Vreethans fokus op elf uitsoek-disse PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 23 September 2013 21:45
Untitled Document

Ons het vir Vreethans van Heerden gevra om elf geregte by elf kuierplekke uit te sonder, om met ons elfde verjaardag-uitgawe saam te val en hy het ter elfde uur laat weet dat die uitsonderings nie noodwendig die elf lekkerste disse op sy elfjaar-kuierpad was nie, maar dat hy eerder op verskeidenheid by elf eetplekke in verskillende gebiede van die Bronberg besluit het. Ons haal direk uit ou Vreethans se afsaalrubrieke aan:

Square Times by Faerie Glen se Boardwalk: Feb 2010

Warm kerriegeregte op Valentynsdag

“Ek oorweeg vlugtig die heel lamskenkel, lamstjops of oxtail, maar ons loop soek dieper en besluit op kerriegeregte, soos dit hoort op ’n rooiwarm Valentynsdag. Die lamskerrie wat ek bestel is op die ‘authentic Eastern way’ voorberei.”

“Ek kan nie onthou dat ek al ’n beter lamskerrie gehad het nie. Dit is smaaklik, geurig, sag, skerp maar nie te sterk nie en dis ’n baie ruimhartige porsie. Ek kon min-of-meer ’n derde in die braksakkie pak en die volgende dag nog ’n bevredigende maaltyd by die huis inwerk.”

“Metgesel besluit op die roergebraaide hoenderkerrie en indien moontlik is haar maaltyd nog ruimhartiger as myne en ewe lekker. Ek weet, want ek het geproe. Sy vat ook huis toe en geniet dit sommer dieselfde aand nog.”

Egons op Kaalfontein: Mei 2010

‘n Groot gekrummelde stokvis

“Jy kan ook gekrummelde stokvis teen R50 bestel, wat toe presies is wat ek doen. Metgesel bestel gekrummelde hoenderrepies teen R44. Sy sê jy kan vir haar bykans enigiets gee as dit ’n lekker krummel om het. Sy sê sy is ‘kommin’ op daai manier.”

“My vis kom aan en dis nie ’n vissermanstorie as ek jou vertel dat dit ’n groooot vis is nie. Ek het saam met die vis brat kartuffelen bestel en ek vind dit voortreflik. Die krummel om die stokvis is perfek vir my en die vis is net reg gaargedoen. Ek geniet. Metgesel geniet ook haar krummelhoendertjie en braai-aartappels.”

Nuvo Cuisine in Old Farm Road, Faerie Glen: Aug 2010

Mooi kos, maar nie min kos nie

“Ek oorweeg die ‘lavender and orange confit of duck’ omdat ek baie lanklaas ’n eend onder die vurk gehad het, maar besluit op die ‘nuvo lamb shank’ en is later baie bly oor my besluit.”

“Nuvo Cuisine se skenkel kan deurgaan as ‘mooi kos,’ maar dit is beslis ook nie min kos nie en dit mag dalk die heel lekkerste lamskenkel wees wat ek in my dag des lewens geproe het. Hy is murgsag en sousig en dis juis die baie spesiale rooiwynsous wat my gaande het. Hulle bedien hom op stampmielies met groente”.

Blos Café, Zwavelpoort: Julie 2011

‘n Roosterkoek-bobotieburger

“Maar ek besluit op die verrassende burger. Dis ‘n roosterkoek en bobotieburger en dis iets wat iemand lankal moes uitgedink het. Hy kom saam met skywe lekker braai-aartappel en vir my is die bobotieburger ‘n andersgeit waaraan ‘n ou gewoond wil raak.

“Ek kon die gedoente seker vir ‘n ‘tune-up’ teruggestuur het oor hy effe aan die koue kant was, maar ek het nie, oor ek nie in daardie stadium wou ophou eet nie. Hulle noem die bobotie-burger ‘forget-me-nots.’

Broodblik en Koffiepit, Bapsfontein: Augustus 2011

Die winkel wat oupa Watkins gebou het

“My wildspastei is vol gelaai met smaakvolle, sagte vleisies met ‘n beduidenis van groente daarby. Volgende keer sal ek die sous los en eerder ‘n kweperjellie of iets by die wild geniet. Metgesel se pastei kom saam met ‘n baie ruim porsie slaai. Die kerriehoender val so reg in haar smaak.”

“Ek besluit om nie die rare kans te laat verbygaan nie en bestel die ‘toebroodjie’ met varkvet en appelkoosjam. Wat aankom is vier reuse snye, liggies geroosterde boerbrood in ‘n mandjie. Die eerste sny ‘doen’ ek met varkvet wat ek goed gooi met die sout en peper. In die sewende hemel is ek. Die appelkoosjam is van só ‘n aard dat ek later vir my ‘n bottel en ‘n varsgebakte boerbrood aankoop vir die huis. Agterna vertel Sarel dat jy maar mag geniet aan die varkvet en ander ryk geregte, solank jy net elke dag ‘n bietjie pomelosap drink.”

Albizia, nou by Boekenhoutskloof, Sondae en vakansiedae: Oktober 2011

Kunskos by Albizia (nie die gereg wat Vreethans bespreek nie)

“Ek bestel ‘n kruisskyf (rump), half-rou (medium to rare) en kan met oorgawe sê dat Lientjie se rump en bykosse op daardie dag een van die bestes is wat ek op enige ander dag tot dusver ervaar het. Die vleis was reg gaar, of reg rou – afhangende van hoe jy daarna wil kyk – en onder die geurigste sousie voorgesit.”

