Bloed kook oor belastingskok Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 September 2013 23:42
Untitled Document

Duisende hoewebewoners woon volgens die Tshwane metroraad nie meer in ‘n landbougebied nie, maar in ‘n landbou-residensiële gebied. Hulle betaal sedert 1 Julie dieselfde heffing as Pretorianers wat volle munisipale dienste ontvang.

Inwoners van landelike gebiede sê dit is onbillik om van hulle te verwag om soos mense in Pretoria ’n residensiële heffing te betaal, maar nie dienste en infrastruktuur soos teerpaaie, straatligte en vullisverwydering te kry nie.

Boere en hoewe-eienaars in die voormalige Metsweding-streek, wat die plotte oos van Pretoria asook die Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit-distrikte ingesluit het, het voorheen ’n landboukorting van 75% gekry. Nou betaal sommige mense tot 400% meer as voorheen en inwoners van hoewes kleiner as vier hektaar betaal dieselfde heffing as stedelinge.


Lex Middelberg, raadslid vir wyk 91

Boer
Mense wat op hulle grond boer, moet bewyse aan die Tshwane-metroraad voorlê om vir ’n landboutarief in aanmerking te kom. Volgens die metroraad moet munisipale waardasies van eiendom nou die werklike gebruik van ‘n eiendom in ag neem. Waardeerders het gevind dat sogenaamde landbou-eiendomme vir verskeie doeleindes gebruik word, soos kommersieel, besigheid en residensieel, en dat min hoewes kleiner as vier hektaar eintlik vir landboudoeleindes gebruik word.

Volgens die metroraad is ‘n bona-fide boer iemand wat finansiële wins maak uit sy landbou-aktiwiteite en nie iemand wat as ‘n stokperdjie boer nie.

Lex Middelberg, raadslid vir wyk 91, sê dat die metroraad nie die reg het om enige mens te belas op grond van ‘winsgewendheid’ in plaas van hoe ‘n eiendom in ‘n stads- en streeksbeplanning konteks in sones opgedeel of geklassifiseer is nie.

Kategorie
Hy sê dat hy toenemend genader word deur inwoners oor dié kategorieverandering van landbou na landbou-residensieel en dat hy geen bewyse kan vind dat ‘n regverdige en redelike administratiewe proses gevolg is in dié kategorieveranderingsproses nie.

Lex sê dat die nuutste Eiendomsbelasting Stadsverordening, 2008, op die Tshwane webtuiste nie aandui dat landbou-residensieel ‘n aanvaarde kategorie is nie. Volgens hom het die metroraad nie ‘n sê in wat as ‘landbou’ geklassifiseer moet word of nie. Só ‘n uitspraak kan slegs deur die nasionale en provinsiale regerings gemaak word. Landbougrond word deur die provinsiale regering in Gauteng in sones opgedeel en die provinsiale regulasies verbied ‘n raad om eiendomsbelasting met meer as 25% as dié van stedelike residensiële heffings te verhoog. Dit val nie in ‘n metroraad se konstitusionele mandaat om provinsiale klassifisering te verander nie, sê Lex.

Nokeng
Henri Combrink, voorsitter van die Cullinan-boere-unie, sê die Nokeng-forum het reeds ’n regsmening gekry en daarvolgens het die inwoners ’n goeie saak.

“Dit kom neer op ’n verdraaiing van die Wet op Eiendomsbelasting se bedoeling. Die bedoeling is nie om iemand so erg te belas dat hy of sy nie meer op ’n plek kan woon nie. Die inwoners pomp hulle eie water, koop direk krag by Eskom en ry hulle eie vullis weg. Wat kry hulle in ruil vir die residensiële tarief?”

Louis Meintjies, president van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) SA, sê hy word verskillend aangeslaan vir twee stukke grond in die Cullinan-distrik wat ewe groot en langs mekaar is. “Vir die een is die eiendomsbelasting R120 en vir die ander een R2 700. Ek ontvang geen voordeel vir die residensiële tarief wat ek op die een stuk grond moet betaal nie.”

Louis sê dat die titelakte aandui dat dit landbougrond is, maar dat die metroraad dit eensydig in residensiële grond verander het.

Volgens Ben Espach, direkteur van Rates Watch en ’n eiendomsbelasting-kenner, is daar nie ’n direkte korrelasie tussen dienste en eiendomsbelasting nie. “Baie van die ouens het tot onlangs selfs net R200 betaal, wat ’n grap is vir eiendomsbelasting.” Hy meen wel dat die metroraad afslag van tussen 5% en 10% kon oorweeg het om op ’n manier tussen landelik-residensiële en stedelik-residensiële gebiede te onderskei.

Dispuut
Lex Middelberg se raad is dat enige inwoner wat 'n dispuut wil verklaar, dit skriftelik moet doen en dit aan die metroraad se Hoof: Inkomste Bestuur, Dayalan Pillay, moet rig by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .. Inwoners wat 'n dispuut verklaar het, kan aanhou om die ou heffing te betaal, solank die dispuut hangende is.

Vir meer inligting kontak Lex by 083-627-3713 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Kontak Henri Combrink by
082-552-9428 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .. Kontak Lynette du Plessis van TLU Sentraal by 012-804-8031 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2020 Die/The Bronberger