Ons vat ‘n Winterpad Karoo toe PDF Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 25 August 2013 17:30
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Jare gelede, iewers langs die Bronnie se elfjaar-pad, het ons ‘n afsaaldraai by Karoo Café neffens Lynnwoodweg loop maak.

Ek onthou dit was ‘n snikhete somermiddag. Ek onthou die allersmaaklikste lamsbredie en die ontspanne atmosfeer in die oopte van die skuuragtige struktuur. Ek onthou die boeke, die kuns en die swart Deense hond en ek onthou nog hoe ons die plek tevrede verlaat het – met die vaste voorneme om weer daar te gaan draai.

Nou, ‘n goeie ses jaar later, is ons terug. Maar dié keer is dit ‘n byterige winternag en die primêre rede vir ons besoek is ‘n optrede van die multi-talentvolle Esperance Grobler in die Asbos Teater. Die Asbos is intussen agter in, dog afgesonder van die kuierskuur aangebring.


Esperance Grobler

Ons meld vroeg aan om eers uitvoering aan die sekondêre rede vir ons besoek te gee: Iets vir die innerlike voor die vertoning in die Asbos begin. Die tafeltjie wat aan ons toegewys word, is lekker naby aan die kroeg, naby aan die kombuis en vlak by die houtvuur vir ‘n vertroostende hittetjie.

Met ‘n glasie van rooi en die spyskaarte voor ons oop, loop ons, ons in ‘n ligte probleempie vas. Die ligte in die kuierplek is goed gedomp vir die nodige atmosfeer. Dit sorg daarvoor dat ons, selfs met die nommer een leesbril op, om te dood nie die kleinskrif op die spyskaart gelees kry nie. Selfs met die latere hulp van kerslig en kelner, kos dit kwaai konsentreer, maar ek sien genoeg om my ‘n vaste besluit te laat neem: Ek gaan so gou moontlik ‘n ontbyt by Karoo Café kom inwerk.

My keuse sal waarskynlik val op die skilpadjie-ontbyt. Hulle bedien dit saam met pap, chakalaka en bakeiers teen R54. Net ter inligting van besorgdes, soos die tannie wat destyds oorle ou Faan se eetplek by die DBV gaan aangee het, ‘n skilpadjie is in dié geval lewer in netvet toegewikkel en nie ‘n baba-reptiel wat sy huisie op sy rug ronddra nie.

Of nee, ek dink ek sou eerder die pampoenkoekiestapel met spek, camembert en kersiesous wou beproef. Dit kos R62. Roosterkoek, so eie aan die Karoo soos lamtjops, kry jy nie sommer op ‘n spyskaart nie, maar hier kry jy dit – soet of sout – teen R35. Die ontbytkeuse loop veel wyer as genoemde lekkernye en die bonus is dat dit daglank bedien word.


Gemaklik en professioneel was die opvoering

Soos te verwagte van ‘n Karooplek, is lamsdisse goed verteenwoordig op die ‘hoofspyskaart’. Die lamspotjie wat ek in die vervloë geniet het word in ‘n balsamiese rooiwyn en tamatie-aftreksel verlekker en saam met kapokaartappels of rys en groente voorgesit. Dit kos R115. Volstruisdisse, verskillende snitte van bees, ‘n aantal hoenderkeuses, pasta, viskos in die vorm van mossels, quiches, ‘n verskeidenheid interessanthede op bruschetta, ‘n Karoo lamsburger op roosterkoek en selfs ‘n warm lamslaai spreek van verbeeldingrykheid met tradisionele kosse.

Op ‘n groot swartbord is geregte opgekryt wat jy nie op die spyskaart sal sien nie. Dié lees ons sonder moeite. Vannaand is dit ondermeer beesstert en soppe. Vasgevang in die gees van winter, besluit ek op die groentesop met vars, warm brood. Metgesel kies ‘n pasta – penne met gerookte forel – van die spyskaart af. Dit word voorberei met kappertjiesaad en sitrusroom en weeg in teen R78.

Die wag sou sekerlik nie so lank gevoel het, as ons nie bang was ons gaan laat wees vir Esperance se optrede nie. Maar anders as ander Asbos-besoekers, was ons net betyds klaar.


Esperance en haar begeleiers bekoor die gehoor in die knussige Asbos

Metgesel se pasta het meer as voldoen aan haar kwaliteit- en kwantiteitsverwagtinge. Die groentesop teen R40 was smaaklik en ryklik met vleis oordoen – net soos ek daarvan hou.

Die vertoning van Esperance in die gepakte, knussige teatertjie was iets wat ons en die ander waarderende Asbosbesoekers lank sal bybly. Sy het haar vertoning ‘Winterpad’ genoem en van haar eie en ander se werke in Afrikaans, Frans en Engels opgevoer. Sy is begelei deur baie vaardige musikante en het tussendeur self stryk-, blaas- en klawerinstrumente ewe vaardig bespeel. Ek kon ‘n hele versameling byvoeglike naamwoorde hier afgerits het om Esperance en haar vertoning te beskryf en almal sou ophemelend van aard wees. Maar ek volstaan met ‘n openhartige aanbeveling om die kans aan te gryp en te gaan ervaar as sy weer iewers optree.  

As jy inligting wil hê oor die Karoo Café kan jy hulle by 074-834-4414 bel.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online