“Robert vertel later dis ‘n ‘polenta bagna gauda’ sousie en is gaaf genoeg om aan ‘n agtergeblewene soos ek te verduidelik dat dit ‘n kruierige ansjovissie-suurlemoenbotter-sousie is. Bykosse was onder meer ‘n spinasie en parmesan heerlikheid en ‘n papajaslaai wat vir my vreemd en werklik uit die boonste gestoeltes was.”

Friends, Rayton: Februarie 2012

Die vetkoekgedoente van Friends

“Ek bestel ‘n enkel ‘dagwood’ vetkoek en metgesel ‘oortree’ met een van hoender, mayo, kaas en eier. Sy bestel ekstra uie daarby. Metgesel sê dit was iets wat sy jare terug al moes geëet het, maar sy dink sy sal eers weer ‘n jaar wag vir die volgende een.”

“Die vetkoeke is groot, lig en baie lekker. My ‘dagwood’ is ‘n billike gedoente wat ‘ou grootbek’ van daai tjoklitadvertensie nie met sy rekbek sou kon baasraak nie. Ek sien daarop: kaas, eier, spek, ham, tamatie, burgerfrikkadel, slaai en nog wat. Ek geniet dit. Die vetkoek-dagwood-gedoente is ‘n ‘bargain’.”

Tin Roof, Mooiplaats: Maart 2012

Varknek en besonderse pizza

“Ek bestel ‘n oondgeroosterde varknek met laventel en heuning op kapokaartappels met groente en ek het lanklaas só lekker op ‘n Saterdagmiddag geëet. Die nek is murgsag en smaaklik, in ‘n ryk bruin sous.”

“Metgesel het baie lank gevat om te besluit, uiteindelik vasgesteek by die aansienlike pizza-spyskaart en eindelik besluit op ‘n hoenderige een. Dit spog met brie, gerookte hoender snysels, soetrissie, ingemaakte vye en avokadopeer. Amper perfek, sê sy.”

Downtown, Shere: Sept 2012

‘n Smaaklike hoenderkerrie wat nie te seer byt nie

“Metgesel kies die hoenderkerrie, nadat Bash belowe het dit byt nie te seer nie. Die spyskaart sê hulle gebruik ‘n kombinasie van ses kerriemengsels en Metgesel, wat nogals ‘n kenner en liefhebber van Indiese kerrie is, meen Downtown s’n proe na Zanzibar-kerrie en sy vind dit voortreflik. Geen sprake van die ‘kartonsindroom’ wat soms by kerriehoender voorkom nie, sê sy.”

“Ek loop haal my keuse by die ‘light lunch specialities’ oor ek aldaar ‘n beestong en ‘mash’ sien; iets waarvoor ek baie partydig is en wat selde op spyskaarte te sien is. Daarmee saam bestel ek onder ‘extras’ pangebraaide uie teen R10.”

“Die tong is heerlik onder ‘n ryk mosterdsous en die kapokaartappels is deur iemand voorberei wat weet hoe – eindelik! Die ‘ligte’ gereg smaak vorentoe en is heeltemal voldoende om bevredigend en vullend te wees.”

La vie Lente, Klipkop: Maart 2013

Beeshaas in panini en ‘n mooi slaaibord

“Metgesel besluit op die groente- en slaaibord met ‘n broodmandjie en drie doopsouse. Sy is mos baie partydig vir ‘gesonde’ kos. Ek het my bedenkinge gehad of die storie genoegsaam sou wees vir ‘n honger Metgesel, maar dit was meer as wat sy kon baasraak. Gaande was sy oor vars, gesonde kos, die smaakkombinasies, die verbeeldingryke doopsouse en die tuisgedoende brode.”

“Die vleiskeuses bevat ‘n tuisgemaakte hamburger, ‘n hoendergereg en ‘n beeshaas (nee, Steve, dis nie ‘n ding wat op die ark skeefgeloop het nie, dis ‘n ‘fillet’). Die bees kom saam met gekarameliseerde uie en is saam met camembert in ‘n Panini-brood bedien. Heerlik en vullend.”

“Op die stoep is ‘n swartbord waar blykbaar altyd bykomende geregte ‘van die dag’ opgeteken staan. Ek is bly ek het dit eers later raakgesien anders sou ek sweerlik die gebraaide varkensboud of hoenderpastei bestel het en gevolglik nie die beeshaas-smaaksensasie ervaar het nie.”

Die Rooi Lorrie, Donkerhoek: Julie 2013

Lewer met growwepap om oor gaande te raak

“Dure ondervinding het my geleer dat dit ‘n enorme waagstuk is om lewer in ‘n restaurant te bestel. Dit wil lyk of hierdie uitsoekkos se voorbereiding nie op sjefskool geleer word nie. Maar ek is baie partydig vir lewer en ek trek die waagskoene aan en bestel.”

“Nou kan ek vandag verklaar dat iemand by Die Rooi Lorrie se tannie of ma of ouma of iets genoemde iemand geleer het hoe lewer eintlik moet smaak. Dit kom aan in netjiese snysels saam met ‘n bruin uiesous en ordentlike growwemeelpap. Die lewer is murgsag (nie te gaar en droog gekaiing nie) en het die nodige soetsuursmakie. Amper perfek.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online