Speel gou met plakkers PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 25 August 2013 19:01
Untitled Document

Het jy ‘n probleem met plakkers op jou grond? As jy versuim om dadelik op te tree teenoor betreders wat grond onwettig beset en strukture oprig, is die wet nie baie vriendelik met jou nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het 'n dokument opgestel wat wenke aan gemeenskappe gee oor optrede teen onwettige besetters van hulle grond.

Besetters moet in kennis gestel moet word dat hulle die eiendom onwettig betree en dat hulle die perseel dadelik moet verlaat. Dit is noodsaaklik dat 'n klag van betreding by die plaaslike polisiestasie afgelê moet word.

Daarvoor gaan jy ‘n beëdigde verklaring moet doen. Heg die handleiding van die polisie by die verklaring aan vir kennisname deur die ondersoekbeampte, die staatsaanklaer én die landdros.

Die polisie moet versoek word om die betreders te verwyder of om hulle in hegtenis te neem as hulle weier om die perseel te verlaat.

Die polisie het nie die diskresie om te weier om teen betreders op te tree nie.

As die aanklaer besluit om te weier om die saak te vervolg (dit word as nolle prosequi verklaar), kan jy op 'n nolle prosequi-sertifikaat aandring. Jy kan die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) nader om die saak vir vervolging na 'n hof te verwys.


Plakkershutte soos dié word in ‘n japtrap opgerig

Inventaris
Jy moet voor 'n getuie 'n inventaris van die besetters se persoonlike besittings en boumateriaal opstel en dit merk sodat dit herken kan word. Breek die strukture ordelik af en bewaar die eiendom behoorlik.

Die volgende stap is om voor 'n getuie 'n skriftelike kennisgewing aan die besetters te gee wat sê dat jy op hulle eiendom beslag sal lê indien dit nie binne 21 dae afgehaal word nie.

As jy nie die eienaars van die eiendom kan opgespoor nie, kan jy twee advertensies in plaaslike koerante plaas.  

Afriforum waarsku dat ‘n mens bedag moet wees op moontlike wraak wanneer die eiendom afgehaal word. Dit moet verkieslik by 'n polisiestasie afgehaal word.
 

© 2019 Die/The Bronberger