Bronbergers bou eie ?drone? om boewe te vang PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 May 2013 15:33
Untitled Document

'n Onbemande vliegtuigie (drone) wat die gebied kan patrolleer en dag of nag verdagtes kan uitsnuffel waar hulle wegkruip, is deur twee lede van 'n Zwavelpoortse gemeenskapsbeveiligingsgroep ontwikkel.
Die battery-aangedrewe tuig vlieg outomaties na GPS-koördinate en kan redelike sterk winde trotseer. Die aanboordkamera stuur dag en nag duidelike beelde van die gebied en boewe se bewegings na 'n gemeenskapslid wat voor 'n videoskerm sit.


Carl Alant

Carl Alant en Adam van Renssen van die 'Suidwes Zulus' het twee jaar gelede begin werk aan dié 'drone'. Dit is nou al 'n jaar dat die twee gereelde opgradering aan 'n werkende prototipe doen. Hulle sit nou met 'n produk wat enige misdadiger se Moses kan wees en volgens Carl nie terugstaan vir 'n gekoopte 'drone' wat miljoene kos nie.


Die torpedo 'drone' wat Adam en Carl ontwerp het was baie stabiel in slegte weer, maar hulle het iets vinnigers nodig gehad

Die 'Suidwes Zulus' is die kode- en radionaam vir inwoners wat tussen Zwavelpoort se Ajax- en Saintsstrate woon en wat meedoen aan 'n gemeenskapsbeveiligingsprojek wat by Conserv inskakel.
Carl sê dit is 'n bewese feit dat misdaad toeneem as die gemeenskap onbetrokke is, nie met mekaar praat nie en bloot hulle heinings hoër maak as daar by die bure ingebreek word.

Die 'Suidwes Zulus' beoog om in te skakel met Pretoria-oos se gemeenskappe, en saam met hulle te werk om meer doeltreffend in die geveg teen misdaad te wees. Die idee van 'n 'spioenoog' in die lug het ontstaan oor die behoefte om boewe in die nag te kan opspoor en aankeer.


Die vlieënde vlerk, wat Adam hier vashou, het 'n 'autopilot' en was 'n groot verbetering maar
nog nie die ware Jacob nie

"Ons het rondgeploeter elke keer as iemand om hulp roep”, vertel Carl. "Die manne het uit hulle beddens gespring, stewels aangetrek en gejaag om te help, maar ons was altyd te laat en kon nooit iemand vang nie, al het ons geweet dat die misdadigers naby is."

Volgens Carl is dit nie net frustrerend nie, maar ook gevaarlik om blind in die nag 'bossies te skop' en te hoop jy kry iemand. Om elke keer as iemand se honde blaf die gemeenskap te mobiliseer is ook nie prakties nie.

Die vliegtuigie kan maklik na iemand toe gaan met behulp van sy GPS-gestuurde rekenaarstelsel en gaan kyk as daar honde blaf. Hy kan dan oor die perseel sirkel en gou kan die operateur op sy videoskerm sien wat die honde laat blaf. Die operateur hoef nie te kan vlieg nie, want die vliegtuigie doen alles self, sê Carl.


Dié voltooide spioenvliegtuig (drone) wat deur twee Zwavelpoorters ontwerp en gebou is, spoor boewe selfs in die nag op. Dit is baie stil, laat dit nie afsit deur wind nie en vlieg outomaties na bepaalde plekke om misdadigers uit te snuffel

Hulle kan almal se eiendomme op die tuig se databasis inprogrammeer, en met die klik van 'n muis kan die vliegtuigie na 'n bepaalde eiendom gestuur word. Dit kan selfs 'n patrollie-roete volg en dit vir 'n uur volhou, dan land, vars batterye insit, en dan vir nog 'n uur patrolleer.

Die vliegtuigie het hom al bewys in uiterste wind, en mis of rook is vir die 'Flir' kamera geen probleem nie. Die gemeenskap het saamgeklub om 'n ‘Flir’ kamera aan te skaf. Dit laat, volgens Carl, alle lewendige goed soos liggies in die nag lyk. Jy kan gou sien of dit ‘n mens of dier is, en selfs of die persoon gewapen is of nie. Die vliegtuigie kan baie stadig vlieg, of baie vinnig, so selfs motors kan agtervolg word.


Die 'Radian' was Carl en Adam se eerste 'van-die-rak-af' gekoopte sweeftuig wat volgens hulle merkwaardige vliegvermoë gehad het, maar beperkte stoorplek en vragdravermoë. Dit het glo skouspelagtig in 'n ongeluk tot 'n einde gekom

Die spioentuig vlieg baie stil, en kan nie sommer gesien word nie. Dag of nagvlieg is om te ewe, en hy kom veilig aarde toe met sy ingeboude valskermstelsel, wat ook deur Adam en Carl ontwerp is.

Die 'drone' ('n ‘drone’ is 'n hommelby in Afrikaans) kan die gemeenskap oor verdagte bedrywighede inlig sodat hulle kan optree en, selfs voor skade aangerig is, boewe kan aankeer.

Carl sê die spioentuig werk op die oomblik in hulle gebied en hulle hoop om gou ook sommer die Bronberg se geheimsinnige luiperd in die nag te kan uitsnuffel. 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger