Zwavelpoortse duiker gekwes en gelos om te ly PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 23 September 2013 23:24
Untitled Document

Een van die min duikertjies wat nog in Zwavelpoort-wes rondloop is vroeg in September met ‘n .22 gekwes en net so gelos om te ly. Dit word vermoed dat kinders hiervoor verantwoordelik is.

Die Van Hoepens van plot 80 het die ooitjie naby aan hulle huis gekry. “Die bokkie is beslis op ons plot geskiet, want sy kon vanoggend nie deur die heining wegkom nie,” het Lorette van Hoepen gesê. “Sy was baie seer en bloed het uit die wond getap. Haar urine was ook vol bloed.”

Die Van Hoepens het vir Pieter Brouwer van Bester Voëls en Diereplaas gebel en hy was gou op die toneel. Pieter het die ooitjie met ‘n vangnet gevang en vir versorging weggeneem, maar het gewaarsku dat haar kanse nie goed was om dit te maak nie.

Hy het die Van Hoepens die volgende oggend laat weet dat die ooitjie nog lewe, maar steeds in skok was en niks wou vreet nie.


Die gekweste Zwavelpoortse duikertjie
Foto: Pieter Brouwer

Pieter sê toe hy met die bokkie van plot 80 af weggery het, hy op 'n afvlerk kwêvoël afgekom het. Die voël is ook geskiet.

Daar is ‘n sterk vermoede dat kinders dié diere vir die pret probeer doodskiet het. Lorette sê dat al die bure ontken dat dit hulle kinders is wat diere skiet. “Wie ookal skiet; kan maklik ons perde of beeste raakskiet,” sê Lorette.

Teen Die Bronberger se spertyd het die duiker ooitjie nog gelewe. Sy het begin vreet, maar het nog gesukkel om te loop. As sy volkome herstel, sal sy teruggeneem word na die Van Hoepens se plot. Intussen bly sy onder toesig in ‘n kampie by Bester Voëls en Diereplaas.


Die twee skietwonde van nader beskou
Foto: Pieter Brouwer

Naam
Die naam ‘duiker’ word gebruik om 19 klein boksoorte wat in die sub-Sahara deel van Afrika voorkom te beskryf. Sommige mense sê duikers het dié naam gekry omdat dit lyk asof hulle in ruigtes of struike induik as hulle mense gewaar. Ander sê weer die naam beskryf die duikende spronge wat hulle gee as hulle hardloop.

Duikers is skaam diertjies wat nie maklik gesien word nie omdat hulle in digte bosse wegkruip. ‘n Duiker het ‘n effe geboë lyf en die voorbene is ‘n bietjie korter as die agterbene sodat hy maklik in bosse kan induik.

Duikers vreet blare, sade, vrugte, peule, blomme, wortels en bas, en sal hulle gewone dieet van tyd tot tyd met insekte, knaagdiere of klein voëltjies aanvul en sal selfs aan karkasse vreet.


Die gewone duiker
Foto: Wikimedia

Bronberg
Die duikers wat in Bronbergwêreld voorkom is meestal die gewone of grys duiker, Sylvicapra Grimmia. Dié duiker se kleur kan wissel van gryserig tot rooibruin en daar is opvallende kleurverskille van streek tot streek. Hy is egter altyd witterig aan die onderkant van sy maag en stert, en die voorkant van sy voorbene is donkerbruin. Baie duikers het ‘n swart band oor die kop wat tot by die neus loop.

Volwassse ramme se skouerhoogte is 500 mm en ooie staan omtrent 20 mm hoër. Ramme weeg
15-18 kg en ooie 16-21 kg.

Daar word gewoonlik een lammetjie gebore na ‘n dragtigheidtydperk van drie maande. Lammers kan begin hardloop as hulle een dag oud is, maar vir die eerste paar dae sal die ooi hulle onder digte struike wegsteek as sy gaan wei.

Hulle is teen sewe maande uitgegroei en ooie kan dragtig raak as hulle agt tot nege maande oud is. Die gewone duiker word agt tot 11 jaar oud.
 

 

© 2019 Die/The Bronberger