Koraalbome se ou naam word
nie sommer meer gebruik
nie, maar ’n mens kan seker
maar sê waar dit vandaan gekom
het. Dié bome is tradisioneel as
koninklike bome gesien en is op
die grafte van Zulu hoofmanne
geplant.
Hulle is ook as lewendige heinings
rondom krale, hutte en watergate
geplant en as hulle blom was dit ’n
teken dat dit tyd is om gewasse
aan te plant. Die koraalboom was
een van die eerste wilde bome
wat in Suid-Afrikaanse tuine
aangeplant is.
Tradisioneel is daar geglo dat die
koraalboom beide medisinale en
bonatuurlike magte het. ’n Hoofman
het geglo dat sy stam hom vir
ewig sal respekteer as hy bad in
water waarin koraalboom-hout
geweek het.
Die koraalboom Foto: Aluka
Tradisioneel het vrouens wat gereed
was om te kraam ’n aftreksel
kruie gekry om die geboorte
makliker te maak. Strokies boombas
wat vanaf al vier kante van die
koraalboom gestroop is, is rondom
die sakkie kruie gebind voor die
kruie gekook is.
Water waarin dié bas geweek het,
word gemeng met die wortel van’n spesie Cussonia en gebruik as ’n
kragtige braakmiddel. Fyngemaalde
blare word oor ’n wond waarin
maaiers begin nesmaak het,
geplaas en dit jaag blykbaar die
maaiers weg.
Geluk
Die sade word as gelukbringers
gebruik en die bas is as ’n warm
pap gebruik om sere, wonde,
absesse en rumatiek te behandel.
Aftreksels van die blare is gebruik
as druppels vir oorpyn en ’n
afkooksel van die wortels is op verstuite
enkels geplaas.
Die boom bevat ’n groot hoeveelheid
alkaloïede wat baie giftig is,
maar sy gebruik in tradisionele
medisyne wys dat hy ook antibakteriële,
anti- inflamatoriese en pynverdowende
effekte het.
Volgens kenners kom die giftige
alkaloïedes veral in die sade voor
en bevat middels wat bloedklonte
verhoed en wat waarskynlik van
waarde is in die behandeling van
trombose.
Die hout is lig en kurkagtig as dit
droog is. Daarom is dit gebruik om
kano’s en vlotte te maak asook
watertrôe en remblokke. Die
koraalboom is ’n belangrike deel
van die ekosisteem en voorsien
voedsel en skuiling aan ’n verskeidenheid
voëls, insekte en diere wat
die nektar en bloeisels vreet.
Koedoes, klipspringers, swart
renosters en bobbejane vreet die
blare, terwyl die bas ook deur
olifante, bobbejane en renosters
gevreet word.
Bosvarke vreet die wortels en
bruinkoppapegaaie versprei die
saad. Voëls soos houtkappers en
spegte maak nes in stamme van
die dooie bome en swerms bye
trek gewoonlik in onbewoonde hol
stamme in.
’n Koraalboom se blomme van naderby bekyk
Groei
Die gewone koraalboom, Erythrina
lysistemon, is ’n klein tot mediumgrootte
bladwisselende boom met
helderrooi blomme. Die bas is glad
en donker grys tot grys-bruin. Die
vrug is ’n dunnerige swart peul van
15 cm lank wat oopsplit as dit nog
aan die boom is om helderrooi‘lucky bean’ sade te versprei.
Die koraalboom is ’n vinnig
groeiende boom wat redelik
droogte-bestand is, maar sensitief
is vir koue. Jy kan die boom maklik
kweek van saad, stiggies of takke.
Week die saad oornag in warm
water om ontkieming aan te help.
Die saad moet in die lente en
somer gesaai word in goed gedreineerde
grond. Die saailingbakke
moet op ’n warm plek met voldoende
skaduwee staan.
Stiggies moet in die lente en somer
geneem word en takke in die laat
winter en vroeë lente. Gebruik ’n
deel van ’n tak wat vir ’n paar dae
gelos is om droog te word. Plant
die tak in ’n pot gevul met sand en
hou klam. As ’n plant oorgeplant
moet word, is dit die beste om dit
in die winter te doen terwyl hy
dormant is. |