Haglike toestande by dorpe se begraafplase PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 July 2013 02:27
Untitled Document

Haglike toestande heers by begraafplase op Rayton, Cullinan, Refilwe en Bronkhorstspruit.

Nadat die metro-raad die gemeenskap in Januarie ter elfder ure voorgespring het met die skoonmaak van die Raytonse Begraafplaas is dit steeds in ‘n baie swak toestand, sê raadslid Danie Erasmus wat die begraafplase besoek het.

“Wat my hewig ontstel is die vandalisering van ablusiegeriewe en kantore by die begraafplase. Toevoerpype, wasbakke, urinale en toilette is uit die mure gebreek. Menslike afval lê in die toilette. Daar is geen water in die krane nie,” het Danie gesê.

Hy sê dat die Raytonse Begraafplaas net twee grafgrawers het en dat daar geen meganiese tuig beskikbaar is om grafte mee te grawe nie. Dit neem sowat drie dae om ‘n graf te grawe uit harde formasies en soms uit laagklip. Wanneer daar meer as twee begrafnisse op een dag is moet die arbeiders oortyd werk sonder enige vergoeding.


Danie Erasmus

Steel
Volgens Danie is daar ‘n nuwe tendens by verskeie begraafplase: die kopstukke van gevestigde grafte word geleidelik snags losgemaak. Dit word dan in die nag verwyder en na ‘n grafsteenmaker geneem waar die bewoording en versierings met ‘n masjien weggeskuur word. Die kopsteen word met ‘n nuwe naam en besonderhede gesandstraal en vind sy weg na ‘n graf in ‘n ander begraafplaas.

Danie sê dat gemeenskapsorganisasies die toestand van begraafplase voortdurend moet dophou en dat mense hulle dierbares se grafte gereeld moet besoek. As die graf geskend is moet dit by die SAPD aangemeld word.


Dié toilet se spoelbak is uit die muur gebreek

Die plafon is van die dakbalke afgeruk

Petisie
Petisies kan opgestel word oor die toestand van ‘n begraafplaas en moet die volgende inligting van elke ondertekenaar bevat: Naam en van, ID nommer, volledige adres, e-posadres, verkieslik ‘n selfoonnommer en handtekening.

‘n Petisie met volledige inligting moet binne drie maande ná dit ingedien is deur die petisiekomitee oorweeg moet word. Wanneer dié wat ‘n petisie onderteken het uitgenooi word na die komiteevergadering om insette te lewer, moet hulle die vergadering bywoon. Gebrek aan verteenwoordiging sal die versoeke van die gemeenskap nadelig beïnvloed.


Die toestand van die wasbakke
Foto’s: Danie Erasmus

Geskiedenis
Danie se stryd om die metro-raad so ver te kry om jaarliks fondse te benut om al die begraafplase binne die munisipale gebied op te knap, duur vanaf 2010 toe hy vrae aan dr Gwen Ramakgopa, toe die uitvoerende burgemeester, gerig het. Sy het aan die pers verklaar dat sy sommige begraafplase besoek het om haar van die omstandighede te vergewis.

Daar het niks van die opknappingsbeloftes gekom nie en Danie het ‘n mosie ingedien wat einde Februarie 2011 ontvang is. Nadat ‘n mosie ingedien is, is die amptenary van ‘n department verplig om binne drie tot ses maande ‘n verslag by die raad in te dien. Dit het nou nog nie gebeur nie.

Op 28 Mei 2012 het Danie ‘n brief aan die uitvoerende burgemeester gerig oor die vervalle toestand van alle begraafplase. Geen reaksie is ontvang nie.

Aan die begin van Maart vanjaar het hy die 2010 mosie woordeliks weer ingedien. Op 28 Maart het die Speaker sy mosie ontvanklik gevind, maar dit is geopponeer met die verskoning dat die raad eers vir die komende boekjaar voorsiening gemaak het om begraafplase op te knap.

 

© 2019 Die/The Bronberger