Rose en dorings PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 24 June 2013 11:55
Untitled Document

‘n Gewaardeerde leser laat weet dat sy dié kommentaar elke maand getrou lees en dit meestal geniet. Maar, vra die leser, kan ons nie soms net ‘n bietjie meer positief wees nie? Praat oor die positiewe goed wat in ons gemeenskap gebeur, en deel meer rose en minder dorings uit, sê die gewaardeerde leser.

Goed, liewe leser, kom ons probeer: ‘n Roos elk aan die kuierplekke in ons gebied wat onlangs spesiale geleenthede gehou het om kos, klere en komberse vir behoeftige mense en hawelose diere in te samel. Die twee plekke is Rafters naby Mooikloof en Die Boskombuis naby Rayton.

En terwyl ons van kuierplekke praat; ‘n bos rose, of dalk sal ‘n sespak koues meer gepas wees, aan die manne wat die legendariese ou Bapsfontein Hotel letterlik uit die puin uit opgetel het en probeer om die Baps se gloriedae te laat herleef.

Rose ook aan die mense wat Cullinan se ou ‘Rek-klub’ weer sy waardigheid as kuier- en gebruiksplek gaan teruggee, maar in dieselfde asem sommer ‘n bos dorings aan die versekeringsreus wat die dorp se geskiedkundige hotel besit. Die belaglike, buitensporige huurkoste sorg daarvoor dat dié pragtige ou plek leeg en verlate staan terwyl dit ‘n sieraad vir die gebied kan wees.

Die aangrensende koopsentrum staan om dieselfde rede leeg – nog ‘n doringtak vir die eienaars. Moet ‘n mens dalk ‘n roosblaartjie uitdeel oor hulle dié wit olifant onlangs ‘n laag verf gegee het? Dis nou so ‘n valerige, verlate olifant.

Terug na die rose: Ons gee een aan die plaaslike waterkundige wat ná jare se sieslike gesukkel eindelik Mooikloofrif se rioolstelsel reggestel het. En een aan die mense wat alles deursigtig en volgens voorskrif doen voor ‘n nuwe brandstofstasie in Bashewa opgerig gaan word.

‘n Roos aan diegene wat uit eie sak ‘n beloning aanbied aan iemand wat kan help om twee boewe in die Tierpoort-omgewing aan te keer. Rose ook aan die paar mense wat die moeite gedoen het om ‘n onlangse GPF-vergadering in Rayton by te woon en ‘n wakkerskrik-doring in die broek van almal wat nie die moeite gedoen het nie.

Die mense wat ‘n meander-inisiatief in ons gebied aangevoer het, kry rose en ook almal wat hulle daarvoor beywer om toerisme in die kontrei te bevorder en wat plaaslike ondernemings bystaan en ondersteun. Rose by die dosyne vir almal wat gemoeid is met die bewaring van die mooi omgewing waarin ons woon en dorings by die duisende vir almal wat hulle bes doen om dit te verniel en vernietig.

Liewe leser, jy is reg. Ons kan aan nog baie dinge dink om oor positief te wees en aan baie mense wat rose verdien, maar die ruimte laat net nog een of twee toe: Rose aan elke leser en elke adverteerder wat dit vir Die Bronnie moontlik maak om deel te wees van hierdie wonderlike omgewing.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online