Die boom wat skoenlapper-larwes laat oorleef PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 29 July 2013 02:38
Untitled Document

Die Tembu-mense glo dat weerlig aangetrek word as jy aan dié boom raak. Die Suid-Sotho glo weer dat die doepa wat hulle van hom maak, hulle krale teen weerlig sal beskerm. Die Voortrekkers het nie dié staaltjies geken nie, en het die speke van hulle wawiele van hom gemaak.

Ons praat van die wildeperske, ‘n boom met hout wat hard genoeg is om as dakbalke en plankvloere te gebruik. Dié is een van die min bome wie se blare glad nie deur vee of wild gevreet word nie. Sy blare bevat hidrosiaansuur (blousuur of pruisiessuur). Tog is dit juis dié suur wat die larwes van skoenlappers na hom toe lok.

Die larwes van die bekende oranje-en-swart skoenlapper vreet net dié soort blare. Hulle versamel die suur van die blare omdat dit hulle oneetbaar vir voëls maak. Verskeie larwes vreet die boom elke jaar kaal as deel van ‘n natuurlike siklus wat die boom help om nuwe blare te vorm. Dit beteken natuurlik ook dat die wildeperske nie naby jou huis geplant moet word nie, anders kom die skoenlapper-larwes binne toe vir hulle papie-stadium.


Die wildeperske word gewoonlik 4-10 meter hoog
Foto: Wikipedia

Vernoem
Die wildeperske, Kiggelaria africana, is vernoem na Franz Kiggelaar (1648 – 1722), ‘n botanikus en kurator van Simon von Beaumont se tuin in Den Haag, Suid-Holland waar baie plante van Suid-Afrika gekweek is.

Dié boom is nie verwant aan die bekende ‘mak’ perske, Prunus persica, nie alhoewel die grys-groen blare amper dieselfde lyk. Van nader beskou is die blare egter dikker en stywer, en harig aan die onderkante.

‘n Wildeperske word gewoonlik vier tot 10 meter hoog, maar kan tot 20 meter bereik. Hy is immergroen en dra sy klein, geel-groen klokvormige blommetjies van Augustus tot Januarie.

Die manlike en vroulike blomme word aan verskillende bome gedra. Jy weet jy het ‘n manlike boom as die blommetjies in trosse van drie tot sewe blomme in ‘n blaaroksel gedra word. Die vroulike blomme word elk apart in ‘n blaaroksel gedra.

Die harde en knobbelrige ronde geel-groen kapsules vorm van Februarie tot Julie en skiet oop om vier of vyf kompartemente te ontbloot. Die piepklein swart saadjies is in ‘n taai, olierige helder oranje-rooi omhulsel. Verskeie voëlsoorte word deur dié kleurvolle vrugte gelok.


Die harde, knobbelrige kapsules skiet oop om vier of vyf helder oranje-rooi kompartemente te ontbloot
Foto: Malcolm Dee Hepplewhite & Witkoppen Wildflower Nursery

Groei
Die wildeperske is ‘n geharde boom wat rypbestand is en gemaklik met temperature van  -2°C tot 36°C is. Hy verkies vol son, maar kan skadu hanteer, en het nie baie water nodig nie. Die boom het nie ‘n aggressiewe wortelstelsel nie, groei vinnig en begin reeds na twee jaar blom.

Wildeperskes kan maklik van saad of stiggies groei. Plantjies moet uitgeplant word as hulle 30 cm hoog is. Voeg baie kompos by die grond en bedek met ‘n dik laag organiese materiaal om die grondoppervlakte te beskerm.


Die wildeperske se blare en blommetjies wat in die blaaroksels gedra word
Foto: Wikipedia

 

© 2019 Die/The Bronberger