Dis net ‘n plesier . . . PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 23 September 2013 21:39
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die nuwe kuierplek wat onlangs in een van Cullinan se geskiedkundige ou sinkhuise kom nesmaak het, dra die naam ‘Piacere’. ‘Piacere’ is die Italiaanse woord vir iets wat amper ‘dis ‘n plesier’ in Afrikaans sou wees.

Ons besluit een goeie Sondag om die plek te loop beproef en ek kan vandag met openhartigheid sê: Dit was net ‘n plesier.

Die ou sinkhuisie en sy ruim erf, net agter Oaklaan, is só ingerig dat jy jou werklik sou kon verbeel jy bevind jou iewers midde in Italië. En dis nie toeval dat eienaar, Jan Theron, vyf jaar gewag het vir die regte perseel juis in Cullinan om juis ‘n Italiaanse restaurant aldaar oop te maak nie.


Die Adriatica seekospasta van Piacere

Jan se oupa was een van die nagenoeg 100 000 Italiaanse krygsgevangenes wat met die Tweede Wêreldoorlog in Zonderwater by Cullinan aangehou is. Dit is duidelik dat dit vir Jan en sy gesin ‘n hartsding is hierdie. Baie moeite is gedoen om die besoeker ‘n ware ervaring van ‘la dolce vita’ (the sweet life) te gee.

Ons neem by ‘n buitetafel onder ‘n groot sambreel plaas. Die mooi Italiaanse musiek is in die agtergrond – waar dit hoort. Die drie kleure van die Italiaanse vlag is oral sigbaar.

Jy kan ook binne by ‘n tafeltjie met ‘n rooi-en-wit blokkies-tafeldoek of onder ‘n afdak wat Jan aangebring het, loop sit. Langs die afdak is ‘n kinderhemel in die tuin opgerig, met reuse klouterrame en goed wat die kleingoed vir ure tevrede kan hou.

Waar ons sit boepens die houtbrandoond na buite uit die sinkhuismuur uit. Dis hier waar hulle die dun-kors pizzas bak wat jy met elke denkbare kombinasie van toevoegings en dan nog jou eie samestelling daarvan, kan laat opvul.

Ek tel ‘n allemintige 45 items onder die hofie ‘Toppings’ op die spyskaart. Dié kan jy na wense en smaak gebruik om jou eie pizza of pasta te bou.

Die Margarita pizzabasis kos R20 vir die kleintjie (15 cm) en R40 vir die een van 30 cm. Dan kan jy 17 plantaardige bykomstighede, 12 vir ouens met karnivoriese voorkeure, sewe kasighede en eier, en ses van seekos, na smaak bysit. Jy kan ook jou eie pasta op dié manier bou.


Spaghetti ala Vreethans. Ryk en bevredigend

Metgesel kies pasta van die spyskaart af: Die Adriatica met ‘n fettuccini basis is ‘n seekospasta met garnale, calamari en mossels in die dop, gedoen in ‘n Mediterreense tamatie- en knoffelsous. Teen R80 is hy die Ferrari van die agt vaste pastakeuses.

Ek verkies om my eie spaghetti te bou, met ‘n bloukaassous, ansjovissies, gerookte salm en artisjokke. Jan merk dat dit nogal ryk sal wees, maar ek meld dat dit is soos ek dit wil hê. Die naaste wat ek dalk ooit aan ryk sal kom. Só ryk dat ek skoon vergeet het om die kostesom te maak.

Ons sit die bestelling in, skuif die rooie nader (jy moet in dié stadium nog jou eie saamvat) en blaai deur die spyskaart. Dis ‘n lywige stukkie leesstof.

Vir ontbyt kan jy ‘n drie-eieromelette kies met ‘n keuse van vulsels so wyd as die bopunt van Italië se kaartskoen. Of jy kan varsgebakte Ciabatta- of Bruschetta-brood met ‘n ewe wye keuse van toevoegsels daarby, bestel.

Die spyskaart het ‘n afdeling vir kinders en jy kan sien dat die mense wat dit saamgestel het, kindersmake ken. Dan kry jy ‘n groot keuse onder toebroodjies (natuurlik Italiaanse brood) en voorgeregte.


Die stoep van die sinkhuis waar Piacere nesgeskop het met die afdak en kinderhemel in die agtergrond

Onder die hofie “Main Attractions (Il Primi)” is vleis- en visdisse gelys. Die ‘Pollo Crema E Funghi’ is ’n romerige hoenderbors- en sampioendis wat jou R75 sal kos. ‘Involtini Romano’ is gekrummelde varkenstjops teen R70. Seekoskeuses is calamari of die visdis van die dag en die biefstukke (steaks) word op die Florentynse manier gaargedoen.

Piacere bedien onder meer ‘n T-been (alla Florentia) van 1 000 g. Dit sal jou R150 kos. Die een van
500 g kos R90 wat ook die prys van die 250 g fillet is. Die lendeskyf (sirloin) van 300 g kos R80.

Een wat my aandag trek is die ‘Filletto Pepato’. ‘n Beeshasie met ‘n peper en whiskiesous gedoen.
Nagereg sluit tuisgemaakte Italian Kisses in en ‘n aantal keuses van mousse.

Net om verder gestalte aan die oordadigheid te gee, word enige aantal spesiale disse van die dag op ‘n swartbord of twee op die stoep aangedui.

Die pasta wat ons bestel het was werklik uit die beste rakke van bo. Metgesel is baie partydig vir pasta en word in sekere kringe selfs as ‘n kenner daarvan beskou. Volgens haar sou jy sukkel om die poging van Piacere te troef.

My eie ‘keuseskepping’ was wel ryk, maar as jou gestel dit kan hanteer en jy neig na die rykheid van die lewe, probeer dit gerus.

Piacere, in die mooi Cullinanse sinkhuisie, is ‘n welkome nuweling onder die Bronberg se kuierplekke. Hulle is toe op Maandae en Dinsdae. Bel hulle vir meer inligting by: 082-829-6797.

 
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online