‘n Rooi lorrie is ‘n mooi lorrie PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 29 July 2013 00:48
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Menige gewilde kuierplek langs die ou Bronkhorstspruitpad in Donkerhoek se geweste het oor die jare heen gekom en gegaan. Ons onthou die ou Avondson Hotel, Die Blikbord en die Riverside Mixer – lekker uitspanplekke wat om verskillende redes gesneuwel het en ‘n leemte in dié gebied gelaat het.

Die goeie nuus is dat daardie leemte nou deeglik deur ‘n nuwe uitspanplek, Die Rooi Lorrie, gevul is. Die reuse rooi lorrie staan op ‘n Donkerhoekhoewe vlak langs die nuwe, verbeterde ou Bronkhorstspruitpad en agter hom is ‘n netjiese kuierplek in die mooi tuine ingerig.


Die ou grote waarna Donkerhoek se nuwe kuierplek vernoem is

Ek en Metgesel neem plaas by ‘n tafeltjie onder die grasdak van die netjiese eetvertrek. Jy weet jy is by ‘n plattelandse plek, want bekendes en onbekendes groet jou vriendelik en die ander gaste praat met mekaar.

Oorkant die wandelpaadjie sit die knussige kroegie gepak met gemoedelike kuierbasse. Ons voel ons tuis. In die tuin baljaar ‘n spannetjie baldadige kinders en ‘n plothond of twee doen mee.

‘n Vriendelike kelner bring die spyskaart aan en sy vra dadelik die belangrike vraag: “Wat gaan julle drink?”


‘n Lekker gerieflike eetplek in die oopte

Die Rooi Lorrie het ‘n verstommende groot wynversameling wat agter teen die muur in rakke uitgestal lê. Gaste staan van hulle tafeltjies af op, loop snuffel deur die wyne, kies ‘n bottel wat hulle geval en vat dit saam tafel toe.

Die spyskaart is in Afrikaans omdat die plek se mense duidelik verstaan dat hulle klante grootliks ook Afrikaanssprekend is. ‘n Beperkte hoeveelheid uitsoekgeregte en ‘n goeie verskeidenheid pizzas word in die taal van die gaste aangebied. Geregte ‘van die dag’, wat nie op die spyskaart is nie, soos lamskerrie en wildpastei, bied ‘n ietsie ekstra.


Vegetariese pizza wat nogal kwaai knof

Onder die hofie, ‘Op die tafel’, pronk onder meer: T-been, kruisskyf (rump), ribbekas en lewer met uie, Die T-been is 500 g teen R79, die rump van 300 g kos R75, die ribbekas R69 en die lewer R55. Dit word bedien met skyfies of pap en slaai. Jy kan ook ‘n kaasburger teen R35 bestel. ‘n Stewige keuse pizzas word aangebied, waaronder die Rooi Varkie en die Lorrie Glory tel. Almal kos op die kop R50. Die Rooi Lorrie se pizza word in ‘n buite-houtoond gaargedoen.

Dure ondervinding het my geleer dat dit ‘n enorme waagstuk is om lewer in ‘n restaurant te bestel. Dit wil lyk of hierdie uitsoekkos se voorbereiding nie op sjefskool geleer word nie. Maar ek is baie partydig vir lewer en ek trek die waagskoene aan en bestel.

Nou kan ek vandag verklaar dat iemand by Die Rooi Lorrie se tannie of ma of ouma of iets genoemde iemand geleer het hoe lewer eintlik moet smaak. Dit kom aan in netjiese snysels saam met ‘n bruin uiesous en ordentlike growwemeelpap. Die lewer is murgsag (nie te gaar en droog gekaiing nie) en het die nodige soetsuursmakie. Amper perfek.


Lewer met growwepap om oor gaande te raak

Metgesel bestel die vegetariese pizza met sampioene, feta, olywe, uie, groen peper en knoffel.

Metgesel merk dat die pizza ook amper perfek is en dat dit nogal kwaai ‘knof’. Sy hou daarvan só.

As jy ‘n draai by Die Rooi Lorrie wil gooi en nie seker is van die hoe en waar nie, kan jy hulle bel by: 072-043-7765.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online