Geluk met elf jaar PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 23 September 2013 21:02
Untitled Document

Liewe Leser en Adverteerder,

Baie geluk met Die Bronberger se elfde verjaardag!

Ja, ons sê vir julle geluk. Want om elf jaar as ‘n onafhanklike gemeenskapspublikasie te bestaan en selfs te groei, sou nie moontlik gewees het sonder ons wonderlike adverteerders en lesers nie. En ons sê om dieselfde rede vir julle dankie: Geluk en dankie.

Sedert daardie eerste, beskeie uitgawe van September 2002, het baie water met die gebied se spruite koers gekry dam toe. Dit was nie altyd maklik nie. Veral in die beginjare het dit soms broekskeur gegaan. En in hierdie noustroptye het ons dikwels gewonder of vriende en ‘kenners’ in die mediawêreld nie tog reg was nie: Hulle het ons gewaarsku dat ‘n onafhanklike, gratis glanstydskrif binne ‘n geslote gemeenskap ‘nie kan werk nie’.

Telkens, as die moed, wil en die hoop ons amper wou verlaat, was dit lesers uit die gemeenskap wat met meelewing, komplimente, bemoediging en voorstelle weer wind in die seile gesit het. En dit was adverteerders wat bereid was om op die bloedjong Bronnie te waag wat ons op die aanhoupad gehou het. ‘n Pad wat deur die genade met hierdie uitgawe, nou sy twaalfde jaar binneloop.

Ons is ook baie dank verskuldig aan die handjievol mense wat vlak langs ons op hierdie pad geloop het en nog loop. Die mense wat in die beginjare met advertensie en samestelling gehelp het en dié vriende wat dit die afgelope aantal jare doen – Tania Potgieter, Jeanette Janse van Rensburg en Elsabé Maré.

Geluk, julle almal, met ons verjaardag!


Angie en Gerhard Kleijn

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online