Nuwe Cullinan-pad herlei toe nié verkeer nie PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 September 2013 23:27
Untitled Document

Gerugte dat die padwerke aan Zambeziweg-verlenging bedoel is om dié pad te herlei om by die R513 na Rayton aan sluit, is nie waar nie. Swaar voertuie wat die tolgelde op die N4-snelweg wil ontduik, gaan steeds in hulle hordes deur Cullinan ry.

Zambeziweg-verlenging, bekend as die K14, word na K-roete standaarde opgegradeer vir die 2,5 km van die Chris Hani woonstelle tot in Cullinan.

Volgens Phakamile Ngqumshe, die toesighoudende ingenieur van die konsulterende ingenieursfirma, Jeffares & Green, is die pad steeds  net ‘n toegangsroete tot Cullinan. Hy sê egter dat toekomsplanne vir die K-roete behels dat die pad buite om Cullinan sal loop en by die Rayton-pad naby die landdroshof sal aansluit. Hy kon nie sê wanneer dit sal gebeur nie.

Befonds
Die padprojek word deur die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer befonds en die hoofkontrakteur is Empyreal (Pty) Ltd. Jeffares & Green is verantwoordelik vir toesighouding namens die departement.

Die projek van agt maande kos R53-miljoen en behels nuwe padwerke vir 2,62 km, en die rehabilitasie van die bestaande P2-5 pad vir ‘n verdere 1,2 km. Die bestaande pad word met 2,4 m wyer gemaak en nuwe padteer (asfalt) word oorgesit. Die nuwe pad wat na die K-roete standaard opgegradeer word, sal twee 3,7 m wye bane hê met 0,6 m bedekte padskouers en 2,4 m onbedekte padskouers.

Die nuwe pad gaan soortgelyk wees aan die pad van Baviaanspoort Korrektiewe Dienste tot naby die Chris Hani woonstelle, wat van 2005 tot 2008 gebou is.


Padwerke net buite Cullinan

Vertraging
Padwerke buite Cullinan het op 11 Februarie begin en die beplande voltooiingsdatum was 11 Oktober. Phakamile sê egter dat onvoorsiene vertragings gemaak het dat die projek nie in Oktober klaargemaak sal word nie. Hulle verwag dat die pad wel voor die einde van die jaar voltooi sal wees.

Vrese dat die pad te naby aan die diamantmyn se gat gaan loop, is glo ongegrond. Phakamile sê dat die pad die huidige roete verby die gat en die vulstasie volg. Dit is die deel van die roete wat slegs gerehabiliteer word en nie oorgebou word nie.

Die dinamiet skietwerk wat met die konstruksie van die nuwe pad gedoen is, het baie belangstelling gelok, maar klaarblyklik is geen diamante gevind nie.

Histories
Roete P2-5, is voor die Tweede Wêreldoorlog gebou om Pretoria se noordelike voorstede met Cullinan te verbind. Dié pad was ‘n toonbeeld van die ingenieurswerke van vergange jare.

By Baviaanspoort-tronk loop ‘n ou kanaal wat deur krygsgevangenes met bakstene gebou is, onder die pad deur. Dié kanaal word steeds gebruik; hy volg die kontoere en vervoer water van die Pienaarsrivier tot by die tronk se groentetuine.

Die ou pad tussen die tronk en Cullinan was nouer as ses meter (die ou standaard van 20 voet) en is met klip afgewerk, wat daardie jare standaard praktyk was.

 

© 2019 Die/The Bronberger