PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 29 July 2013 00:36
Untitled Document

Die wêreld van wetstoepassing is vir die meeste mense onbekend. Die proses wat ná ‘n misdaad moet gebeur is belangrik en Reline Badenhorst van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak het inligting gestuur oor hoe misdaadtonele hanteer word en wat slagoffers kan verwag.

Mense word aangeraai om 10111 te skakel om ‘n misdaad aan te meld sodat die verwysingsnommer (IR-nommer) nagespoor kan word. Dit is baie moeilik om die papierspoor te volg wanneer polisiestasies of -lede direk geskakel word.

Die 10111-operateur skakel die klagte per rekenaar na die radio-omroeper deur, wat dit dan aan ʼn klagtevoertuig deurlees. Rekord word gehou van die tyd wanneer dit aan die voertuig deurgelees word. Die voertuig is veronderstel om die beheerkamer in kennis te stel as hulle by die toneel opdaag. Dié tyd word ook op rekord geplaas.


‘n Misdaadtoneel moet beveilig word sodat bewysstukke bewaar kan word
Foto: DNA Project

Toneel
Wanneer die polisie op ʼn misdaadtoneel aankom, is hulle eerste prioriteit om die toneel te beveilig. Verdagtes moet gearresteer word, beseerdes moet behandeling kry en bewysstukke moet bewaar word.

Bewysstukke kan die volgende insluit: lyke; motorvoertuie; vuurwapens; koeëldoppies en –punte; DNS soos bloed, semen, speeksel en hare; vingerafdrukke; voetspore; inbraaktoerusting; dwelms; en klere.
As ʼn bewysstuk verskuif word na ʼn veiliger plek, moet die oorspronklike plek waar dit gevind is, aangeteken word.

Die eerste polisiebeampte roep die bystand van ʼn speurder in, wat die misdaadtoneelbestuurder genoem word. Die toneel word saam met die speurder besigtig en belangrike punte word uitgewys. Ander dienste, soos die metropolisie, vingerafdrukdeskundiges, fotograwe, honde-eenheid, duikeenheid, helikopter, taakmag of gyselaar-onderhandelaar, kan ingespan word.

Ooggetuies moet eenkant geneem word en van die ander geskei word. Verklarings moet van alle getuies geneem word. Al hulle persoonlike besonderhede moet ten minste neergeskryf word. Dit moet dan in die ondersoekdagboek van die dossier geskryf word, sodat die speurder later die getuies se verklarings kan neem.

Verklarings
Die eerste polisiebeampte op die toneel moet ʼn toneelverklaring aflê. Die klaer se verklaring moet dadelik geneem word, behalwe as die klaer beseer is en mediese behandeling moet kry. Die polisie kan steeds ʼn dossier open, selfs as die klaer nie dadelik ʼn verklaring kan aflê nie.

As arrestasies gemaak is moet arrestasieverklarings geneem word en die ooggetuies se verklarings moet ook dadelik geneem word.


Bewysstukke moet in forensiese sakkies in die polisiestasie se SAP13-stoor ingeboek word
Foto: SAPD

Jy het die reg om jou verklaring in jou eie taal af te lê en om dit self te skryf. Polisiebeamptes weet egter watter belangrike inligting nodig is in die verklaring en die skryf daarvan word gewoonlik aan hulle oorgelaat. Die verklaring moet die volgende bevat: Wat, waar, wanneer, hoekom en wie.

As jy voel dat die beampte se verklaring van ʼn swak gehalte is, moet jy dit nie teken nie. Vra eerder dat ʼn speurder of ʼn beampte met ʼn hoër rang jou help.

Maak seker dat jy alles lees wat neergeskryf is en saamstem met die inhoud van die verklaring voor jy dit teken. Probeer om nie meer as een verklaring af te lê nie. Indien die twee verklarings sou verskil, stel jy jouself bloot aan klagtes van meineed.

Dossier
Die ondersoekdagboek agter in die dossier moet deur die eerste polisiebeamptes ingevul word, en hulle eerste “ondersoek” se bevindings toon. Voorbeelde hiervan is moontlike verdagtes, moontlike getuies, moontlike vingerafdrukke, moontlike voetspore, bloedmonsters en verdagte voertuie.

Die dossier moet dan by die polisiestasie geregistreer word op die Misdaad-administrasiestelsel (MAS) en ʼn MAS-nommer word toegeken. ʼn SMS met die MAS-nommer word gegenereer en aan die klaer gestuur.

Die dossier word op die stelsel aan ʼn speurder toegeken en ʼn SMS word gegenereer en na die klaer gestuur met die speurder se naam en kontakbesonderhede. Die speurder moet die bewysstukke na verskeie forensiese afdelings stuur vir analise.

As verdagtes gearresteer is sal hulle waarskuwingsverklarings geneem word, en hulle sal aangekla word. Die waarskuwingsverklarings word in die dossier gesit.

Verdagtes moet binne 48 uur in die hof verskyn, of as die 48 uur buite werksure val, die eerste werksdag daarna. As die speurder al die leidrade en verklarings geneem het, en as verdagtes aangekeer is, sal die dossier na die Direkteur van Openbare Vervolging gaan en die saak op die hofrol geplaas word.

Dit is die speurder se verantwoordelikheid om die dossier hof toe te neem. Hy moet sorg dat al die wettige aspekte in plek is en alle dokumentasie versamel is. Hy moet ook die ondersoekdagboek in die dossier opdateer en gereelde terugvoer oor die saak aan die klaer gee.


Reline en Dawie Badenhorst

Hof
Om vir die eerste keer in die hof te getuig, kan ʼn nare ervaring wees. Daar is ʼn paar basiese wenke wat jy kan toepas wat jou beter kan toerus vir die getuiebank.

Dit is goed om met die Staatsaanklaer te konsulteer, sodat hy/sy hulle verwagtings aan jou kan oordra en jou kan voorberei vir die getuienis wat jy moet lewer.

Jy is geregtig om in jou eie taal te getuig. Bly kalm in die getuiebank en kyk net vir die regter, landdros of aanklaer. Vermy oogkontak met die beskuldigdes of hulle regspan. Dit sal jou help om kalm en gefokus te bly. Jou antwoorde is in elk geval vir die regter.

Dink oor elke antwoord wat jy gee. Praat hard en duidelik en met selfvertroue. Dit is uiters belangrik om die waarheid te praat. As dit later uitkom dat jy gejok het, kan die Staat jou aanspreeklik hou en vervolg.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger