Nog 'n hospitaal vir die Bronberg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 September 2013 23:28
Untitled Document

Dit blyk dat die hospitaal-ontwikkeling op Grootfontein langs Garstfonteinweg-verlenging nou voortgaan.

In 2008 was daar planne vir ‘n vier-verdieping R450-miljoen hospitaal en rehabilitasie-sentrum op gedeelte nege, Grootfontein. Ontwikkelaar Carel Krog het destyds aangedui dat die projek 12 tot 18 maande sou neem om te voltooi en in Junie 2008 sou begin.


Dié advertensiebord vir die ‘Pretoria East Corporate Park’ wat ‘n hospitaal insluit, staan langs Garstfonteinweg-verlenging, skuins oorkant Farmers Shed. Grootfontein Landgoed is in die agtergrond

Klaarblyklik het die ontwikkelaars dié hospitaalplanne aan die destydse Kungwini munisipaliteit voorgelê nadat Kungwini hulle genader het om ‘n 20 hektaar stuk grond vir lae-koste behuising te bekom.


Die bord sê dat die ‘Pretoria East Corporate Park’ van 83 000 m² ‘n private hospitaal van 40 000 m² insluit sowel as ‘n hotel van 10 000 m², kleinhandel ruimte van 11 000 m², kantore van 15 000 m² en ‘n vertoonlokaal en motorhawe van 7 000 m²

Die openbare deelnameproses vir dié ontwikkeling se omgewingsimpakstudies is op 6 November 2007 deur African EPA begin. Inwoners van Grootfontein Landgoed het destyds aangedui dat hulle nie die ontwikkeling van ‘n hospitaal teëstaan nie, maar dat hulle bekommerd was oor verkeer en munisipale dienstelewering in die gebied. Hulle wou gehad het dat Garstfonteinweg-verlenging eers opgegradeer moet word.

 

© 2019 Die/The Bronberger