PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 May 2013 15:26
Untitled Document

Die arme kannabas gaan gebukkend onder die verkeerde Afrikaanse naam en word boonop ook nog deur leke vernietig as hulle sy Engelse naam hoor.

Iewers in die 1600’s of 1700’s het iemand ‘n Hottentot-woord verkeerd gehoor. Kanna is die Hottentot-naam vir kougoed (Sceletium), ‘n vetplant wat ‘n narkotiese effek het as sy blare gekou word. Gonna is die Hottentot-naam vir verskeie spesies in die Thymelaeaceae familie, waaronder die kannabas, Dais cotinifolia, val.

Alternatiewe Afrikaanse name vir dié boom is basboom of speldekussing, maar dis sy Engelse naam, pompom boom, wat moeilikheid gee onder diegene wat die klok hoor lui het, maar nie mooi weet waar die bel hang nie. Hulle verwar kannabas met die onkruid, pompom. Die feit dat kannabas gekenmerk word deur sy oordadige pienk pof-blomme, help ook nie as leke lees dat pompom onkruid se blomme pienk-pers is nie.


‘n Kannabas word tot ses meter hoog
Foto: Plantzafrica

Blom
Die boom blom vir drie weke in die vroeë somer, van November tot Desember, en die nuwe bloeisels lyk soos suigstokkies met groot ronde balle op lang, dun stingels. Die groen bal bars oop om baie klein pienk blommetjies in digte bosse, soos pienk poffers, ten toon te stel.

Dié blomme lok natuurlik verskeie insekte, veral bye en skoenlappers, sowel as insekvretende voëls en nektarvreters.

Klein swart saadjies word in die bodem van die blommetjies gevorm en kan ongeveer twee maande ná die boom geblom het, geoes word. As die blomtyd verby is, verhard die groen koppie wat die blom vasgehou het en word bruin. Die uitgedroogde ‘blomme’ bly vir maande aan die boom en is gesog as versierings in blommerangskikkings.

Die kannabas word ongeveer ses meter hoog. Hy is ‘n baie vinnig groeiende boom en bereik sy volle hoogte na slegs vier of vyf jaar. Die boom kan selfs in sy tweede jaar begin blom. ‘n Volgroeide boom is redelik droogte en ryp-bestand.


Die kannabas se blomme
Foto: Bronberg Bewarea

Bas
Dit is baie moeilik om ‘n tak van dié boom af te breek omdat sy bas in lang stroke afskeur. Dis dié dat hy ook die naam ‘basboom’ dra. Sy bas bevat tannien en is deur die Voortrekkers gebruik om leer te looi. Die bas word ook gevleg om sterk toue te maak.

Kannabas is ‘n veelsydige tuinboom. Hy is sterk genoeg om as straatboom wat die minimum water kry, te oorleef, maar kan ook as ‘n heining gesnoei word, kan in ‘n pot groei en kan naby aan stoepe geplant word omdat hy nie ‘n aggressiewe wortelstelsel het nie.

In sy natuurlike habitat groei die kannabas tussen ander bome aan die kant van koppies of in valleie of op die grens van dik bosse. Hier kry hulle heelwat beskerming van die ergste sonstrale en het nie baie water nodig nie. Plant jou kannabas op ‘n plek waar hy halfdag skaduwee kan kry.

Kweek
Die boom groei maklik van die saadjies wat twee maande ná hy geblom het, geoes moet word. Saai die saad in die lente of vroeë somer in saailingbakke wat met ‘n goed gedreineerde medium gevul is. Bedek die saad met stukkies bas of sand, plaas in die skaduwee en hou klam.

Jong saailinge kan in potte geplant word sodra hulle groot genoeg is om te hanteer. As jy die boom in die grond uitplant, grou ‘n groot gat van een meter by een meter en plant hom met genoeg kompos en beenmeel. Hy soek gereeld water in die somer vir sy eerste twee jaar.

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger