Rooikat is stoepsitter aan Bronberg se hange PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 25 August 2013 19:19
Untitled Document

Rooikat se kind slaag nog daarin om ‘n tuiste in die snel-ontwikkelende Bronberg-gebied te vind. Elke nou en dan word daar berig dat ‘n rooikat homself aan die Bronberg se hange tuismaak en inwoners wat hom op kamera vasvang, vind dié kat telkens op ‘n stoep.

Rooikatte kan maklik mak gemaak word en is vroeër in Iran en Indië gebruik om jagters te help jag. In ons land is die rooikat egter as 'n probleemdier geklassifiseer omdat hy groot skade onder 'n trop skape of bokke kan aanrig en meer vee sal doodmaak as wat hy op een slag kan vreet. Hy byt die bok of skaap dood, maar vreet gewoonlik net die sagte weefsel van die boud- of bladvleis en los die res van die karkas.


Dié rooikat is in November 2006 in die Zwavelpoort-gebied afgeneem

Baie boere beskou die rooikat as 'n pes wat uitgewis moet word, maar ander meer natuurbewuste boere beperk rooikatgetalle deur hulle reukafskeiding te gebruik om gebiede af te baken. Hulle vang die rooikatte ook in spesiale vanghokke waarmee hulle na minder bewoonde gebiede vervoer word.

In dié vangproses het boere ‘n aantal interessante dinge oor rooikatte uitgevind. 'n Rooikat sal byvoorbeeld nie in die nat veld stap nie. Hy stap eerder op die wal van ‘n dam, om 'n donga, op die kant van die pad of op droë land. Hy sal ook nie in 'n pas gestroopte koringland loop nie, want die stoppels maak sy voete seer.


Rooikatte word maklik mak
Foto: animal orphanage kenya

Gebied
Dié katte is gewoonlik alleenlopend en kom slegs in pare voor wanneer hulle paar, of wanneer ‘n wyfie kleintjies het. Elke rooikat baken 'n jaggebied af. Die wyfie se gebied wissel tussen vyf en 57 vierkante kilometers, afhangende van die beskikbaarheid van prooi, en sy sal dié gebied aktief teen ander wyfies verdedig.

‘n Wyfie bly naby aan haar geboorteplek en haar gebied sal soms met dié van haar ma oorvleuel. Die mannetjie se gebied is veel groter – van 19 tot 220 vierkante kilometers – en hy sal ver van sy geboorteplek beweeg om sy eie gebied af te baken.


‘n Rooikat-kleintjie
Foto: Wikipedia

Uitken
Die rooikat, Felis caracal, word aan sy rooibruin pels en lang swart haartossels aan die punte van sy groot ore uitgeken. Hy jag snags en sy breë oorskulpe kan ‘n skaars hoorbare geritsel opvang. Die oorkwassies word heen en weer gedraai en die kat kommunikeer so met mededingers en maats.

Hy kry die ‘caracal’ deel van sy naam van die Turkse woord ‘karakal’, wat ‘swart oor’ beteken.

Die rooikat is 'n medium grootte kat, met ‘n skouerhoogte van 40-45 cm. Volwasse mannetjies weeg
17 kg en wyfies 11.5 kg. Hy het ‘n kort dik stert en sy agterpote is heelwat langer as die voorpote. Sy pote is groot in verhouding tot sy grootte en gewig, en hy het skerp, intrekbare kloue.


Die rooikat wat Bateleur Bastion in Wapadrand gereeld besoek het
Foto: Bateleur Bastion Nuusbrief Jul/Aug 2011

Sy gesig word deur 'n swart streep wat vertikaal deur elke oog loop en deur sy wit ken en swart bolip, belyn. Daar is wit merke op sy keel, ken en maag.

Die rooikat is hoogs aanpasbaar en kom in feitlik enige habitat voor – van bosveld tot semi-woestyngebiede en oop grasveld tot natter woudland en ruigtes, of immergroen bergwoude. Hulle gunsteling habitat is egter droër woudland en grasveld waar ruigtes voldoende skuiling bied.


‘n Rooikat-spoor
Foto: Bateleur Bastion Nuusbrief Mei/Junie 2011

Skugter
Die rooikat is 'n skugter dier wat bedags in boomstompe, skeure en ou erdvarkgate wegkruip en snags jag. Sy prooi strek van voëls, reptiele, klein diere soos bobbejane, ape, dassies, hase en klein wildsbokke soos rooibokke, bosbokke en rietbokke.

Groter prooi word bekruip, bespring en aan die keel gegryp en versmoor. Voëls wat op die grond nesmaak word gejag terwyl die voël sit en slaap, maar dié kat kan baie hoog spring om voëls in vlug uit die lug te vang.

Hy bedek soms sy half-gevrete prooi met gras om later na die prooi terug te keer. Rooikatte kan goed boomklim en kan vir lang tye sonder water oorleef. Anders as ander katte krap hulle nie hulle mis toe nie en die mis het wol en stukkies been in.


Die rooikat
Foto: Shutterstock

Kleintjies
Die rooikat is op ongeveer 20 maande volwasse en paar grootliks in die wintermaande oor 'n tydperk van ses dae. Die wyfie se dratyd is ongeveer twee maande en sy kry twee tot drie klein katjies wat so 300 gram by geboorte weeg en 21 gram per dag ná geboorte optel. Hulle word blind gebore en hulle oë gaan eers na 'n week oop.

Klein katjies begin vleis eet as hulle omtrent 45 dae oud is, en hulle is binne nege tot 12 maande onafhanklik. 'n Wilde rooikat word 15 jaar oud en dié in aanhouding tot 17 jaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger