Dorslandtrekker Vaal Lou du Plessis se kleinseun het bevestig dat dié trekreëlings se afskop in ons kontrei begin het.
In verlede maand se toeka-artikel, ‘Op 82 vat Van der Merwe sy goed en trek die Dorsland deur’ het ons vertel dat die Dorslandtrek gestalte begin kry het toe ‘n 82-jarige man sy plaas, Rusfontein, oos van Pretoria in 1874 verkoop het.
Louw du Plessis van Linden, Johannesburg het laat weet dat Johannes Marthinus (Oom Hans) Van der Merwe se plaas inderdaad die Rustfontein tussen Cullinan en Bronkhorstspruit is.
Johannes Marthinus van der Merwe van die plaas Rustfontein oos van Pretoria
Foto: Geni
Rustfontein
In Julie 2009 het Die Bronberger al oor dié plaas begin skryf. Rustfontein is die tuiste van African Blessings, ’n welsynsorganisasie wat ’n beter lewe probeer skep vir weeskinders – nie net die menslike soort nie, maar ook vir perde en donkies. Daar is ’n perdereddingsentrum, kostuine, ’n kunssentrum en die Jochebed Kinderhuis.
African Blessings is ‘n paar jaar gelede deur Rita Edkins, ’n afgetrede onderwyseres, en haar man Brian uit Oos-London se wêreld begin. Rita het vertel dat sy haar besluit om te trek geneem het omdat Rustfontein se grond met haar ‘gepraat’ het.
Sy het gesê dat sy nie haar aftrede sou kon deurbring deur te brei en na die walvisse te sit en staar nie. Sy het besluit om eerder te begin droom namens wesens wat vergeet het hoe om vir hulle self te droom.
Vaal Lou du Plessis, seun van trekleier Louwrens M du Plessis, is Louw se oupa aan vaderskant
Foto: SA Genealogie
Louw
Vaal Lou se kleinseun, Louw du Plessis, is op 22 November 1945 in Grootfontein, Suidwes-Afrika gebore. Louw en sy vrou Mariana is administrateurs van die Dorslandtrekker-afstammelinge groep op Facebook. Daar is bykans 1 200 lede wat ‘n verbintenis en belangstelling in die geskiedenis van die Dorslandtrekkers se afstammelinge en voorgeslagte het.
Die plaas Zoutpanslaagte/leegte vanwaar ‘n groep van die Tweede Dorslandtrek vertrek het, het aan Louw se oupagrootjie behoort. Kommandant/veldkornet en landdros van Upingtonia, Lourens
Mart(h)inus du Plessis was een van die leiers van die tweede Dorslandtrek saam met kmdt Jan Greyling. Die swartes het hom ‘Tounjam’ – klein leeutjie – genoem.
Hy is op 11 Junie 1840 gebore, gedoop op 20 Maart 1842 deur ds Lindley, soos aangeteken in die Voortrekker-doopregister “Over de Groot-rivier”. Ongelukkig is geen foto’s van Lourens Marthinus en sy eggenote beskikbaar nie, omdat hy, volgens familie-oorvertelling, die gebod gehoorsaam het: “Jy sal geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie.”
Sy seun, Vaal Lou du Plessis van wie ons verlede maand die foto geplaas het, is Louw se oupa aan vaderskant.
Louw du Plessis en sy vrou Mariana is administrateurs van die Dorslandtrekker-afstammelinge groep
Genealogie
Louw is lid van die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika en verbonde aan die Wes Gauteng-tak, Florida. Hy maak ‘n regstelling by verlede maand se foto van Cornelius Johannes Gerhardus du Toit wat getroud was met Maria Margaretha Du Plessis. Hy sê dat sy eers getroud was met Willem Andries Stephanus Du Plessis, wat in 1884 oorlede is met ‘n skermutseling teen swart stamme in Angola.
Maria is op 27 Junie 1862 gebore en is op 28 Desember 1862 in die Gereformeerde Kerk Rustenburg gedoop. Sy was die dogter van Lourens M Du Plessis, gebore op 11 Junie 1840 in die Winburg-Potchefstroom Republiek, en Geertruida Maria Margaretha Steenkamp, gebore op 27 Junie 1843 te Weenen, Natal. Maria is op die plaas Moravia, Otjiwarongo Distrik, begrawe.
Dié voorbladfoto wat op Die Bronberger se November 2011 voorblad gepryk het, is op
Rustfontein geneem
Begrawe
By verlede maand se foto van Michael Wilhelm “Giel Prens” Prinsloo en gesin: Louw sê dat Giel Prens se vrou, Martha Catharina Jacoba Prinsloo, nie in Mombolo, Angola begrawe is nie. Sy het in November 1928 as weduwee saam met haar seun Michiel Wilhelm Prinsloo (gebore 1896) en sy gesin oor die grens na Suidwes-Afrika getrek as deel van Groep 28. Martha is vermoedelik in 1938 in die Grootfontein-distrik oorlede.
Lesers wat ‘n verbintenis met die Dorslandtrekkers het, is welkom om Louw te kontak oor die deel van inligting en foto’s en moontlike toekomstige reünies. Skakel 011-888-3433 of 082-507-4639 of epos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
of besoek https://www.facebook.com/groups/dorslandangola/.
Rita en Brian Edkins, direkteure op die plaas Rustfontein, soos hulle in Die Bronberger
se Julie 2009 uitgawe verskyn het
|