‘Anderste’ kuierplek in die bos PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 24 June 2013 12:09
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Anderkant Rayton, op die pad na Kleinzonderhout, draai jy regs af en voor jy Kleinfontein kry, sit Die Boskombuis regs – weggesteek in ‘n swart wattelbos.

Ek, Metgesel, Mykind en dié se kindertjie sit op ‘n koue Sondag af soontoe om ‘n ontmiddagbyt (brunch) te loop inwerk. Ons het baie gehoor van Die Boskombuis se ‘andersgeit’ en ek het lankal lus vir ‘anders’.


‘n Ordentlike kampvuur in die gerieflike lapa

Met die stilhouslag is dit duidelik dat die plek reeds gewildheid onder die ‘baaikersbrêkvisbrigade’ verwerf het. Brulperde van alle denkbare soort en kleur staan gedienstig buite en wag op hulle ruiters.

In Die Boskombuis se lywige lapa tussen die bome, brand ‘n ewe lywige vuur. Ons neem by een van die tafels plaas en ‘n vriendelike kelnervrou bring koffie nader. Die koffie lyk en proe op dié wat jy by ‘n Wimpy sal kry. Lekker en warm genoeg vir my sodat ons dadelik ‘n opvolgbestelling insit. Het ek gesê dit was die eerste regte Winterdag van dié jaar?

Baie van die ruiters verkies iets kouer uit die kroeg om warm te maak en ek kan goed verstaan hoekom.


Die Boskombuis se ‘vol’ ontbyt

Die kelner vra of ons die ‘vol ontbyt’ of net onderdele daarvan wil bestel. Ons besluit op drie ‘volles’ en dan kan Mykind se kindertjie deel van die een en die ander.

Ek raak ‘n bietjie bekommerd toe ‘n stewige tydjie sonder taal of tyding van die kelner verloop. Ek sien van die ‘baaikers’ wat ná ons aangekom het lê reeds weg aan hulle ontmiddagbyte. Net toe ek wou loop kla, kom vriendelike vrou verby en wil verbaas weet of ons dan nog nie kos gekry het nie? Iemand het vergeet. Dis menslik.

Knap daarna daag die drie goedgelaaide borde op: Roereiers, spek, wors, hoenderlewertjies, stywepap en sheba en ‘n tamatieslaatjie. Ons het lekker geëet en ons het goed geëet. Metgesel geniet die hoenderlewertjies met ‘n effense byt – nie te seer nie, sê sy. Die sheba geval my en die roosterbrood is gemaak van die plaaslike padstal se boerbrood – vermoed ek. Lanklaas beter roosterbrood ervaar.


Dit is ‘n kindervriendelike plek met genoeg ruimte en ‘n vriendelike werfhond of twee

Met die winter nou amptelik gevestig, kan Die Boskombuis se mense dit oorweeg om die ontbytborde effe warm te maak. Net ‘n rukkie in baie warm water, droog af en siedaar: ‘n Ontbyt wat ‘n bietjie langer sy hitte hou.

Die atmosfeer by dié buitekantkuierplek is ‘n goeie een. Een van onopgesmukte gemoedelikheid en ontspanning.

Net voor ons vertrek het ‘n ou met ‘n kitaar en orrelbegeleiding begin sing. Ek kon sien die ‘baaikers’ geniet dit, maar vir my was dit onnodig en luid. Die geblikte agtergrondmusiek vóór die musiek ‘lewendig’ geraak het, het meer binne my smaak geval en was soos dit hoort – in die agtergrond.


Klaar gekuier keer die paartjie met hulle ongewone passasier op die brulperd, huiswaarts

Hulle bedien net op Sondae die ontbyt by Die Boskombuis en later word daar glo om die braaivleisvuur gekuier. Jy bring jou eie vleis en kry van die plek se lekker pap-en-sheba daarmee saam. Op sekere Vrydagaande tree kunstenaars in die konsertskuur op en dan word daar glo ook gebraai en gekuier.

Die aangenaamste verassing was toe dit by die betaalslag kom. Net R130 vir drie ontbyte, ses koffies en ‘n koeldrank? Later het ek gedink iemand moes sekerlik ‘n ligte foutjie gemaak het en het half skuldig gevoel. Laat weet maar as ek julle skuld . . .

As jy meer oor hierdie lekker, ‘anderste’ kuierplek wil weet, bel hulle by 083-485-2529.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online