PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 May 2013 15:26
Untitled Document

Daar is nie ‘n manier dat jy ‘n sekretarisvoël met sy lang, kaal bene, pofbroek van swart dyvere, helder oranje gesig en regop kuifvere met enige ander voël sal verwar nie.

Daar is diegene wat sê dat dié groot grondlewende roofvoël se naam van sy kuifvere afkomstig is. Hulle sê dit is omdat dié vere hom soos ‘n outydse sekretaris met sy pen agter sy oor ingedruk, laat lyk. Ander sê weer dat die woord ‘sekretaris’ afkomstig is van die Arabiese woord ‘saqr et-tair’, wat jagvoël beteken.

Sy wetenskaplike naam, Sagittarius serpentarius, verwys klaarblyklik ook na sy penvere. ‘Sagittarius’ beteken boogskutter en dit kan wees dat sy kuifvere lyk na pyle wat bokant ‘n koker uitsteek, terwyl sy spesienaam ‘serpentarius’ verwys na die slange in die voël se dieet.


‘n Sekretarisvoël in vlug
Foto: Wikipedia

Slange
Eintlik maak slange nie so ‘n groot deel van die sekretarisvoël se dieet uit nie, maar wanneer hy een vang, is dit nogal iets om te aanskou. Hy vreet gewoonlik adders, kobras en ander giftige spesies wat met sy pote doodgestamp en heel ingesluk word.

Sy dieet bestaan grootliks uit insekte, soos sprinkane, kewers, spinnekoppe, skerpioene en perdebye, asook akkedisse, paddas, knaagdiere en voëls. Dié voëls jag deur doelgerig deur die veld te stap en met hulle voete op gras en bossies te stamp om prooi op te jaag. Alle prooi word op die grond gevang en ‘n sekretarisvoël sal elke dag tussen 20 en 30 km stap. Hulle is egter goeie vlieërs en vlieg dikwels baie hoog in die lug.

'n Paartjie sal 'n gebied van 20 km tot selfs 500 km aggressief verdedig. Hulle kan nomadies wees omdat veldbrande, droogte en oorbeweiding ‘n tekort aan prooi kan veroorsaak, en verkies grasvelde waar die gras een meter of korter is, sodat hulle ver kan sien.

‘n Sekretarisvoël word 90-150 cm hoog, en kan tot 5 kg weeg met ’n vlerkspan van 1,26-1,65 m. Die wyfies lyk soos die mannetjies, hulle is net effens kleiner.


‘n Sekretarisvoël lê rieme neer om genoeg spoed vir die opstygslag te kry by Rietvleidam
Foto: Gerhard Scheepers

Dans
Dié voëls kies ‘n lewenslange maat en pronk op ‘n manier soortgelyk aan ander roofvoëls in die lug. Op die grond dans die mannetjie en wyfie met uitgestreke vlerke om mekaar terwyl kleiner groepies sekretarisvoëls soms by die dans aansluit.

Die paartjie bou saam nes, gewoonlik op die plat kroon van 'n alleenstaande boom of groot bos, so vier tot vyf meter bo die grond. Die pieringvormige nes het 'n deursnee van 1,5-2,5 m en is 30-50 cm dik. Sy basis is stokke wat dik met wol, gras en mis uitgevoer word.

'n Paartjie gebruik dieselfde nes oor die jare en bou gedurig aan. Hulle sal net ‘n nuwe nes begin as die oue só groot word dat dit dreig om uitmekaar te val, of as die boom dit nie meer kan ondersteun nie.


Die sekretarisvoël se naam kom dalk van die kuifvere agter sy kop wat soos ‘n outydse sekretaris se pen agter die oor lyk

Broeisel
Twee tot vier eiers word oor twee tot drie dae in 'n holte in die middel van die nes gelê en broei na 42 tot 46 dae uit, met ‘n twee tot drie dae tussenpose. In groter broeisels vrek die kleinste kuiken gewoonlik van die honger, omdat die ouers 'n beperkte hoeveelheid prooi kan aandra en die kleinste nie met die groter kuikens kan kompeteer nie.

Die kuikens groei stadig: hulle kan eers ná ses weke begin staan. Teen sewe weke het hulle ‘n volledige verekleed; teen 60 dae begin die kuikens hulle vlerke oefen, en hulle bly 65-106 dae in die nes. Daarna word hulle vir nog 62-105 dae deur beide ouers versorg.

Sekretarisvoëls kan ouer as 18 jaar in gevangeskap word.


Die sekretarisvoël op die wapen van Suid-Afrika
Foto: Wikipedia

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger