Hoekom brand nuwe straatligte dag-en-nag? PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 July 2013 02:46
Untitled Document

Inwoners langs Lynnwoodweg-verlenging / Grahamweg is omgekrap oor die nuwe straatligte wat, sedert hulle ses maande gelede staangemaak is, dag-en-nag brand. Dié 70 ligte brand vanaf die CVO Skool tot net ná die T-aansluiting met die Boschkop-pad.

Mense wil weet hoekom die stadsraad soveel elektrisiteit vermors, terwyl Eskom daagliks vra dat onnodige elektriese toerusting afgeskakel moet word.


Die elektrisiteit-vermorsende straatligte van nader beskou

Volgens André van der Walt, raadslid vir wyk 101, is dit nie 100% waar dat die straatligte elke dag brand nie. Hy sê dat hy dié pad elke dag ry en sien dat die ligte die afgelope tyd ‘n paar keer bedags gebrand het, maar nie aanmekaar nie.  

André verduidelik dat stadsrade die straatligte soms laat brand omdat hulle ligte in ander dele, soos Shere, nagaan en dan kan die laan nie apart afgesit word nie. Hy sê nog 'n interessante rede is dat Eskom munisipaliteite soms versoek om straatligte te brand om die lading te verlig. Kragsentrales kan nie aan en afsit soos ligte nie en as daar te veel krag in nie-piek tye opgewek word, kan dit gevaarlik wees as dit nie gebruik word nie.

Teen spertyd kon André nog nie ‘n besliste antwoord uit die metroraad se straatligte-afdeling kry nie. Hulle het vir die ongerief om verskoning gevra en het gesê dat hulle wel met die plaaslike depot opgevolg het. Die depot sou iemand uitstuur om na die ligte te gaan kyk.


Dié straatligte langs die besige M6, Lynnwoodweg-verlenging / Grahamweg brand helder oordag

Mike Strange van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging het dié saak via die Mobilitate webtuiste, www.mobilitate.co.za, aan die Tshwane Metro-munisipaliteit rapporteer. Hy het gesê dit lyk asof die metroraad reageer op sake wat op dié platform gepubliseer word. Dit hou ten minste ‘n openbare rekord van watter sake wanneer aangemeld is. Dit wys ook hoeveel mense ‘n spesifieke klagte ondersteun.

Teen Die Bronberger se spertyd was die enigste terugvoer op die Mobilitate platform ‘n verwysingsnommer vanaf die metroraad.

Mense wat die klagte oor die brandende straatligte wil ondersteun, kan dit doen by: http://www.mobilitate.co.za/pg/issue/read/393363/issue-streetlight-other-submitted-by-mike-strange.

 

© 2019 Die/The Bronberger