Bekende radiostem onthul geheime uitsaai-taktiek in grensoorlog Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 16 July 2008 02:00

Mooiplaats se Anieta Armand het vir 30 jaar by bykans elke radio-stasie in die land uitgesaai. Hier vertel sy van die grensoorlog toe sy rondgejaag het met beweegbare senders in Angola, dreigende aanvalle op Radio Pretoria, haar tyd as trokdrywer, haar nuwe toermaatskappy en haar eerste uithourit wat sy op die ouderdom van 71 voltooi het.

Min Bronbergers weet dat een van ons land se bekendste radiostemme uit die verlede al vir bykans vyf jaar lank op Mooiplaats bly. Moet egter nie dink dat Anieta Armand se loopbaan agter die mikrofoon begin en geëindig het nie. Sy het letterlik en figuurlik ’n hele paar wilde perde opgesaal. Diegene wat in Februarie vanjaar by die Willem Prinsloo Landboumuseum se 33,6 km uithourit was, sal die aankondiger se verbasing onthou toe hy Anieta se geboortedatum op haar inskrywingsvorm sien.

“Hier kom sy,” het hy gesê. “Dié 71-jarige tannie het so pas die eerste uithourit in haar lewe voltooi.” Anieta het van kleins af ’n passie vir perde. Sy is in Derdepoort, Pretoria gebore en het in ’n Afrikaanse ouerhuis grootgeword met Engelse digkuns en literatuur, opera, ‘lieder’ en alles wat ’n mens as ’n goeie dosis kultuur kan beskou. Dié tweetaligheid was toe juis die ding wat haar die ideale omroeper gemaak het.

Skou
Eintlik het Anieta se loopbaan in die uitsaaiwese op ’n baie vreemde manier begin. Sy was getroud met ’n veearts in Middelburg en een jaar was daar toe ’n skou op die dorp. Anieta het ingespring en dinge gereël, van die voorspelbare tot die vreemdsoortige -’n skoonheidskompetisie vir mans.

Onthou dat ons nou praat van die vroeë sestigerjare. Dié petalje was so ongewoon dat Fanus Rautenbach dit kom beoordeel het. Anieta was die een wat die deelnemers aangekondig het en kommentaar op hul skoonheid, of gebrek daaraan, gelewer het. Fanus het vir Anieta gesê dat sy beslis SAUK toe moet gaan vir ’n onderhoud. Anieta het dit egter eers jare later gedoen nadat sy geskei is. Haar eerste pos as omroeper was by Radio Hoëveld, toe hulle net begin uitsaai het in 1965.

Anieta was vir 30 jaar aan en af by die SAUK en het by die Afrikaanse Diens, Radio RSA se Buitelandse Diens, Radio Jakaranda, Radio Oranje en Radio Pretoria gewerk. En sy het toe op die ou einde ook saam met Fanus gewerk by Jakaranda. Al wat Anieta blykbaar moes doen was om te lag. “Hy was die persoonlikheid en ek die klankbord,” sê sy.


Anieta lag kliphard toe sy in Februarie vanjaar ’n uithourit voltooi en die aankondiger haar ’n tannie noem

Só lyk die lag waarvoor Anieta bekend geword het in Fanus Rautenbach se radioprogram
.

Grens
Anieta se uitsaai-loopbaan het selfs’n hoogs geheime draai in die destydse grensoorlog gemaak. Sy was ’n senior offisier in die Weermag. Radio Peking het baie sterk senders in Angola gehad en die land vol “propaganda gepomp” en Anieta was deel van ’n span wat, as teenvoeter, met beweegbare senders rondgery het. Hulle het halfuur programme uitgesaai, dan vinnig afgeslaan en weggejaag voor die vuurpyle hulle kon tref. Naderhand het selfs die halfuur tydgleuwe te gevaarlik geword en die senders is op vliegtuie gelaai wat 12 km buite die landsgrense uitgesaai het.

