Deurmekaarbos is aanwins vir netjiese tuin PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 23 September 2013 23:25
Untitled Document

Dit is nie moeilik om te sien waar die deurmekaarbos sy naam vandaan kry nie. Dit lyk of sy takke in mekaar verstrengel geraak het terwyl hulle grondwaarts probeer afbeur. Min mense weet dat dié bladwisselende bos met sy onnette kroon tot nege meter hoog kan word.

Die deurmekaarbos, Ehretia rigida, is na die 18e eeuse botanikus en botaniese illustreerder, Georg Dionysius Ehret, vernoem. Die Latynse woord ‘rigida’ verwys na die boom se harde, stywe blare.


Vrugte

Doepa
Die boom is tradisioneel vir verskeie medisinale doeleindes gebruik. Sy wortels is verpoeier en gebruik om klein snytjies in die vel te behandel. Dit is oor die maag en bors gesmeer om pyn te verlig en is ook gebruik om galsiekte in vee te behandel.

Jagters het geglo dat die deurmekaarbos geluk bring. Hulle het die sterk, buigbare takke van dié bos gebruik om boë te maak in pyl-en-boogjag en om vismandjies te maak. Die takke is ook gebruik om hutte en landbougewasse teen hael te beskerm.


Blomme

Bas
Die deurmekaarbos het gewoonlik meer as een stam. Die bas is baie glad en grys aan nuwe takke en growwer aan ouer takke.

Die blomme groei in die lente in digte trosse aan die takke. Manlike en vroulike weergawes van dié ligte pers, blou of wit blomme word aan verskillende bome gedra. Hulle is ongeveer 7 mm in omtrek en het ‘n soet geur.

Die vrugte volg daarná. Hulle het aanvanklik ‘n oranje tot rooi kleur en word swart as hulle ryp is. Dié ronde vrugte word deur vee en wilde diere gevreet en lok insekte en voëls. Mense kan ook die vrugte eet, alhoewel hulle nie baie lekker proe nie.

Parasitiese plante soos voëlent kom algemeen op die deurmekaarbos voor en dit lok weer voëlent-vreters soos die geelblestinker en bonthoutkapper.

Dit is vir dié voëllokkende rede dat die deurmekaarbos besig is om baie gewild onder tuiniers te word. Hy kan netjies gesny word as ‘n struik of as ‘n heining aangeplant word en hy is gehard en droogte bestand.


Deurmekaarbos

Groei
Die deurmekaarbos groei maklik van saad en stiggies. Saai die saad in ‘n mengsel van riviersand en kompos in ‘n saailingbak en bedek met ‘n dun lagie sand. Moenie die saad te diep plant nie.

Die saad sal binne tien tot 20 dae ontkiem. Klein plantjies moet eers die volgende seisoen in die grond uitgeplant word. Die plantjies groei vinnig teen omtrent 600-700 mm per jaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger