groot korporatiewe- of ander organisasie uit te gee en oor ’n tydperk van ses jaar stewig te bly staan en selfs te groei, wil gedoen wees. Ons wil almal wat in die laaste ses jaar gereeld of net soms in Die Bronberger geadverteer het, nooi om ons verjaarsdag saam met ons te vier deur ’n advertensie in September se bielie-uitgawe te plaas.

En as jy nog nooit in Die Bronberger geadverteer het nie, is hierdie die ideale geleentheid om nuwe voete nader te lok. Jou advertensie gaan in ’n versamelstuk verskyn wat ons lesers soos ’n kosbare besitting bewaar en in terug blaai oor baie maande heen. Ons leser-vriende kan vir ons ’n brief skryf oor dié dinge wat vir hulle in die afgelope publikasiejaar uitgestaan het. As iets met jou gebeur het, jou gepla het, of as iets jou bly, kwaad, skaam, hartseer, knorrig, dankbaar of wat ookal gemaak het, sit pen op papier of vingers op klawerbord en deel dit met jou mede-Bronbergers.

Hier kom ’n ding.

 

© 2024 Die/The Bronberger