Dié gewoond-wees aan gevaarlikheid, sê sy, het haar later goed te staan gekom toe sy ’n omroeper by Radio Pretoria was. Daar was menige aanvalsdreigemente teen dié radiostasie, senders moes ook inderhaas geskuif word na geheime uitsaaiplekke en Anieta is meer as een keer beskerm deur manne te perd met lang baarde en tweerigtingradio’s in die hand.

Ekspedisie
Toe Anieta in die Burgermag was, is sy een keer vir twee maande opgeroep grens toe as deel van ’n navorsingspan wat die laaste swart Van der Merwes in die heel noordwestelike punt van die destydse Suid-Wes Afrika gaan soek het.

Die doel was taalnavorsing en hulle was op soek na ’n tannietjie diep in haar negentigs wat saam met die Dorslandtrekkers Suid-Wes toe is en toe daar agtergebly het. Blykbaar het al die swart mense op dié trek nie net die Van der Merwes se van aangeneem nie, maar ook die pragtige taal wat destyds gepraat is en die ongewone idiome behou.

Anieta moes dit wat die tannietjie sê op band opneem. Die bandmasjiene was toe nog reuse goed en ’n troep moes gekry word om die swaar bandmasjiene te dra. Die troep wat gekies is was Anieta se eie seun Anton wat 21 jaar oud geword het op dié ekspedisie. So, sê sy, was hulle die enigste ma-en-seun span op die grens.

Anieta was op plekke waar vrouens nie normaalweg gekom het nie. “Ek het soveel gesien op die grens wat ek nooit kan oorvertel nie,” sê sy. “Al wat ek onthou is dat ek die heeltyd gedink het: Ma, weet jy waar’s jou seun? Weet jy wat hy doen?”

Trok
Dis te verstane dat Anieta se grensondervindings baie spanning in haar gemoed veroorsaak het. Sy sê dat alle uitsaaiwerk haar onder geweldige druk geplaas het; dat sy soms bang geword het vir die verantwoordelikheid.“Uitsaai was vir my ’n roeping en nie ’n werk nie,” sê sy. “Daar is soveel eensame mense – ou mense, bedlêende mense – wat net die asempie oor die radio as geselskap het om hulle te laat besef dat hulle nie alleen is nie; om vir hulle hoop te gee.”

Die verantwoordelikheid van daardie rol en die spanning van enkel-ma-wees met drie kinders het vir Anieta te veel geword en sy het besluit om iets te gaan doen waar sy nie hoef te dink nie.

Dis toe dat sy alles net so los en ’n trokdrywer word. Sy het ’n kode 14 lisensie gekry en selfs busse vol kinders heen en weer veldskole toe gery tot sy verveeld geraak het en besef het dat sy dalk maar weer iets met haar brein moet doen. En dit wat sy toe so 16 jaar gelede voltyds begin doen het, het steeds iets met busse te make gehad. Anieta het ’n toergids geword vir oorsese toeriste.

Toere
“Ek het vir die wêreld se mense my land gewys, maar nou wil ek dit vir my eie mense wys,” het Anieta einde laasjaar gesê toe sy haar eie toermaatskappy, Boendoe Baljaar Toere, gestig het saam met Boet Scholtz en Kotie Steyn. Die toere strek oor die hele land – van blommekyk in Namakwaland, tot Kersiefees in die Oos-Vrystaat, bootritte in St Lucia en Scottburgh en selfs ’n Nuwejaarstoer aan die Weskus en Kaapstad.

Vir Anieta was dit belangrik om ’n werklike luukse bus te kry waarin sy haar gaste kan bederf. En nee, sy bestuur nie self die bus nie. “Dit gaan oor lekkerkry,” sê sy– “oor lekker ry, lekker slaap, lekker eet, lekker kuier en lekker lag.”

En lekker lag, soos Fanus Rautenbach destyds uitgevind het, is iets wat Anieta juis goed kan doen. Sy raak al hoe beter daarmee soos wat die jare aanstap. Eintlik, sê Anieta, is sy nou eers mooi op dreef.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger