Print E-mail
News - Rubrieke
Wednesday, 16 July 2008 02:00
Untitled Document

Breytie Breytenbach

Drie tienjarige seuns is aangeval terwyl hulle ’n verjaarsdag gevier het. Al drie sit daar met verbande op verskillende plekke. Een het ’n ernstige wond aan sy kop.

Gelukkig is dit net ’n simulasie deur die “Mooiplaats Safety Initiative” (MSI) en die bloed is sommer kleursel. Dit is waarskynlik algemeen bekend dat speel die mees effektiewe metode is om iemand iets te laat leer. Daarom reël die MSI nou en dan ’n simulasie.

Daar word gespeel ’n gewapende roof het plaasgevind. Kamma gewondes lê op die misdaadtoneel rond en kamma boewe is in die omgewing besig om te probeer wegkom sonder dat iemand hulle sien.

Met die jongste simulasie was dit duidelik dat die hantering van die erge misdaad op ’n baie hoër peil is as ’n jaar gelede. Die verskillende spanne het beter saam met mekaar gewerk en die lede van die spanne was duidelik meer ervare. Hantering van ’n misdaadtoneel, die slagoffers en die oortreders, is natuurlik die werk van die polisie.

Ervaring het egter geleer dat die polisie nie noodwendig onmiddellike aandag aan so ’n gebeurtenis kan gee nie. Buitendien is die bure nader aan die toneel en kan dus gouer daar wees.

Die twee spanne wat eerste op ’n noodsein reageer is die A-span, wat seker maak die oortreders is nie meer op die toneel nie, en die noodhulpspan wat dadelik aandag aan die gewondes gee. Albei dié spanne moet so goed as moontlik opgelei wees, want hulle is eerste op die toneel en moet besluit wat nodig is om die situasie te bestuur.

Om hierdie rede is daar ook ’n oorhoofse bestuurder wat sorg dat die regte mense op die regte tye die regte dinge doen. Sodra die polisie opdaag, staan almal onder leiding van die beampte in beheer.

Ervaring het egter gewys dat dit nie altyd in die praktyk so werk nie. Wanneer die noodsein ontvang word deur die lede, gaan almal na vooraf bepaalde punte waar hulle wag om opdragte te kry vanaf die oorhoofse situasiebestuurder. Lede van die logistieke span vervoer die nodige apparaat na die toneel, stel dit op en sorg dat dit werk. So sal hulle byvoorbeeld ’n kragopwekker met spreiligte aanbring.

’n Kommunikasiespan is van groot belang. Hulle bly by hulle huise en is in radioverbinding met die bestuurder en al die lede. Van hulle basisse af maak hulle telefoonoproepe op versoek, soos om ambulanse te bestel of sleutelpersone te kontak.

Dan is daar ook ’n trauma-ondersteuningspan wat al die lede van die huishouding wat nie gewond is nie, by ’n aparte plek in die huis versamel om behoeftes te bepaal en daarop te reageer. Indien klein kindertjies of verswaktes liewer verplaas moet word, is daar lede waarheen sulke mense geneem kan word om verder versorg te word.

Ander lede gaan glad nie na die toneel van misdaad nie, maar doen patrollie in die omgewing en rapporteer toepaslike waarnemings aan die bestuurder of die polisie.

Met ’n simulasie word al dié aksies op ’n kamma-kamma basis uitgevoer om gewoond te raak aan die prosedures. Speel hou egter op sodra konflik of kompetisie toetree en geen leer sal verder plaasvind nie. Onder die lede van die MSI is daar gelukkig ’n groot mate van harmonie en daarom word daar elke keer baie geleer.

Dié keer het ons beleef dat kommunikasie meer aandag sal moet kry. ’n Paar kleiner tekortkominge sal ook uitgestryk moet word in die tyd wat voor is. Volgende keer sal dit nog beter gaan.

Intussen werk ons hard daaraan om te sorg dat dit nie nodig sal wees om ons leerervaringe in ’n werklike situasie te gebruik nie. Ons doen enige tyd van die nag patrollie en ons reageer wanneer daar verdagte beweging is. Ons sien nooit die skelms nie. Maar hulle sien ons. En hulle weet dat ons nie maklike teikens gaan wees nie.

Vir meer inligting, kontak Breytie Breytenbach by 012-802-1532.

 

© 2024 Die/The Bronberger