Molplaag teister boere en tuiniers PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 28 May 2013 15:32
Untitled Document

Groot dele van die Bronberg-gebied word deesdae deur molle omgedolwe. Molshope verrys oornag langs paaie en in tuine en die omliggende landbou-gebied ervaar soveel probleme met molle dat mol-slagysters op die onlangse Cullifest verkoop is.

Boere en tuiniers is teen dié tyd so die josie in vir die tonnelgrouers dat die kontrei aan iets ly wat dalk as molsdolheid beskryf kan word.

Omgewingsvriendelike rate om molle te beheer strek van die bisarre tot die skatologiese en, indien suksesvol, laat molle gewoonlik net na jou bure se werf of plaas verhuis.

Volgens plaagbeheer maatskappye is die skuldige die Hoëveldse molrot, Cryptomys hottentotus pretoriae. Plaagbeheerders sê dat die molrot die mees algemene mol in Suid-Afrika is. Volwassenes is 13-17 cm lank, hulle het ’n baie dik pels met ’n kenmerkende wit vlek op die kop of nek. Dié molle lewe ondergronds en is hoofsaaklik herbivore wat groot skade in ‘n tuin en onder landbougewasse kan aanrig.


Die skuldige is die Hoëveldse molrot, Cryptomys hottentotus pretoriae
Foto: Dr Heike Lutermann

Rate
Chemiese beroking en toksiese doepas om van molle ontslae te raak, doen meer skade as goed. Deesdae is daar omgewingsvriendelike rate by die dosyne. Sommige tuiniers sê ‘n mens moet knoffellelies plant. Dié bolplant het pers blommetjies en ruik na knoffel, waarvan molle glo glad nie hou nie.

Daar is ook dié wat die ‘molbossie’, Euphorbia lathyrus, se lof besing. Dié een- tot tweejarige regopgroeiende plant kom van suidoos-Europa en bevat ’n wit melksap wat ’n gas afgee wat mense en diere se oë en slymvliese irriteer.

Jy kry afweerders met ‘n knoffelbasis wat nie gevaar vir troeteldiere inhou nie. Sommige mense meng kasterolie met seperige water en gooi dit op die grond waar die molle gegrawe het. Ander sweer weer by ‘n knoffelekstrak en kasterolie-mengsel wat in die gate geplaas word en weer toegemaak word.

Skeptici sê dat die molle ná die kasterolie waarskynlik hulle tonnels so bevuil dat hulle moet trek.
Nog ‘n raat is om die mol se hoop effens oop te grou en ’n ui wat middeldeur gesny is daarin te plaas. Die molle verdwyn glo oornag as die ui daar sit.

Daar is diegene wat glo dat die goedkoopste raat is om hondebolle (sponsdorings) in die mol se gangetjie af te gooi. Ander sê dat ‘n mens altwee kante van die mol se tonnel moet oopmaak en aan beide kante moet urineer.


Molshope langs Cullinan se paaie

Vibrasie
‘n Boer wat met soetrissies boer sê molle vermoed dat Viagra van dié rissies gemaak word. Die raat wat hy toegepas het, het alle molle laat vlug. Molle is baie gevoelig vir vibrasies en die boer stel voor dat ‘n mens ‘n paar miniatuur windpompies moet aanskaf. Plaas hulle ses tot agt meter uitmekaar bo-oor die molle se tonnels. Elke draai van die wiel veroorsaak skrikaanjaende trillings onder die grond wat die molle glo die skrik op die lyf jaag.

As jy nie sulke windpompies in die hande kan kry nie, kan jy ook ysterpenne in die grond kap en leë plastiese koeldrankbottels daaroor plaas. Sny venstertjies in die plastiek voor jy die bottels bo-oor die penne laat hang. As die wind draai, sal die bottel teen die yster kap en die molle irriteer. Party mense sê dat molshope baie minder steurend is as die lawaai wat dié gekappery veroorsaak.

Nog ‘n mol-irritant is om glas bierbotteltjies in elke molshopie te druk met die tuit bokant die grond. Die wind en alle omgewingsgeluide word dan in die mol se tonnelstelsel versterk. Molle kan glo nie die geruis van wind, of enige klanke wat deur die glas versterk word, hanteer nie, en vat die pad.


Mol-slagysters is op die Cullifest verkoop

Hoekom
Die kenners sê dat ons deesdae so ‘n molplaag ervaar omdat molslange uitgeroei is en omdat tuinbou- en landbougifstowwe die uile doodmaak.

Molle is vroeër deur molslange, Pseudaspis cana, in toom gehou. Diegene wat nie graag ‘n seilende teenwoordigheid op die werf wil hê nie, kan dit altyd oorweeg om uile nader te lok.

’n Eenvoudige uilskuiling kan in ’n boom of aan die suidekant van jou motorhuis opgerig word.

Gewoonlik is daar twee soorte te koop. Die kleiner soort is geskik vir nonnetjiesuile, Typo alba, en die groter een vir die gevlekte ooruil, Bubo africanus. Uile sal  spontaan intrek en as hulle eers gevestig is, bly hulle in die omgewing en hou snags, die tyd wanneer molle soms bogronds verskyn, die tuin dop.

John Enslin bou namens die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging uil- en vlermuiskaste. Kontak hom by 072-441-3652 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Juliana se gouemol, ‘n krities bedreigde spesie

Ekologie
Molle rig egter nie net skade aan nie en het 'n groot ekologiese impak op die omgewing. Hulle tonnels deurlug die grond en lei oortollige water na laagliggende gedeeltes. Hulle neste en voerstore word later groot komposhope wat die omliggende bome en bosse voed.

Rotmolle moet ook nie met kruipmolle verwar word nie. Kruipmolle is insekvreters en verwant aan die krimpvarkie. Hulle belug en bemes die grond, en doen meer goed as kwaad. Hulle tonnel gewoonlik net onder die grondoppervlak op soek na erdwurms en ander insekte.


Ingang na Juliana se gouemol se tonneltjie. Daar sal geen molshoop in sig wees nie

Soorte
Behalwe die rotmol, strek ander soorte Suid-Afrikaanse molle wat aan knaagdiere verwant is van die vaalmol en blesmol tot die Kaapse duinmol, ons grootste mol, wat tot 33 cm lank word. Dié molle stoot lastige hope grond op die grasperk uit en rig groot skade aan bolplante aan.

Juliana se gouemol, ‘n krities bedreigde spesie op die internasionale rooidatalys, kom aan die noordelike hange van die Bronberg voor. Die Bronberg is een van net drie plekke in die wêreld waar Juliana se goue mol, Neamblysomus julianae, voorkom.

Die 10 cm lange molletjie word maklik deur katte en honde gevang omdat hulle tonnels so naby aan die grondoppervlakte is en in diep sand gegrou word. Dié tonnels loop parallel met die grondoppervlakte en kan as riffies op die grond gesien word. Gouemolle stoot nie hope grond op die oppervlakte uit soos molrotte nie.
Die insekvretende gouemol is letterlik so blind soos ‘n mol; hy het geen oë nie, en maak staat op sy reuksintuig om hom van punt A tot B te kry. Gouemolle is enkellopers, maar kom in kolonies voor met ’n netwerk van tonnels.

As jy wonder oor die aard van die mol in jou voortuin: As hy knaagdiertande, oë en ‘n stertjie het, dan is dit nie ‘n kruipmol nie, maar waarskynlik ‘n rotmol.

Kontak Tshwane se natuurbewaringsdepartement by 012-341-1415 of vir Hencke Marais by 083-650-3481 as jy vermoed dat daar ‘n gouemol op jou werf is.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger