Dreigbriewe aan die dooies PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 16 July 2008 00:00
Untitled Document

Ek het altyd gedink die dierbare ontvanger en daai ouens van Readers Digest sal jou opspoor al bevind jy jou waar ookal. Maar dit smaak my die SABC en hulle aangestelde regspan laat die ontvanger soos ’n beginner lyk. Om dit te staaf plaas ek uittreksels uit ’n werklike briewewisseling tussen Andrew Bergman en die SABC se regsmense. Dit is vry vertaal uit Ingels uit:

Van: Andrew M Bergman aan Van de Venter, Mojalepo Ingelyf.

Waarde Heer,
Dit was met groot verbasing dat ek u brief ontvang het. Soos gemeld het die spertyd van 22 Maart 2008 reeds verstryk. Ek sal graag wil weet of die hof, waar u aansoek gedoen het om vonnis in die saak teen my ma te bekom, meer bekwaam is as u regsafdeling as dit by die nagaan van die bevolkingsregister kom.

Sou dit wel die geval wees (die hoop beskaam nie) is ek seker dat hulle sou kon vasstel dat my ma, mev MA Bergman, die adres waarheen u, u dreigbrief gestuur het, reeds op 20 Junie 2007 vir ’n meer hemelse woonplek verruil het.

Hoewel ek sterk twyfel of sy enige verdere nut vir ’n SATV lisensie sal hê, doen ek aan die hand dat u die volgende adres probeer as u daarop aandring om met die saak voort te gaan:

MA Bergman,
p/a Sonsondergang-skilder departement
Die Hiernamaals
Ongelukkig het ek nie die poskode nie, maar ek is seker die Poskantoor sal julle hiermee kan bystaan. Hulle het immers al baie van my posstukke, wat spoorloos verdwyn het, blykbaar soontoe gestuur.

Verdermeer glo ek nie dat dit vir haar moontlik sal wees om, soos u aan die hand doen, ’n prokureur aan te stel om haar in die saak by te staan nie, omdat ek glo prokureurs baie skaars is daar waar sy haar bevind.

As u dit regkry om mev Bergman op te spoor, sê asseblief vir haar, haar seun stuur groete.

Andrew M Bergman

Groot was Andrew se verbasing toe hy die volgende antwoord kry:

Van: Sarah Kunene

Aan: andrewmbergman Cc: Anette Peterson; Naphtally Moesena

Onderwerp: SABC TV Lisensie:“Attorney-Client Communication Legally privileged and confidential“ Geagte Mnr A.A. Bergman, Dankie vir u e-pos.

Ons moet u vriendelik meedeel dat ons kliënt bewys van immigrasie (afskrif van paspoort) of ’n afskrif van werkpermit vereis voor die kansellasie van hierdie rekening oorweeg kan word. Verskaf asseblief die bogenoemde bewyse in die vorm van ’n beëdigde verklaring met aanhangsels en geteken voor ’n kommissaris van ede, wat bewys lewer van wat met mev Bergmans se televisiestel gebeur het en die datum waarop dit gebeur het.

Ek vertrou dat u dit so in orde
vind.

Die uwe
Sarah Kunene

Ons plaas net enkele uittreksels uit die antwoord wat Andrew hierop geskryf het.

Beste mev Kunene,
Dit blyk dat u die strekking van my eerste e-pos nie begryp nie, so laat my toe om dit uit te spel. MY MA IS OORLEDE, en na die beste van my wete verskaf die Hemel nie bewys van immigrasie of werkpermitte nie.

Omdat ek nie heldersiende is nie, kan ek nie sê wat van haar ou TVstel geword het nadat ons dit by die vullisgate gaan aflaai het nie. As u maatskappy probeer om ’n
bydra tot werkskepping te lewer deur onbevoegde mense aan te stel om dreigbriewe aan dooie mense te stuur, stel ek voor u doen aansoek om vir Zimbabwe se kiesersrol te werk. Hulle het ’n uitstekende rekord van korrespondensie met afgestorwenes . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger