PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 29 July 2013 02:38
Untitled Document

In broeityd wen die hoephoep loshande die kompetisie vir die stinkste voël. Daar is diegene wat spot dat dié voël sy wetenskaplike naam, Upupa africana, gekry het toe die vuil nes die eerste keer geruik is.

Die nes word gewoonlik in ‘n rotsskeur, mik in ‘n tak, of gat in die grond gebou en mettertyd word dit al hoe smeriger en ruik al hoe slegter. Dit is nie net die mis wat so onwelriekend is nie; die wyfie skei ‘n vloeistof deur haar stertknobbelklier af wat na vrot vleis ruik. Sy vryf dit in haar vere in en die kuikens leer gou aan hoe om dit ook te doen. Dié reuk hou klaarblyklik roofdiere en parasiete weg.

Die hoephoep het ook ‘n gewoonte om strome voëlmis oor indringers uit te giet. Kuikens in die nes weet glo al op ses-dae-oud hoe om dit te doen.

Anders as die meeste ander voëls mis die hoephoep nie buite die nes nie en dra nie die afvalmateriaal weg nie. Hulle is ook nie bang vir ander diere se mis nie en sal met ‘n lang snawel in dieremis rondwoel om prooi te soek.

Met die hulp van buitengewoon sterk kaakspiere, word dié snawel ook diep in die grond ingedruk en dan oopgedwing om prooi in die hande te kry. Hulle vreet hoofsaaklik insekte, maar ook akkedisse, klein paddatjies, bessies en saad.

Die snawel word as wapen gebruik in die gewelddadige gevegte tussen mannetjies, en soms selfs tussen wyfies. Teenstanders probeer om mekaar met die snawel raak te steek en voëls verloor gereeld hulle oë in sulke gevegte.


Die mannetjie voer die wyfie in die nes
Foto: Farid Radjouh

Geskiedenis
Die hoephoep kom dwarsoor die wêreld voor en het ‘n lang verbintenis met die mensdom. Hy is Israel se nasionale voël en volgens legendes was die hoephoep die boodskapper tussen die koningin van Skeba en koning Salomo. In Egipte was hy ‘n heilige voël en is op die mure van tempels en grafkelders afgebeeld.

In Persië was hy ’n simbool van kuisheid en ‘n hoephoep was die leier van die voëls in die Persiese digbundel, ‘The conference of birds’. Die antieke Grieke het die hoephoep as karakter in toneelstukke en boeke gebruik.

In dele van ou Europa is dié voël verbind met die dood en legendes lui dat die roep van ’n hoephoep die dood van baie mense voorspel. Die Skandinawiërs het hy weer gesê dat hy oorlog voorspel.

Familie
Die hoephoep verteenwoordig sy eie genus (Upupa) en familie (Upupidae). Hy is 25-32 cm lank met ’n vlerkspan van 44-48 cm en het ‘n kenmerkende roesbruin kleur op sy kop, rug en onderdele. Die mannetjie is ‘n helder roesbruin kleur en die wyfie ‘n bietjie dowwer. Die vlerke en stert is hoofsaaklik swart, met wit dele. Beide geslagte het ‘n duidelike verekroon met ‘n kuif wat soos ’n waaier oop- en toegemaak kan word

Dié voëls neem bykans elke dag ’n sonbad waar die stert en vlerke wyd teen die grond oopgestrek word terwyl die kop hoog gelig word. Hulle geniet ook ’n stofbad.

Hoephoeps kom enkel of in pare voor en is nie kolonievormend nie, alhoewel hulle in klein swerms sal saamvlieg wanneer hulle trek. Die voëls in die suidelike halfrond migreer nie.


Die hoephoep
Foto: Yvonnik Lhomer

Broei
Die broeiseisoen is van Augustus tot Februarie, met ‘n piek van September tot November en een maat word vir slegs een broeiseisoen gekies.

In die noordelike halfrond lê die voëls tot 12 eiers, maar hier by ons lê hulle so vier tot sewe wit eiers. Dié eiers word gou ’n bruinerige kleur in die vuil nes. Die wyfie broei alleen, terwyl die mannetjie vir haar kos bring. Die eiers broei ná 15 tot 18 dae uit en daarna bring altwee ouers kos vir die kuikens. Hulle verlaat die nes na 26 tot 29 dae, maar word vir ’n verdere week deur die ouers versorg.

 

© 2019 Die/The Bronberger